Dagstukkies met Dennis Francis 10 Januarie 2019

Lukas 18:27:  #Wonderwerk

10 JANUARIE 2019

“Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmootlik is, is by God moontlik.”

Daar is baie voorbeelde wat ‘n mens kan aanhaal wat vir die mens totaal en al onmoontlik was, maar wat God moontlik gemaak het. Toe die volk, Israel, voor die Rooi See staan en die soldate van Farao agter hulle, was dit ‘n onmoontlike saak. Hulle het die dood in die oë gestaar. In Exodus 14:16 sê die Here vir Moses: “En jy, hef jou staf op en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek.”

In 2 Konings 6 het die profete se seuns gaan balke kap by die Jordaanrivier. Terwyl hulle die balke kap het een van hulle se yster van die byl in die water geval. 2 Konings 6:5 “…..en hy roep uit en sê: Ag my heer, dit is nogal geleen!” Met ander woorde die byl behoort aan iemand anders. Die profeet het ‘n stuk hout geneem en dit daar gegooi waar die yster min of meer geval het, en toe gebeur die onmoontlike, die wet van swaartekrag word verbreek en die yster dryf op die water.

God is in beheer van alles. Hy kan werk ver bo wat ons kan bid of vra. In Matteus 8:23 lees ons van hoe Jesus en sy dissipels op die see gevaar het en terwyl hulle nog so vaar kom daar ‘n sterk storm op die see op. Die storm was so erg dat die boot vol water geword het soveel so dat hulle amper besig was om te sink, terwyl Jesus rustig agter lê en slaap.

Daarop kom sy dissipels na Hom toe en maak Hom wakker en sê: Here red ons, ons vergaan! Iets groot het gebeur want toe Jesus op staan het Hy die wind en die see bestraf en daar het ‘n groot stilte gekom. Wat ‘n kragtige wonderwerk dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is. Die dinge wat by die mens onmoontlik lyk is by God moontlik.

Vrede / Shalom

Dagstukkies met Dennis Francis 9 Januarie 2019

Handelinge 19:11-12:  #Wonderwerk

9 JANUARIE 2019

“En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk het en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”

Ons dank die Here dat Hy mense as instrumente gebruik om Sy wonderwerke ten toon te stel. In Johannes 14:12 sê Jesus: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle , wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.”

Jesus het belowe dat as ons glo, groter wonderwerke sal gebeur. Paulus, eens ‘n vervolger van die Weg , maar later ‘n volger van die Weg, ervaar God se krag. God gee aan hom openbaringskennis deur hom magtig te gebruik om sy hande op die siekes te lê. Die salwing van genesing was so geweldig dat selfs die voorskote (klere) wat aan sy liggaam was op siekes gelê was en hulle het gesond geword.

Ek kan onthou nog ‘n paar jaar gelede toe ‘n bedleênde vrou haar hand op die radio gelê het, as ‘n punt van kontak, sonder dat daar vir haar spesifiek gebid was en hoe sy vertel dat sy die volgende oggend opgestaan het, onbewus van haar toestand en toe sy amper naby die kleedkamer kom, toe eers besef sy dat  sy gisteraand nog bedleênd was en hier stap sy fris en gesond. Die Here het ‘n wonderwerk gedoen. Haar geloof het haar genees.

God kan nog wonderwerke doen. Hy is nog dieselfde Jesus.  Die wonderwerkende Jesus, daarom is dit die moeite werd om op Hom te vertrou maak nie saak wat jou situasie is nie.

Vrede / Shalom

Dagstukkies met Dennis Francis 8 Januarie 2019

Matteus 21:21 : #Wonderwerk

8 JANUARIE 2019

“Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê  julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see – sal dit gebeur.”

Jesus die Seun van God was honderd persent God en ook honderd persent mens, daarom toe Hy honger word en die vyeboom langs die pad sien staan het Hy met daardie verwagting gegaan dat Hy vye aan die boom sal kry. Maar groot was Sy teleurstelling toe Hy geen vye aan die boom kry nie, maar net blare en Hy sê: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ‘n vrug kom nie! En onmiddelik het die vyeboom verdroog.

Sy dissipels was verbaas en verwonderd. Vir enige wonderwerk om plaas te vind moet daar geloof wees. Die vraag wat baie mense vra is: Wat is geloof? Heb.11:1 verklaar: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Ons vertroue en ons hoop moet so sterk in die Here wees, dat ons dit roep wat nie bestaan nie asof dit bestaan.

Joh.15:7 sê: “As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê en julle sal dit verkry.” Daarom moet ons verstaan wat die perfekte en volmaakte wil van God is sodat God die onmoontlike moontlik kan maak.

Vrede / Shalom

Dagstukkies met Dennis Francis 7 Januarie 2019

Jeremia 32:27: #Wonderwerk

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 7 JANUARIE 2019

“Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees,: sou enige ding vir My te wonderbaar wees?”

Groot Almagtige God, niks kan voor Hom stand hou nie. God gebruik Jeremia, die profeet, om sy woorde van troos tot Sy volk te spreek wat weggevoer is in ballingskap.

In Jeremia 29:11 verklaar Hy: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

(AFR83: Afrikaans 1983)

Miskien het die volk onder mekaar gesels en gewonder hoe hulle hoopvol kon wees. Hulle was in ‘n vreemde land, weg van hul huise, dit wat vir hul belangrik was en hul was in ballingskap,

Soos die bekende Boney M liedjie, Rivers of Babylon, wat weer onlangs gedurende die feestyd in winkelsentrums gespeel het, kon hul moontlik vra: “hoe moet ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?” Maar in Jeremia 29:12-13 vind hul weer bemoediging: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”

Daarom spreek Jeremia in hoofstuk 32:27: “Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees…” Met ander woorde, die Here sê vir hulle dat Hy die Skepper is, dat Hy ons vorm van die stof van die aarde. Jesus ken ons gedagtes soos Hy ook toe Sy volk se gedagtes, vrese en hoop geken het.

Hy is steeds die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is vandag jou en my God wat mense gesond maak, wat ons red, wat vir ons hoop is en gee. Sou enige ding vir Hom te wonderbaar wees?

Vrede/Shalom

Dagstukkies met Dennis Francis Opsomming Week 1

TEMA: #NUWE BEGIN

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS OPSOMMING WEEK 1 JANUARIE 2019

Dit was die eerste week in die nuwe jaar, 2019, ‘n jaar van nuwe vooruitsigte, ‘n jaar van nuwe dinamika, daarom kan ons nie met die ou dinge in die nuwe jaar ingaan nie.

Die profeet, Esegiel sê in Eseg.36:26 : “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.”

‘n Hart vol van ontferming en barmhartigheid en opregtigheid, want die hart kan bedrieglik wees.

Spreuke vermaan ons in Spr. 4:23 “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is oorspronge van die lewe.”

Daarom sê Jesaja 43:19 “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja,Ek maak ‘n pad in die woestyn en riviere in die wildernis” Met ander woorde na ons hart reg is word ons gefokus want God maak vir ons ‘n weg waar daar nie ‘n weg is nie.

Ons besef dan op nuut dat as dit nie vir die goedertierenheid van die Here was nie, ons sou om gekom het. Klaagliedere 3:22b en 23 verklaar die woord:”….want Sy barmhartigheid het geen einde nie; hulle is elke môre nuut, u trou is groot. Hoe meer dankbaar  kan ons nie wees nie?  Daarom sê Jeremia in Klaagliedere 3:24 “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.”

Met al hierdie dinge wat nuut is kan jy nie nog met die ou sondige lewe voort gaan nie, want 2 Kor.5:17 verklaar: “Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, kyk dit alles het nuut geword.”

Ons wandel is nie meer dieselfde nie, ons spraak het verander en ons toekoms planne is in die hande van die Here volgens Spr.3:6 “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.”

Dit alles, ‘n nuwe hart, nuwe weë wat gebaan is, die feit dat ons nog nie om gekom het nie en die totale omskepping in ons binneste sit ‘n huppel in ons stap, volmoed gemotiveer om hierdie jaar in te gaan met ‘n nuwe lied in ons hart. Dawid sê in Psalm 40:4 “En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou.

Mag die week se Dagstukkies ‘n seën gewees het vir julle, maar ons kyk uit na volgende week met die tema oor Wonderwerke.

Vrede / Shalom

 

Dagstukkies deur Dennis Francis 4 Januarie 2019

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 4 JANUARIE 2019

2 Kor. 5:17:#Nuwe Begin

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Na die sondeval in Genesis het die mens gelewe in die sondige natuur van ons teëstander, die duiwel. Kol.2:13 sê: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnydenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdaad vergeef het.”

So, met ander woorde, ons het die dood verdien, maar toe Christus ons misdade vergeef het, toe kry ons ‘n kans op ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe begin. Daarom verklaar Kol.3:4 : “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word,”

Kol.3:9b – 10 verklaar: “Omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het, vernuwe word tot die kennis na die beeld van sy Skepper.”

Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge naamlik: onreinheid, hartstog, slegte begeertes, gierigheid waarin ons vroeër gewandel het, het verbygegaan. Kyk, dit het alles nuut geword.

Ons spraak is nie meer dieselfde nie, want ons wandel nou in die lig en nie meer in die duisternis nie; want ons is nou beklee as uitverkorenes van God, Heiliges en Geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid.

Gal.2:20 sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Daarom is elke dag ‘n geleentheid vir nuwe uitdagings met nuwe vooruitsigte.

Vrede / Shalom

Dagstukkies met Dennis Francis 3 Januarie 2019

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 3 JANUARIE 2019

 

Klaagliedere 3:22 – 24: #NUWE BEGIN

“Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartigheid het geen einde nie; hulle is elke môre nuut;. u trou is groot. Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. (Afr 1953)

Daar was talle uitdagings in 2018. Telkens moes ons deur moeilike omstandighede gaan. Maar ons kon in die tye nog op die Here vertrou en in Hom bly hoop. Daar was sekerlike tye wat lewensgevaarlik was en waar ons kon omgekom het maar ons dank die Here vir Sy goedentierendheid wat sonder einde is.

Heb. 13:5 verklaar: “Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie”, Hy is met ons tot die voleinding van die wêreld. Wanneer ons van die volk Israel se ervarings lees, besef ons hoe standvastig die Here se liefde is en hoe nuut en vars Sy ontferming is. Dit is asof daar daagliks ‘n Nuwe Môre kom. So is dit, sonder einde.

Die lieddigter sê:

Jesus kom in die môre

Die duiwel het gedink dit is klaar met my

Jesus kom in die môre

om my nuwe krag te gee.

Vers 23 verklaar: “hulle is elke môre nuut; u trou is groot”. Elke dag is dit ‘n nuwe begin. Die Here is deel van my en ek van Hom. Daarom sal ek bly hoop want Hy is my bron van krag. Hou ook daaraan vas in die nuwe jaar, Hy is jou Nuwe Môre.

Vrede / Shalom

MAAK GOD JOU VOORNEME IN 2019

Pastoor Dennis Francis inspireer reeds die afgelope jaar personeel van Radio Tygerberg 104fm met ‘n daaglikse boodskap via die personeel WhatsApp-groepie. Voortaan sal Dennis ook in Dagstukkies met Dennis Francis boodskappe deel op sosiale media asook in die Blog op www.tygerberg104fm.co.za.

Pastoor Dennis Francis is ‘n vryskudomroeper by Radio Tygerberg 104fm en lewer Sondae die Aandboodskap en Lewe in Oorvloed-program. Die oud-Riversdaller is getroud met Shirley en het ‘n seun en dogter. Hier is sy storie.

 

MAAK GOD JOU VOORNEME IN 2019

“Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer” – Psalm 35:5

“Laat jou werke aan die Here oor,dan sal jou planne uitgevoer word.” – Spreuke 16:3

Ek het grootgeword in ‘n huisgesin van 13 waarvan ek die jongste van vyf broers was. Ek het later verneem dat as almal geleef het sou ons 19 kinders gewees het. My kinderjare op die platteland was nie maklik nie, want in daardie tyd was daar nie elektrisiteit en waterkrane nie , ons moes water aan dra en hout in die bos gaan haal. Dank die Here tye het verander en is dit baie makliker vir die mens deesdae!

Soos enige ander jongmens het ek drome en ideale gehad. Drome van “eendag as ek groot is” en ‘n lys van ideale van al die dinge wat ek graag wou bereik. So was my droom van kleintyd af om my eendag te kwalifiseer as ‘n Gesondheidsinspekteur. In 1976 matrikuleer ek aan die Hoërskool Gerrit Du Plessis op Riversdal. Dit was ‘n baie moeilike jaar want ons moes onder uitdagende omstandighede eksamens aflê as gevolg van die 1976 skole oproer.

Na skool is ek aanvaar by die destydse Pentech, vandag die Skiereilandse Universiteit van Tegnologie. In dieselfde jaar word my ouer broer, wat op daardie stadium die broodwinner was, egter as gevolg van sy betrokkenheid by die oproer in hegtenis geneem. Na my was daar nog vier susters op skool en moes ek noodgedwonge gaan werk. My drome en ideale was aan skerwe.

Baie keer staan ‘n mens voor sulke teleurstellende uitdagings en jy verstaan nie hoekom sulke dinge met jou gebeur nie. Spreuke 16:1 verklaar egter in sulke tye: ”Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die Here.”

Ek moes ongelukkig direk na skool gaan werk soek en het toe werk gekry by die Mediese Skool by Deptement Genetika as bode in Maart 1977. Op die 1ste September 1977 begin ek werk by die Deptement Farmakologie as bode en skoonmaker.

In my eerste dertien jaar moes ek my te berus op die Woord van die Here, want Psalm 37:5 het my diep geraak: “Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer.” Die oomblik toe ek heeltemal oorgee, toe maak God ‘n kragtige deur oop by die destydse Kaapse Technikon om te studeer vir ‘n Mediese Tegnoloog.

In stille berusting en vertroue daarin lê ons krag. Die Almagtige het my in hierdie tyd deur die proses gedra. Dit was ‘n baie moeilike kursus aangesien ek dertien jaar gelede op skool was. Baie van die vakke was in Engels – ‘n taal wat ons nie baie op die platteland gepraat het nie! En so het ek toe ook my eerste jaar met lof gedruip.

Dis hier waar baie mense voel om handdoek in te gooi. Ja, ek was ook by daardie punt , maar daar was mense wat in my geglo het. Dank die Here wat Sy guns aan my geopenbaar het. Een van die kragtige bemoedigings was:

“Dit is nie ‘n skande om te misluk nie, maar dis ‘n skande om te bly lê”.

Woorde soos hierdie het my swaar gemoed gelig en in 1995 is ek gekwalifiseer as ‘n Mediese Tegnoloog.

My pad het ‘n paar kronkels, grondpaaie, kruispaaie en, wat gevoel het soos afgronde, ingesluit. Maar ek het, deur Sy genade op koers gebly.

Ons staan aan die begin van ‘n nuwe jaar en moontlik het daar alreeds soveel struikelblokke oor jou pad gekom. Ek wil jou uitdaag om daardie blokke te neem en te gebruik as boustene na hoër hoogtes. Moenie bly lê as jy misluk het nie, vertrou die Here en staan op Sy word. Hy sal vir jou deurkom.

As jy dus jou lysie van nuwejaarsvoornemens maak, plaas God heel bo-aan want Sy woord sê:

“Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word”.- Spreuke 16:3

 

 

 

 

 

Dagstukkies met Dennis Francis 2 Januarie 2019

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 2 JANUARIE 2019

Jesaja 43:19: NUWE BEGIN

“Kyk, Ek gaan iets nuuts maak, nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn en riviere in die wildernis.”

Wanneer ons die vorige verse lees, veral vanaf vers 16 dan herinner God die volk Israel, wat nou in Babel in ballingskap is, dat dit Hy is wat die groot waters gekloof het.

Dit word juis gedoen om hulle geloof in God te versterk. Maar hier in vers 18 sê die woord: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.”

Ons moet dit sien in die konteks wat dit geplaas is, want dit het hulle laat dink aan die uittog uit Egipte en hier is hulle nou in ballingskap. Hoe maklik kan ‘n mens kyk op die verlede en vergeet dat God is nog dieselde wat verlossing kan bied.

Die keer is God se nuwe verlossingsdaad nog heerliker. Israel in ballingskap het aan God se groot verlossingsdade gedink en al dieper onder die indruk gekom van hulle ellende. Daarom het die profeet aan hulle gesê: “Dink nie aan die vorige dinge nie; kyk, Ek gaan iets nuuts doen. Hy is ‘n God van nuwe dinge, daarom moet hulle hul oë op die toekoms hou.

God gaan ‘n nuwe ding met hulle maak, hulle gaan ‘n nuwe uittog tegemoet, die verlossing uit Babel, gaan ‘n veel heerliker verlossingsdaad wees as dié uit Egipte. Dis ‘n nuwe jaar, 2018 met al sy omstandighede is verby, kyk sê die Here, Ek gaan iets nuuts doen. God gaan weë baan, waar daar nie is nie. Plaas jou vertroue totaal op die Here want, Hy is die God van nuwe dinge.

Vrede / Shalom

Dagstukkies met Dennis Francis 1 Januarie 2019

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 1 JANUARIE 2019

ESEG.36:26  #NUWE BEGIN

“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees weg neem en julle ‘n hart van vlees gee.”

Die woord van die Here is elke dag nuut en nuttig tot lering, tot onderwysing, tot bemoediging, tot teregwysing en tot stigting. Apostel Paulus skryf in Rom 12:2: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevalle en volmaakte wil van God is.”

Om die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God te verstaan, is dit noodsaaklik om meer van Sy woord in ons hart te bewaar. Psalm 119:11 verklaar: “Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” Wanneer die woord van die Here in ons hart gegrond is, kan die vyand nie in kom en ons lewe beheer nie, want Joh.1:1 sê:”In die begin was die Woord en die woord was by God en die woord was God.” Daarom as die woord in ons hart is dan kan niemand in ons hart beheer, behalwe die Here.

Joshua kry die opdrag in Josh. 1:8 “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy met goeie gevolg handel.”

God wil vandag daardie hart van klip uit jou binneste uit haal en ‘n hart van vlees in jou binneste gee, ‘n hart wat opreg is met almal; ‘n hart gereinig van alle dooie werke.