“Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”
In sy boek, Does your tongue need healing? skryf Derek Prince “Jou siel bevat jou hele persoonlikheid. Dit is die ware jy. Dit is waar die vyand heel eerste tot jou hart toegang verkry. As jy jou siel wil bewaak, moet jy heel eerste jou lippe bewaar.”
Jou mond en jou tong is die lewensaar wat vir jou groot seën of ondergang kan beteken. Hoe dikwels lees ons nie dat een of ander glanspersoonlikheid sê; ‘Daar is nie ’n God nie’, of ‘Ek glo nie in satan of die hel nie’. Woorde wat getuig dat daar nie geestelik insig is nie.
Ligsinnige woorde wat van ewigheidsbelang is. Hoe vreeslik moet dit nie wees om eendag in die teenwoordigheid van die Hemelse Koning verantwoording te doen oor sulke los praatjies nie! Wees ’n lewende voorbeeld en meet en weeg jou woorde omdat jy weet dat daar vir jou ’n strenger maatstaf is omdat jy die Waarheid ken. Laat jou woorde elke dag ’n getuigskrif wees van die ware jy wat daarna streef om meer en meer soos Jesus te wees.
Verlede jaar het evangelis Angus Buchan ‘n It’s Time-geleentheid in Mitchell’s Plein gereël in samewerking met Radio Tygerberg 104fm asook die ander Christenstasies, CCFM, Radio Kansel en Radio Disa in die Kaap. Die doel: om vir reën te bid om die damvlakke in die Kaap – wat op daardie stadium rampspoedig laag was – te verhoog. Meer as 150 000 mense het die geleentheid in die Swartklip Sportterein, Mitchell’s Plein bygewoon. Tot groot verbasing van die inwoners en veiligheidsmagte was daar geen insidente op die dag nie en het verskeie bendelede hul harte vir die Here gegee.
Oom Angus het na Mitchell’s Plein as die “Flower of Cape Town” begin verwys en nou is daar ‘n gedenkmuur opgerig om almal te herinner aan die wonderwerke wat op die dag in Mitchell’s Plein plaasgevind het. En daar was baie. Benewens geen geweld en die siele wat op die dag vir die Here gewen is, was dit ‘n eerste vir verskeie kerke, pastore, Christenradiostasies en ander media om saam te werk, die rekordtyd waarin die geleentheid gereël is met net die regte mense in poste waar dringende besluitneming vereis is, die ongelooflike koste verbonde aan so ‘n geleentheid wat sonder enige formele fondsinsamelings ge-in is en die genade reën wat uitgesak het toe Oom Angus op die verhoog klim, is maar net ‘n paar van die onverklaarbare wonderwerke wat beleef is. Die positiewe dekking wat die geleentheid in die media geniet het, kan ook nie misgekyk word nie. Elke deelnemer aan die geleentheid was uitgesoek vir ‘n tyd soos dit. Ook hier moet die Hand van God nie misgekyk word nie: of dit ‘n Bloemfonteinse boer was of ‘n instaan verslaggewer, elkeen was perfek vir sy rol. En die reën het gekom, en die damme is vol.
Die gedenkmuur is om te herinner aan God se teenwoordigheid, Sy genade, Sy grootheid. Om vir ons kinders se kinders ‘n teken van hoop te bly en vir die mense van Mitchell’s Plein te herinner dat hulle ‘n deurbraak beleef het en moet bly pleit vir meer.
Elize Parker het met pastoor Theo Roman gesels na die opening van die Flower of Cape Town Gedenkmuur. Hy was een van die sleutelrolspelers tydens die projek. Luister vir meer:
Die Flower of Cape Town Gedenkmuur staan op ‘n grasheuwel in Westridge Gardens in Mitchell’s Plein en is duidelik sigbaar vanaf Morgenster Straat, een van die hoofstrate in Mitchell’s Plein.
Dit het nege weke geneem om die gedenkmuur te voltooi en onder meer is 2 ton staal gebruik om die beton konstruksie te verstewig en in stand te hou vir toekomstige generasies.
Luister gerus na die onderhoud wat Sedrick Taljaard met die ontwerper en bouer van die Flower of Cape Town Gedenkmuur Pastoor Isaac Humdulay oor die simboliek agter die verskillende elemente van die muur gevoer het. Sy assistent op die projek was Gerard Riffel.
Die proklamasie wat onder leiding van Pastoor Theo Roman hardop voorgelees en opgesê is deur almal teenwoordig.
Van links staan Petrie Smit (Graham Power Construction); Ashley Potts (Cape Town Drug Counselling Centre); pastoor Barry Isaacs, pastoor Owen Hendricks; pastoor Isaac Hamdulay (onterwerper & bouer); pastoor Theo Roman; biskop Mark Bloemstein en Hardus Zevenster (Radio Tygerberg 104fm).
Na 20 jaar in die radiobedryf is hierdie ouma nog jonk van gees en volstoom aan die gang! Lorrein Katzke is ‘n bekende en geliefde stem oor die klankgolwe van Radio Tygerberg en met haar skerp sin vir humor, heerlike kosresepte en pittige sêgoed ‘n groot gunsteling onder personeel en luisteraars! Boonop spel sy ‘n hond uit ‘n bos uit en as Mevrou Dokter ook ‘n wonderlike bron van mediese kennis!
Lorrein is oorspronklik van Johannesburg en vertel dat radio vir haar gekies het en nie anders om nie! Wanneer sy so terugkyk na al die jare in radio, is sy nie vir een oomblik spyt nie. “Ek het in ‘n noodgeval ingespring en as omroeper uitgehelp en net nooit weer opgehou nie,” lag sy. Sy verklap wel dat wat sy vandag van radio weet is als te danke aan haar mede-kollega, Anton Brink. “Hy is mos die Oggendrooi-aanbieder wat op 6 November verjaar”, knipoog sy (Anton noem sy geboortedag tydig en ontydig en die datum is nou sinoniem met die man!).
Lorrein is getroud met dr Johan Katzke en vier volgende jaar hul 40ste huweliksjaar! Hulle het drie seuns waarvan die middelste kind reeds vir hulle in die hemel wag. Die vreugde van hul lewe is hul twee pragtige kleinseuns en natuurlik die samesyn van familie waarvan hul kuiers saam vir Lorrein en Johan baie kosbaar is.
Op weeksdae skuif Lorrein tussen 12:00 en 15:00 agter die mikrofoon in vir haar program #Kuiertyd. Hierdie program is bekend vir die musiekmandjie asook vir die immergewilde Focus on the Family-insetsel. Lorrein se droom vir die Wes-Kaap is juis vir teenwoordige pa’s wat betrokke in hul kinders se lewens is.
Lorrein het ook ‘n program met die naam Draaipunt wat haar na aan die hart lê. Sy het Draaipunt ‘n paar jaar gelde begin en die stories en getuienisse het haar menigmaal in trane. Met elke opname word sy herinner aan die grootheid en genade van God.
As mens vir Lorrein vra wat sy graag in hierdie wêreld wil agterlaat sê sy: “Ek sou graag wou hê dat mense my eendag moet onthou aan een ding: my liefde vir God en omgee vir my naaste.”
Lorrein is hierdie week ons skrywer van Dagstukkies met Lorrein met die baie gepaste tema vir hierdie woordsmit, #Woorde.
Die wenspan onder leiding van Liandri Laubscher is: Tiano de Sousa, Emihl Rossouw, Paul Esterhuizen, Iwaan Bloys, WP Humphries, Franko Van Wyk, Juf Liandri Laubscher, Pierre van Zyl, Zac Louw, Andre de Goede. Nie op foto Dandre Jansen van Nieuwenhuizen.
Die derde Radio Tygerberg 104fm #VREESloos is pas in die bed gesit en vanjaar was dit ‘n kop-aan-kop stryd met die Hoërskool Durbanville wat uiteindelik as wenners van #VREESloos2019 aangewys is. Die skool het R30 000 van Radio Tygerberg 104fm ontvang.
Die #Durbies het ook die sosiale media prys van R5000 van AWSUM gewen met hul wen-video wat in minder as 24 uur meer as 2 200 keer gekyk is. Hul het die baie belangrike en ernstige onderwerp van geweld teen vroue en kinders in hul video uitgelig en bewustheid vir die organisasie, One Billion Rising met hul veldtog, #VREESloosVirVroue geskep.
Hoërskool DF Malan is aangewys as die wenners van die Zone Fitness trapfiets-uitdaging. Vanjaar het vyf skole deelgeneem aan die baie gewilde #VREESloos-uitdaging van Radio Tygerberg 104fm waar leerders uitgedaag word om hul vrese te oorkom en as gelowiges, die wêreldse uitdagings met moed en deursettingsvermoë aan te vat. Deur in spanne saam te werk, op ander te vertrou en mekaar te motiveer word eenheid en spangees ook bevorder. Skole kies ook ‘n saak wat bewusmaking kry gedurende die uitdaging en moet sosiale media effektief gebruik om dit te kommunikeer. Benewens Hoërskool Durbanville en DFM, het Hoërskool Stellenberg, Tygerberg asook Bellville aan die uuitdaging deelgeneem.
“Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”
Hierdie skrifgedeelte word baie keer gelees wanneer die offer gedoen word. Wat die offer betref het die mens ‘n keuse of hy wil gee of nie. Ek sê altyd wanneer dit kom by die gee van jou tiende, dan is daar nie ‘n keuse nie, want of jy nou kwaad is, of gee met ‘n onwillige hart; die tiendes behoort aan die Here. Maleagi 3:10 verklaar: “Beproef My tog hierin, sê die Here van die Leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle oorvloedige seën sal uitstort nie.”
Wanneer ons die offer bring, moet ons dit doen met ‘n blymoedige hart, ‘n hart vol dankbaarheid. Daarom sê 2 Kointiërs 9:7 “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem…” Met ander woorde, dit moet ‘n hartsbesluit wees, jy moet daardie gemoedsrus hê. 2 Korintiërs 9:7 sê voorts: “… Nie met droefheid of uit dwang nie…” Dit geld ook vir iemand wat sy hart vir die Here wil gee. Hy of sy moet dit gee sonder om gedwing te word, want in die geval van die offer, het God ‘n blymoedige gewer lief.
“Prys die Here om die eer van Sy Naam! Kom na Sy voorhowe toe, bring vir Hom offers! Buig voor die Here by Sy heilige verskyning; betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.”
Dawid besef opnuut die pad waarlangs die Here hom gelei het en wat hy op sy pad ervaar het. Daarom spreek hy met vrymoedigheid en sê: Gee aan die Here. Die feit dat ons aan die Here gee, die Een wat Sy lewe vir ons gegee het, sodat ons kan lewe. Dit was die hoogste offer, die offer op Golgota. Johannes 3:16 verklaar: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
God het Sy alles, Sy eniggebore Seun gegee, daarom sê Dawid: “Prys die Here om die eer van Sy Naam! Kom na Sy voorhowe toe, bring vir Hom offers! Buig voor die Here by Sy heilige verskyning; betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.”
Dit is belangrik dat ons ook ons alles op die altaar moet plaas, dat die woorde van ons mond aanneemlik en welbehaaglik sal wees by God. Spreuke 19:17 sê: “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.”
“Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.”
Dit word van elke gelowige verwag om nooit op te hou om goed te doen nie. Spreuke 25:21-22 verklaar: “As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink. Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en die Here sal jou dit vergelde.” Daarom moet ons waak soos Spreuke 11:1 verklaar: “ ‘n Valse weegskaal is vir die Here ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae.” Ons moet dus nie ‘n weldaad terug hou aan die wat dit toekom nie. Hebreërs 13:16 lui: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.”
Hoe maklik vergeet ons van ‘n weldaad wat na omgesien is? Daarom sê die Woord: “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” God het ‘n welbehae in opregtheid van hart, ‘n hart vol van blydskap en dankbaarheid. Filippense 4:19 sê: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na Sy rykdom en heerlikheid deur Christus Jesus.”
“Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”
Baie keer wanneer ‘n mens kom om te offer kyk mense na die realiteite. Jy kyk na wat jy nog moet betaal. Indien jy dit gaan offer, gaan jy genoeg geld het om van te lewe? Dis geen wonder Jesus sê in Matteus 6:34 “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” In Lukas 21:1 sê Jesus: “En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.” Baie van hulle het uit hulle oorvloed ingegooi. Baie het ingegooi omdat hulle gesien wou word. In die tweede vers lees ons van die arm weduwee wat haar laaste twee geldstukkies ingegooi het.
Sy het haar laaste gegee, uit haar armoede, maar met ‘n opregte hart. ‘n Hart van dankbaarheid. Moontlik was sy dankbaar vir haar gesondheid. Baie keer kom ‘n mens voor moeilike besluite te staan, veral as jy weet dit is al wat jy het en jy weet nie waar jy môre gaan regkom nie. In Matteus 6:33 verklaar Jesus: “Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Ons moet in geloof wandel want Jesus sê: “Waarlik, ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.”