Dagstukkies met Naas 10 Desember 2019

                                 

 Genesis 46:2-3:  #Droom

En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê:  ‘Jakob, Jakob!’  En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy:  ‘Ek is God, die God van jou vader.  Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak.”

Ons het gister gesien hoe God die mens besoek in ‘n droom om hom te waarsku. Vandag sien ons hoe God vir Jakob besoek in ‘n droom om ‘n totale verskillende rede.  God roep vir Jakob terwyl hy slaap en onmiddellik antwoord Jakob “Hier is ek”. Wat hy daarmee te kenne gee is: hier is ek, Here, praat maar ek luister. Is dit ook ons gesindheid wanneer God met ons praat, of hoor ons partykeer nie so lekker nie? Ek vra sommer maar…

Dan sê God vir hom wie Hy is. Hy stel Homself bekend as die God van sy vader Isak. Duidelik het Jakob geweet wie hierdie God is. Isak het hom vertel van hierdie wonderwerkende God. Isak was immers op die altar, gereed om geoffer te word, onthou jy?  Toe Jakob dus die stem van God hoor, het hy presies geweet wie hierdie God is. Die volgende strofe bevestig dan ook dat Jakob op een of ander stadium tot hierdie God van sy vader gebid het vir raad. Eerstens seker oor die groot stuk onsekerheid wat skielik voor hom lê, en ook omdat hy dalk bietjie bang was vir die lang reis wat voorlê. Daarom dan die vertroostende woorde dat hierdie God wat sy vader van ‘n offer dood gered het, hom ook sal beskerm met die woorde “Moenie bevrees wees nie”.  Moenie bang wees nie. Dieselfde woorde wat Jesus ook aan Sy dissipels gesê het tydens die storm op die see van Galilea!

Nadat Jakob die vertroosting ontvang het om nie bang te wees nie, kom die belofte van God af dat Hy self vir Jakob ‘n groot nageslag gaan gee! Jakob, wat deur omstandighede gedwing word om af te trek na Egipte, word gehoorsaam aan God en ontvang dan ook die belofte van die seën wat op hom sou wag wanneer hy in Egipte aankom.  Deur sy gehoorsaamheid aan God – soos sy oupa Abraham en sy vader Isak – word Jakob deel van die Naam wat God self aanhaal wanneer Hy later na Homself verwys as die God van Abraham, Isak en Jakob.

Jy sal onthou dat niks tussen Abraham, Isak en Jakob se gehoorsaamheid aan God kon kom nie. Niks was belangriker nie.  Daarom ook Samuel se woorde aan Saul: “…Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme…” (1 Sam 15:22).

Kom ons wees gehoorsaam aan God om te lewe soos Hy van ons verwag!

Dagstukkies met Naas 9 Desember 2019

       

  Job 33:14 – 18:  #Droom

Want God spreek op een, ja, op twee maniere, maar die mens let nie op nie.  In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mens val tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg, sodat Hy sy siel kan red uit die kuil en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.”

Van die vroegste tye af leer ons dat God baie keer met die mens gespreek het deur drome. Dis vandag nog die geval. Hoeveel keer het jy al ‘n droom gehad net sodra jy insluimer? Nog voor jy vas slaap! Dan weer met ander tye wanneer jy diep in droomland is.  Dis waarvan Job praat in hierdie gedeelte.

Ons weet dat Job die oudste boek in die Bybel is. Ja, jy het reg gelees.  Job is die oudste boek van die Bybel. Nie Genesis nie. Nou sê Job, God praat met die mens deur naggesigte as diepe slaap op hom val, maar ook voor hy diep slaap, net sodra hy insluimer op die bed. Daar is dus spesifieke redes waarom God met die mens praat.

Wanneer ek hierdie gedeeltes lees in Job 33 vanaf vers 14, word ek net weer opnuut bewus van God se absolute liefde en belangstelling in die mens. Sy begeerte om met Sy kinders te kommunikeer. Grotendeels ook omdat Hy die mens liefhet en bekommerd is oor sy welstand soos dit ‘n goeie Vader betaam.  Daarom dan juis die waarskuwing in hierdie gedeelte teen verkeerde gedagtes en dade, en hier praat Job spesifiek van trotsheid. Hoogmoed. God besoek die mens in sy slaap om hom te waarsku teen hierdie dinge wat hom sy lewe kan kos. Let op wat Job sê in vers 18. “Sodat Hy sy siel kan red uit die kuil en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie!”

In Spreuke 16:18 lees ons “trotsheid kom voor die verbreking en hoogmoed kom voor die val”.  So sal dit dan wees met die trotsaard. Met die hoogmoedige. Jesus sê self in Matteus 11:29 dat Hy, wat Jesus is, sagmoedig is en nederig van hart.  Jakobus skryf in hoofstuk 4:6 “…daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

Kom ons besluit vandag om, met God se genade, onsself nie beter te ag as ‘n ander nie. Daar is ‘n ou koortjie wat ons gesing het toe ek jonk was met die titel “te wees soos Jesus”.  Kan ek vra dat dit ons begeerte sal word om te wees soos Jesus…

 

Naas se #droom van Restoration vir die Kaap

‘n Nuwe stem op die 104FM-klankgolwe droom van herstel en oorgawe van die Kaap, is aan die brand vir Jesus en doen dit alles musiekinstrument onder die arm! Ontmoet pastoor Naas van Tonder.

Naas van Tonder, of te wel Ignatius,  is ‘n passievolle en vurige man vir die Here.  Ignatius beteken vuur so jy kan niks minder verwag nie.  Gebore en grootgeword in Pretoria, is dit hier waar Naas ook regte studeer het.  Na sy bekering in 1994 het hy besluit om Teologie aan te pak.  Die groot rede waarom Naas in die bediening ingegaan het is dat hy besef het hoe groot die oes is en hoe min die arbeiders is.  Ook het hy besef hoe belangrik siele vir God is.  Naas het weer uit voltydse bediening beweeg en werk nou vir ‘n maatskappy wat spesialiseer in ontwerp en projekbestuur maar is ook die pastoor van sy eie bediening bekend as “Restoration”.

Die Here het vir hom ‘n visie gegee van ‘n groot breekwatermuur wat skepe beskerm van die see terwyl hulle gerestoreer word en hy het daarna presies geweet wat sy skeppingsdoel is!   Hierdie bediening se fokuspunt is om mense wat iewers in hul lewe seergekry het en waar die vyand kom steel het, weer heel te maak deur hulle te herinner aan Jesus se liefde en plan vir hul lewe.  ‘n Ander tak van hierdie bediening is kampe wat elke paar maande gehou word met die naam “Camp Restoration”.

Naas is getroud met ‘n pragtige vrou en helper in sy bediening, Helene, en het vier kinders en vier kleinkinders.  Hy geniet kamp en ry graag fiets.  Hy is talentvol en speel ses instrumente wat klavier, dromme, kitaar, orrel, trompet en die trekklavier insluit.

Naas se droom is dat nie net die hele Wes-Kaap nie maar ook die hele Suid-Afrika tot inkeer sal kom en na God sal draai.  Naas is hierdie week ons skrywer van Dagstukkies met Naas met die tema #Droom.

 

 

 

 

 

 

 

Dagstukkies met Hugo 6 Desember 2019

 Openbaring 4:2-3#Kleur

“Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar iemand.  Sy voorkoms was soos opal en karneool.  Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.”

Op die troon sit God die Vader.  En Johannes het ’n gebrek aan woorde om die heerlikheid en skoonheid en heiligheid van God te beskryf!  Selfs al was sy pallet gevul met elke kleur van die reënboog, of met die glans van smarag.   So heerlik en rein en oorweldigend is die teenwoordigheid van God, die aangesig van God, dat Johannes met min woorde aan die hand van ’n paar kosbare edelstene God beskryf.  Opaal, karneool en smarag.  En tog lê daar in elkeen van hierdie edelgesteentes betekenis opgesluit.  Opaal – deursigtige steen soos ‘n diamant – ‘n simbool van heiligheid, heerlikheid, skoonheid en suiwerheid.  Karneool – ‘n rooi steen wat iets van Goddelike oordeel uitbeeld.  Smarag groen, genade en goedheid.

Vanaf die troon regeer God oor dit wat in die hemel aan die gebeur is, maar Hy regeer ook oor die skepping en regeer oor ons, sy skepsels.  Alles is in hul bepaalde skeppingsorde.  Hy is ten volle in beheer!  En tog in die warboel van die uitdagings van ons hedendaagse lewe, en ‘n wêreld wat lyk of dit uitmekaar val, vra die mense vra oor waar God is?

God is steeds op Sy troon.  Hy vrywaar ons nie van lyding nie,  maar Hy staan by ons.  Hy hou nie alle laste van ons af weg nie, maar Hy dra dit saam ons.  Hy het die dood nie uitgeban nie, maar Hy het wel die mag daarvan gebreek.  God het nie gekom om ons leed weg te neem nie.  Hy het ook nie gekom om ons leed te verklaar nie.  Hy vul net ons lewe en ons leed met Sy teenwoordigheid.

Die Here Jesus bemoedig Sy volgelinge: “Hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Ons word in die brief aan die Hebreërs daaraan herinner dat “daar ook niks in die skepping is wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.” Heb 4:13.  Ons dien ‘n kleurvolle, soewereine God, wat die begin tot die voleinding ken en nooit deur wêreldgebeure verras word nie.

Netso is Hy ten volle bewus van die gebeure in ons individuele lewens.  As Christus se volgelinge erken ons egter dat ons perspektief altyd beperk is. Daar is ’n groter prentjie wat ons dikwels nie kan sien nie. God is steeds op Sy troon en Sy planne en doelwitte sal seëvier. Die hele geskiedenis is op pad na die dag wanneer “elke knie sou buig, en elke tong sou erken:  ‘Jesus Christus is Here!” Fil 2:10-11.

Dagstukkies met Hugo 5 Desember 2019

 Markus 9:2-3#Kleur

Toe het Sy voorkoms voor hulle oë verander, en Sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.

Die Bybel sê dit is moontlik vir elke gelowige om die Here se heerlikheid te sien. In werklikheid sê God dat Hy Sy heerlikheid sal openbaar aan almal wat Hom daarvoor soek. Die openbaring van Sy heerlikheid is bedoel om ons toe te rus vir die storms van die lewe.  “…Sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.”  Wit is ‘n kleur, dit bevat alle kleure van die spektrum, maar wat presies is God se heerlikheid, en hoe lyk dit?  In eenvoudige terme is God se heerlikheid ‘n openbaring van Sy natuur en Sy karakter eienskappe. Wanneer die Here kies om aan ons Sy heerlikheid te wys, is dit ‘n openbaring van hoe Hy wil hê ons Hom moet ken.   Toe die Here vir Moses gestuur het om Israel te verlos, het Hy aan hom gesê, “Gaan en sê EK IS stuur jou.” Maar hy het geen verduideliking gegee van wie “EK IS” was nie.  Daarom het Moses uitgeroep, “Laat my tog u heerlikheid sien” (Exodus 33:18).   Moses het ‘n honger gehad om te weet wie die groot EK IS was en wat die kern van Sy natuur en karakter is.   God het Moses se gebed beantwoord.

Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.   Jy sien, wanneer God sy heerlikheid openbaar, en Sy voorkoms voor hulle verander, en Sy klere blink word, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie, het Hy ‘n doel daarmee.   En Hy het toegelaat dat mense Sy heerlikheid sien, sodat die mense, deur die begrip daarvan, verander kan word.  Dieselfde is vir ons waar vandag.  God openbaar Sy heerlikheid aan ons sodat ons gerusgestel kan word in ons daaglikse wandel.  Jesus Christus is die uitdruklike beeld van God. Die Vader het Sy hele karakter in die Seun opgesom. Toe die Here vlees geword het, was dit die volle openbaring van God se natuur, Sy genade, Sy goedheid en Sy gereedheid om te vergewe. Dieselfde is waar vir enigiemand wat die openbaring van God se heerlikheid ontvang. Ons wat in Christus is, is bedoel om verander te word in die uitdrukking van God se liefdevolle, vergewende, genadige natuur.

Paulus sê dat wanneer ons God se sien, dit krag het om die een wat Hom sien, te verander: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korintiërs 3:18).Hou aan om God se heerlikheid te soek totdat die openbaring daarvan in jou oopbars!  Die eerste effek van God se heerlikheid is ‘n verandering in ons verhouding met Hom.  Mag jy so aangeraak word deur God se heerlikheid wat jou lewe aanraak, deur dit wat jy sien en beleef — hoe genadig, geduldig en liefdevol God is met sy kinders, selfs hulle wat Hom bedroef het — dat jy in verwondering Hom sal aanbid.  Die kennis van die glans van Sy heerlikheid, Sy natuur en karakter, dra ons na ‘n plek van totale rus. Inderdaad, wanneer ons eers hierdie openbaring van God se heerlikheid het, het ons nooit weer nodig om te vrees nie. Vir die wat God aanbid, hulle sien Sy heerlikheid in Sy liefde teenoor mense en hulle gryp daardie heerlikheid vas om hulle besorgde siele te laat bedaar.

Dagstukkies met Hugo 4 Desember 2019

 Psalm 52:10#Kleur

Maar ek sal wees soos ‘n groen olyfboom in die huis van God; ek vertou op die goedertierenheid van God vir ewig en altyd.”

Dawid kom gee ‘n onderwysing uit Psalm 52, wat beteken dat ons fyn op die uitkyk moet wees vir die les wat ons hieruit kan leer.  Hy gebruik die beeld van ‘n olyfboom, en die groen olyfboom simboliseer hier hoofsaaklik getrouheid en standvastigheid.  Ongeag die omstandighede: warm, droog, koud, nat, rotsagtig of sanderig, die immergroen olyfboom bly aan die lewe en lewer sy vrug op sy tyd.  Dis so ‘n mooi beeld vir die wat verbind is aan Christus, wat die volheid van Sy heerlikheid en liefde ervaar, en vrug dra wat daarby pas.

Daar word gesê dat ‘n mens ‘n olyfboom nooit kan uitroei nie. Selfs al word dit afgekap of verbrand sal daar altyd nuwe lote uit sy wortels groei.  Hierdie Psalm herinner ons daaraan dat ongeag die lewensomstandighede, ons standvastig soos die olyfboom in die teenwoordigheid van God moet bly – immergroen, getrou, en besig om vrug te dra.  Daar is soveel vreugde wat ontdek kan word in God se teenwoordigheid.  Dis die enigste plek waar ware blydskap, ewigdurende blydskap, wat nooit uitgeroei kan word, ontdek word – in die teenwoordigheid van God.

Psalms 16:11:  ‘U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie. U gee altyd vir u kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.’   Psalm 16 sê: – “in Sy teenwoordigheid is daar volheid van vreugde.”  Die geheim is om so te leef dat jy tyd maak om in God se teenwoordigheid te leef.  Dit beteken alleentyd, aanbiddingstyd, stiltetyd, tyd in die Woord van God, gebedstyd, ‘n leefstyl van afsondering voor God, te midde van die gejaag en bedrywighede van jou daaglikse lewe.  Soms voel dit onmoontlik, veral as ‘n vloedgolf van swaarkry jou tref, want die lewe gebeur.   ‘n Groot geheim, liewe groen olyfboom, is om jou met geloof te omgord.  Om jou liefdevolle Vader te vertrou in alle omstandighede, maak nie saak wat jou pad langs kom nie. Tog is dit nie ‘n outomatiese refleks nie, dit is ‘n keuse. In der waarheid, wanneer pyn op sy ondraaglikste is, moet ons kies om in geloof na God uit te roep.  Want dit is in Sy teenwoordigheid wat ons groei, wat ons sterk staan en wat ons geloof versterk word, sodat ons vrug kan dra.

Gemeenskapsnuus – 3 Desember 2019

G E M E E N S K A P S N U U S
D I N S D A G   03  D E S E M B E R   2 0 1 9

4  DESEMBER  2019 BLESSED HOPE VOLLE EVANGELIE KERK

 

Blessed Hope Verslawing & Familie Ondersteuningsgroep hou ‘n Dankdiens vir Verslaafdes en geaffekteerde families  Waar: Blessed Hope Volle Evangelie Kerk, Cradock Straat, 154, Steenberg     Tyd: 19h30

Kontak: Yusuf Gamieldien by 071 897 4018

 

6 DESEMBER  2019 RAINBOW OF HOPE

 

Rainbow of Hope hou ‘n Fondsinsamelingskonsert met Amy Jones, Monique Hellenberg en Ander, Waar: Langstraat 44, Kaapstad,   Tyd: 20h00     Koste: R320p/p

Kontak: Rainbow of Hope by (021) 591 6610

 

6 DECEMBER   2019 LOFDAL WORLD PRAYER CENTRE

 

Lofdal World Prayer Centre presents Release the Sound with Shekinah Dance Ministries & many Others      Where: Lofdal World Prayer Centre, Bloekombos Kraaifontein   Time: 19h30  Cost: R50

Contact: Clayderman on 074 687 4825

 

7 DESEMBER  2019 PAROW SENIOR SENTRUM

 

Parow Senior Sentrum hou ‘n Feestyd Mark Dag met  Kosstalletjies, Arts & Crafts, Kindervermaak  en vele meer!   Waar: Parow Sentrum, Bedford Straat 62, Parow

Tyd: 08h00-15h00  Stalletjies: beskikbaar @ R150

Toegangsfooi: R5, Kind/o/12jr. gratis

Kontak: Amanda by 081 746 8694

 

7 DESEMBER  2019 DELFT GEMEENSKAPSFORUM

 

Delft Gemeenskap, SAPS & Delft Ministers Fraternal hou ‘n Gebed, Sport & Familie Dag met Tema “Operation Festive Season”

Waar: Delft Sportsveld   Tyd: 09h00-17h00                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                            Kontak: Mnr. Esau by 073 723 7687

 

7 DESEMBER  2019 JUNK & VINTAGE MARK

 

Junk & Vintage Mark met wit olifante, vele interessanthede en verversings

Waar: Kerksaal, Alexanderstraat 3, Stellenbosch   Tyd: 09h00-13h00                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                              Skakel: 071 368 4164

 

8 DESEMBER  2019 NATASHA FICK BEDIENING

 

Sy staan in Verhouding met God Fondsinsameling vir Musiek Instrumente, met Past. Natasha Fick, Phillipine en vele Ander      Waar: Somerset Wes Stadsaal   Tyd: 14h00   Koste: R50p/p

Kontak: Judith by 076 813 5398

 

11 DESEMBER  2019 HELDERBERG HOSPICE

 

Helderberg Hospice & Bevan Sylvester hou Kersliedere by Kerslig

Waar: Vergelegen Wynplaas   Tyd: 17h00    Koste: R110 volw, R50 kind/o/16jr.

Kontak: Natasha by (021) 852 4608 of 076 062 5855

 

14 DESEMBER  2019 PARKWOOD TALENT SEARCH

 

Parkwood Talent Search presented by Brenda & Lionel with Sing, Dance & Rap (Age Group 11-17 & 18+)      Where: Blackbird Avenue, Parkwood Netball Court        Time: 14h00

Contact: Brenda on 064 075 7278

 

22 DESEMBER  2019 COMMUNITY FAITH CHURCH

 

Community Faith Church presents A Christmas Carols Night Market     

Where: CFC Grounds, 32 Rottendam Road, Silversands        Time: 17h30 – 22h00

Contact: Keanen Erasmus on 084 569 6618

 

 

Werkverskaffing – 3 Desember 2019

W E R K V E R S K A F F I N G
D I N S D A G    3  D E S E M B E R    2 0 1 9

Die Werkverskaffingsbulletin word elke Dinsdag om 10:40 uitgesaai op 104fm.

VERSORGER/SKOONMAKER CARER/CLEANER
 
Vereistes: Versorger/Skoonmaker benodig met sober gewoontes en kontakbare verwysings.

Kontak: Maria by 081 502 6887 (tussen 09h00-17h00 verkieslik)

 

VERPLEEGKUNDIGE NURSE

 

Vereistes: SARV Geregistreerde Professionele Verpleegkundige benodig by Huis Andries Hamman, Worcester, met goeie kennis van bejaardes en persone met gestremdhede se fisiese, psigiese en liggaamlike gesondheidstoestande en  benadering, goeie rekenaarvaardighede, kennis/toepassing van geskeduleerde medikasie en bestuurslisensie. Diensaanvaarding: 01 Maart 2020

Epos CV aan Die Bestuurder: Mev. Liezel du Toit: bestuurderhah@telkomsa.net

 

PSIGOMETRIS  PSYCHOMETRIST

 

Requirements: Foundation for Alcohol related Research (FARR) needs a Psychometrist with 2yrs exp. in psychometric testing, registered as a Psychometrist (Independent Practice with the HPCSA) fluent in Afr& English with good writing skills essential. Computer literacy (MS Office Package) must be detail orientated, assertive and professional. Valid drivers license, willingness to travel alone throughout SA.

Email CV, proof of registration, qualifications, 3 contactable references to hrm@farrsa.org.za

 

VAKATURE VACANCY

 

Vereistes: Internship Admin/QC persoon benodig, verkieslik jong dinamiese dame 18-28jr) met matrieksertifikaat, basiese rekenaar vaardighede en naskoolse opleiding. Asook Internship Marketing Manager (18-28jr) met naskoolse kwalifikasie in Bemarking Bestuur.

Skakel of whatsapp 083 634 7525

 

TENTMAKER TENT REPAIRER

 

Vereistes: Tentmaker/ Tent Hersteller benodig met basiese ondervinding in tent herstelwerk en moet met ‘n Stikmasjien kan werk, pos onmiddellik beskikbaar vir geskikte kandidaat.

Kontak: Henri by 072 443 6626

 

SEKURITEITS WAGTE ARMGUARDS

 

Requirements: Armguards needed with valid fire arm competency, must be PSIRA registered, with clear criminal record and sober habits.

Contact: Dalene on 084 405 0249

 

DRYWER DRIVER

 

Vereistes: Drywer word benodig vir aflewering van aandetes aan kliënte, met netjiese voorkoms, eie vervoer en stiptelikheid. Moet kan werk met Google Maps. Betaling R10p/aflewering.

Kontak: Vanessa by 062 832 1982 (stuur asb. whatsapp of voice note) moenie skakel nie.

 

ONDERWYSERS TEACHERS

 

Requirements: Liesbeeck Primary School, Mitchells Plain needs the following Educators: 2x Grade 1; 2x Grade 2; 1x Grade 3; 1x Grade 5; 1x Grade 7. Must be qualified Phase Educators, sound knowledge of CAPS, support learners with special needs, good classroom management, computer literate, registered with SACE, knowledge of Maths Green Shoots, have organizational, motivational and conflict resolution skills, good record of attendance and punctuality.

Send CV and short application letter to the Principal at liesbeeck@mweb.co.za

 

Poste moet asseblief teen Maandae 11:00 gestuur word na reception@104fm.co.za

 

Radio Tygerberg 104fm bied ’n gratis platform vir werkgewers om beskikbare poste te adverteer. Ons probeer so ver moontlik verseker dat die werksgeleenthede wat geadverteer word, betroubare inligting deurgee.Neem kennis dat Radio Tygerberg 104fm nie verantwoordelikheid aanvaar vir enige skakeling, onderhandelings of enige ander legitieme sake tussen betrokke partye wat mag voortspruit op hierdie platform nie.

Dagstukkies met Hugo 3 Desember 2019

 

 Eksodus 24:10#Kleur

En hulle het die God van Israel gesien en onder Sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.”

Waar sal ‘n mens begin om die grootheid van God te beskryf?  Miskien is ‘n eenvoudige opkyk na die hemelruim ‘n vertrekpunt.  Op ‘n pragtige sonskyndag is die hemele blou. Saffier is ook ‘n skakering van blou, en hier in Eksodus 24 is ‘n paar mense wat God se heerlikheid so aanskou het en ‘n poging aangewend om dit te beskryf.  Met ‘n opkyk!  En onder Sy voete was dit wat hulle aanskou het net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.  Wat ‘n gesig!  Dalk is dit ook vir jou ‘n vertrekpunt van waar jy jouself op die oomblik bevind.  ‘n Opkyk aksie!  Want opkyk beteken ook wegkyk van al die omstandighede rondom jou.  Juis van daardie dinge hieronder wat jou aandag steel. Wat jou fokus op die mooi dinge verdof.  Dinge wat jou nie in verwondering bring nie, maar eerder jou van vreugde en vrede beroof.  God se onverklaarbare grootheid, selfs in die hemelblou waar Hy sy voete neersit, Sy vloerbank, kan jou perspektief op die hele lewe verander.

Of, kyk net vir ‘n oomblik by die venster uit, maak nie saak of jy in die platteland of die stad is nie.  Of dit nog baie donker of al effens lig is nie,  jy word omring deur ‘n kleur pallet van God se skepping.  Daar is die groot onbeskryflike dinge soos die son, die breek van ‘n nuwe dag, die maan en die melkweg, en al die ander wonders van die heelal.  Daar is ook die wonders van die aarde, soos die hemel hoë berge, die golwende see en die geluid van brullende leeus.  God het beslis ongelooflike groot dinge geskep.  Maar, kyk dalk ‘n bietjie nader, kyk so bietjie na die klein dingetjies – ondersoek ‘n boomblaar; die fyn vlerke van ‘n skoenlapper en die volmaaktheid van ‘n spinnekop se web.  Tel jou hand op en kyk na die klein riffeltjies van jou vingerafdruk.  ‘n Vingerafdruk wat God vir jou, net vir jou gegee het.

Ons God, wat Sy voete neersit op ‘n vloerbank van saffierstene, verstom ons nie net met die groot dinge in die skepping nie, Hy verstom ons ook met die aandag wat Hy selfs aan die kleinste dingetjies gee.  Maar groter as alles, Hy slaan ons asem weg met die gedagte dat Hy ons, die mens, die kroon van Sy skepping gemaak het.  En dat Hy ons so lief gehad het, dat die Vader Sy seun gestuur het om die hele wêreld se ongeregtighede op Hom te neem, vir ons die prys van Verlossing te betaal, sodat ons nou kinders is, vrygekooptes, deurgekoopte kinders, met ‘n groot, onbeskryflike Hemelse Vader.  ‘n God wat skep met uitnemendheid.

Dagstukkies met Hugo 2 Desember 2019

 

Jesaja 1:18 #Kleur

Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here:  Al was julle sondes soos skarlaken dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper dit sal word soos wol.”

‘n Uitnodiging is meestal verwelkomend, en ons onmiddellike reaksie is normaalweg om te kyk van wie dit afkomstig is. Daarna begin ons vinnig berekeninge maak oor beskikbaarheid, ons tyd en ongetwyfeld, tong in die kies, effens selfsugtig –  oor wat dit vir my gaan inhou.  ‘n Mens word ook aangetrek deur die ontwerp en moeite wat met ‘n uitnodiging gemaak is.  Dit kan jou aandag behou, of maak dat jy dit vinniger neersit, of selfs daarvan vergeet.  En soos gewoonlik reageer ons nie betyds om ons aanvaarding van die uitnodiging te bevestig nie.

Een van die grootste, mees wonderlikste uitnodigings van alle tye, is Christus se ope uitnodiging wat onvoorwaardelik aan elkeen van ons gerig word.  ‘n “Oor-begin” uitnodiging, ‘n “Nuut-maak” uitnodiging, met voordele van wat strek tot in alle ewigheid.  Christus kom rig een van die waardevolste uitnodigings aan die mensdom.  Hy nooi ons uit om ‘n saak reg te stel.  Jy mag kom nes jy is.  Jy mag selfs al jou verlede bagasie en berge van oortreding saambring, en jy hoef geensins nuut aangetrek te wees nie.  Want met hierdie uitnodiging gaan alles vir jou gedoen word.  Dis ‘n onverklaarbare ruiltransaksie met woorde wat in bloed geskryf is, en dit trek dadelik jou aandag.  Dit roep na jou! Dit vra jou eintlik om dadelik die uitnodiging aan te neem.

Die uitnodigingswoorde kwalifiseer dat elkeen mag kom, want al was jou sondes helderrooi, al was dit rooi soos purper, al was dit soos skarlaken, kwartpad tussen rooi en oranje, waar rooi skarlaken ook al op die spektrum van die kleurwiel lê, die bloed van Christus sal dit alles kom weg was, kom skoonwas, kom nuut maak.   Die bloedbevlekte uitnodiging van Jesus Christus is ongetwyfeld die kosbaarste gawe wat ons hemelse Vader aan Sy kerk gegee het. Daar is soveel waarde en krag daarin.  Dit beteken jou sondes is vergewe, jy is vrygemaak van die slawerny van ongeregtigheid, al jou sondes is bedek.  Toe Christus die beker by die laaste Pasga opgelig het, het Hy gesê, “…Hierdie beker is die Nuwe Testament in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Lukas 22:20).

As jy gewillig is om in die lig te wandel en toe te laat dat die Heilige Gees alle duisternis in jou openbaar, dan weet jy dat jy op hierdie uitnodiging gereageer het.  “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Johannes 1:7).

Ons lewe is nuut, dis nie meer soos skarlaken nie, dit is nou wit soos sneeu; dis nie meer rooi soos purper, dis nou soos wol.  Jesus het die oorwinning vir ons behaal.  Sy bloed het oorwin. Jy kan met vrymoedig nou verklaar; Ek is bloedgewas, duurgekoop, geregverdig, witgewas, spliternuut! En ek verkondig die oorwinning van die bloed van Jesus!  Begin Hom nou te prys vir die belofte van daardie groot dag van verlossing wat voorlê.