Dagstukkies met CLF 2 April 2020

Wysheid teenoor dwaasheid

“Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af, die vrou met die verleidelike praatjies”

(Spreuke 2:16)

 

’n Wyse mens is iemand wat weet wat die regte pad is en dan daarop loop. ’n Wyse mens weet wat reg en billik en eerlik is, watter keuses om te maak, watter woorde om te sê en wanneer om dit te sê. Wysheid is iets wat die Here vir ons gee. Ons kan bid en vra dat Hy ons leer om verstandig te lewe. In sy Woord leer Hy ons die regte pad.

Hierdie wysheid van die Here se Woord help ons ook as die dwaasheid ons wil verlei en ompraat om die verkeerde pad te loop. Hier word die dwaasheid beskryf as ’n slegte vrou, ’n prostituut, wat ons met haar verleidelike praatjies wil ompraat om verkeerde dinge te doen. Dan beland ons op ’n pad wat na hartseer lei, en na die dood.

Egte wysheid is om altyd weer te vra na die wil van die Here – Hy self sal ons bewaar van die afdraaipaadjies wat na die verderf lei.

 

Dierbare Here, gee my asseblief die wysheid om die regte keuses te maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 April 2020

Salomo se wysheid

“Dié Spreuke is bedoel om mense wysheid te gee en hulle te onderrig sodat hulle weet wanneer iemand verstandig praat” (Spreuke 1:2)

Ons begin nou met die boek Spreuke. Dit is geskryf of versamel deur Salomo en ook ander wyse mense. Die bedoeling met die spreuke is om ons insig te gee, maar ook diep wysheid te leer, sodat ons reg en gelukkig kan lewe.

Jongmense leer nog om reg te lewe en wyse besluite te neem. Ouer mense, wat reeds kennis van die lewe het, moet ook elke dag groter wysheid leer. Kinders moet luister wat hulle ouers en ander wyse mense vir hul leer. Dan sal hulle ’n gelukkige lewe hê. Hulle sal wys wees.

Maar daar is ook dwase mense. Dis dié mense wat ander op ’n verkeerde pad lei, en hulle wat toelaat dat hulle verkeerd geleer word. Om die verkeerde pad te loop, bring net ongelukkigheid en skande.

In Spreuke 1 vers 7 staan daar geskryf dat kennis begin met die dien van die Here. As ons ons hart vir die Here gee, sal Hy ons leer wat reg en verkeerd is, en so sal ons die ewige lewe kry.

 

Dankie, Vader, vir die boek Spreuke. Help my om daaruit te leer, sodat ek ’n beter mens kan word. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.