Dagstukkies met Dennis 2 Mei 2019

Romeine 12:2:  #Onderskeiding

2 MEI 2019

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Ons leef in ‘n geweldige tyd waar die gelowiges se stand in die Here tot die uiterste toe getoets word. Mense word op ‘n slingse manier stukkie vir stukkie deur die media gemanupileer, en op ‘n sielkundige manier geboelie om in te pas by die wêreld se orde.  Apostel Paulus skryf in baie duidelike skrif aan die Romeine: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie…” Daar moet ‘n onderskeiding wees tussen die optrede van die gelowige en die ongelowige. Die gelowige kan nie in dieselfde juk trek as die ongelowige nie. Die skrif sê tog duidelik dat uit ‘n fontein tog nie twee soorte water kan kom nie, dit is of vars of brakwater.

In die loop van die lewe kom ons te staan voor baie keuses, waar daar duidelike verskil moet wees van die ou lewe en die nuwe lewe, daarom sê Paulus word verander deur die vernuwing van julle gemoed. Die onderskeiding tussen die wêreldling en die gelowige is om te beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Vrede / Shalom

Dagstukkies met Dennis 1 Mei 2019

Matteus 24:23-24:  #Onderskeiding

 

“As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! Of daar! – moet dit nie glo nie.”

Soos die Woord alreeds uitgegaan het, het daar ook reeds baie vals profete in die wêreld uitgegaan.2 Thessalonisense 2:3 verklaar: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf….” Wanneer ons die berge en die see aanskou, dan weet ons die hand van die Here het dit gevorm. Daarom is dit belangrik om baie die Woord van die Here te bestudeer en te bepeins, sodat ons kan weet hoe om iedereen te antwoord. Wanneer iemand kom met ‘n ander evangelie wat teenstrydig is met die Woord, laat hom ‘n vervloeking wees.

Dis geen wonder Paulus vermaan die volk in Galasiërs 5:1: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het…” Daarom moet ons onderskei watter gees praat met ons, ons moet dus ‘n goeie verhouding opbou sodat ons kan weet wat die volmaakte wil van God is. Galasiërs 6:7 verklaar: “Moenie dwaal nie, God laat Hom nie bespot nie, want wat die mens saai, sal hy maai.”

Vrede / Shalom