“Ek het gesien dat God aan die mense ’n taak gegee het om hom mee besig te hou.” (Prediker 3:10)
In Prediker 3 van vers 1 tot 8 lees ons dat daar vir elke ding ’n tyd is. Daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant en ’n tyd om plante uit te trek. Daar is ’n tyd om te lag en ’n tyd om te huil. So gaan die Prediker aan om oor baie sulke tye te skryf. Lees gerus Hoofstuk 3 wanneer jy ’n tydjie het.
God gee aan elkeen van ons iets om te doen hier op aarde. Hy wil hê ons moet vir sy Koninkryk werk. Ons het net ’n sekere aantal jare om te leef. Nou moet ons daardie tyd so gebruik dat ons lewe sinvol sal wees. Ons moenie uitstel om ons hart vir die Here te gee nie. Die dag wanneer God ons kom haal, moenie onverwags wees nie. Ons moet gereed wees.
Sorg dat die tyd hier op aarde vir jou vreugdevol sal wees, omdat jy op die regte tyd vir Jesus gekies het.
Vader, help my om die tyd wat U my gee reg te gebruik. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
“Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?” (Prediker 2:25)
Ons kom nou by die boek Prediker. Die prediker het skerp gekyk na alles, die natuur en oor die verloop van ’n mens se lewe. Hy het allerhande diep vrae gevra, soos of dit regtig die moeite werd is dat die mens homself so moet inspan om te kan lewe. Dit lyk vir hom asof wyse mense, dwase mense en diere almal dieselfde pad moet loop, almal gaan eendag sterf.
Nadat die prediker oor alles nagedink het, kom hy tot die gevolgtrekking dat dit ’n gawe van God is om te lewe en die lewe te geniet. Daarom moet ons die Here dien. Dis die diepste bedoeling met ons hele lewe, die sin van ons bestaan.
Dit is God wat alles vir ons moontlik maak. Alles wat ons besit, alles wat ons geniet, ons gesondheid, ons kos en klere, alles kom uit die hand van die Here. Daarom is dit die moeite werd om God te dien en om sy Naam hier op aarde groot te maak.
Dankie Here, dat U so baie vir my gee en doen. Help my om elke dag daarvoor dankbaar te wees. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
“Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil” (Spreuke 30:5)
Mense belowe soms aan iemand iets, maar dan kom daar niks van nie. Dink maar ’n bietjie terug in jou lewe. Het jy nie dalk iets vir iemand belowe en dan het jy dit nie nagekom nie? Politieke leiers belowe soms dinge vir die land se mense, maar dan doen hulle niks daaraan nie.
Gelukkig kan ons op God se beloftes reken. As Hy iets belowe, kom Hy dit altyd na. In die Bybel lees ons baie van God se beloftes. Hy het in die Ou Testament belowe om iemand te stuur om ons te kom verlos van ons sonde en alles te kom nuut maak. En die Nuwe Testament vertel hoe die belofte waar geword het toe Jesus Christus vir ons kom sterf en weer uit die dood uit opgestaan het. God doen wat Hy belowe. Ons kan so dankbaar wees vir so ’n God wat altyd vir sy kinders sorg.
Wanneer jy probleme het, of swaarkry, kan jy net op God vertrou om sy beloftes na te kom. Hy het belowe om vir sy kinders te sorg en te help as hulle in nood verkeer.
Troue Vader, baie dankie vir die baie beloftes wat U aan my gemaak het. Ek weet U sal dit nakom. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
“Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang” (Spreuke 28:13)
Ons het gister oor eerlikheid gepraat. Soos ons teksvers vandag sê, moet ons eerlik teenoor God wees en Hom van ons sonde vertel. As ons berou het oor wat ons gedoen het, sal God ons vergewe en help om dit nie weer te doen nie.
Om sonde of verkeerde dinge weg te steek, sal ons niks baat nie. Wanneer ons sonde probeer wegsteek en dit nie voor God bely nie, sal dit ons pla en sal ons nie vry en gelukkige mense kan wees nie.
Almal van ons is maar sondige mense, maar God verstaan dit, en as ons in nederigheid voor Hom staan en jammer sê, sal Hy vergewe. God se genade is groot en Hyself sal ons nuwe mense maak.
Liewe Heer, help my asseblief om my sonde by U te kom bely. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
Om eerlik te wees, is ’n baie mooi eienskap. Mense wat eerlik en opreg teenoor mekaar optree, kom ver in die lewe. Mense het ook groot respek vir iemand wat altyd die waarheid praat.
So baie kere doen ons die verkeerde dinge, en as ons uitgevang word, kom ons met allerhande stories wat nie waar is nie. Daardeur wil ons onsself verontskuldig. Soms kom ons los met ons onwaarhede, maar die Here sien en weet alles van ons af. Hier op aarde kan mense nog wegkom met leuens, maar eendag sal hulle voor God moet staan om te verduidelik.
Probeer om elke dag eerlik met almal te wees. As mense jou leer ken as ’n eerlike mens, sal jy goed voel en ’n voorbeeld vir ander wees. Dit is ’n getuienis vir ander dat jy ’n kind van God is.
God van Waarheid, vergewe my die kere wat ek oneerlik was. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
“Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak” (Spreuke 22:2)
Elke mens wil so graag nog meer besit as wat hy het. Ons droom van meer geld en besittings. Ons dink dat dit mens gelukkig sal maak.
Natuurlik is dit moeilik om arm te wees. Meestal voel ons ook dis onregverdig om arm te bly, terwyl die ryk mense net al hoe ryker word. En dan dink party ryk mense ook nog hulle is beter as ander mense.
Die Bybel praat nie die groot verskil tussen rykdom en armoede goed nie, veral ook nie as party mense op onregverdige manier ryk word en armes verdruk nie. Die Bybel troos egter arm mense. Armoede is niks om oor skaam te wees nie. Want ryk en arm mense is gelyk voor God. Hy het ons almal gemaak. Hy vra nie of ons ryk of arm is nie; sy Seun het vir ons almal se sonde gesterf. Sy genade is vir ons genoeg.
Dankie Here, dat alle mense gelyk is voor U. Dankie dat U vir my alles gee wat ek nodig het. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
Inperking. Net nog ‘n uitdaging waarmee boere in droogte geteisterde gebiede in Suid-Afrika mee worstel. Vir talle was daar agt jaar gelede laas goeie reën. Veral die Boesmanland en groot dele van die Noord-Kaap ken niks anders as sand, klippe en karkasse nie. Met die wêreldwye COVID-19-pandemie, is fondsinsamelingsprojekte eers vergete, fondse vir vee droog op en voedselsekerheid – wat reeds ‘n groot kwessie was – raak daagliks ‘n groter realiteit. Die hartseer en vrees – vir die virus maar meer nog die afwesigheid van reën, is hartverskeurend.
Nuushoof Elize Parker het met hoopmaker Chris van Beljon van die droogtehulporganisasie Boere Droogtehulp SA NPC gesels wat vinnig planne moes beraam om trokke met voer op die pad te hou tydens die nasionale inperking.
Inperktyd het die mense wat aan die stuur van droogtehulp-organisasies staan, swaar getref.
Chris van Beljon van Boere Droogtehulp SA NPC se stem is skor wanneer hy vertel dat daar alreeds meer as 20 boere in die Noord-Kaap en Oos-Kaap is wat hul plase netso gelos het na dekades op die grond. Weggestap het van als wat kosbaar is want hulle kon nie anders nie. Hy verwag dat na vandeesmaand se inperktyd sal daar weer ‘n uittog van meer as 20 boere wees.
Maar onlangs was hy weer opgewonde want hy kon twee vragte laai om na Kenhardt te vertrek.
Chris is eerlik as hy vertel van inperktyd se invloed op sy organisasie se werk om droogtegeteisterde boere te help. Dit was hierdie Bosvelder en sy span bitter moeilik toe die wiele van die geel lorries met die kenmerkende logo van Boere Droogtehulp SA NPC stil moes staan. Die dag net voor die inperktyd vir die bekamping van die koronavirussiekte begin het, was 60 trokke nog gereed om in die pad te val met vragte voer ter verligting van boere en hul diere se nood. Maar die ritte moes gekanseleer word.
Kan jy jou die verlore hoop in sovele harte voorstel toe die tyding aangegee is?
Vir ‘n paar dae nou kan hulle met die nodige permitte in plek voer laai en trokke regkry om die pad te vat Kenhardt toe, maar dit is so half op skuld vertel hy.
Daar is wel voer en voertuie, maar daar is nie meer geld vir brandstof nie. Die publiek se beursies het toegegaan vir eie en ander behoeftes vandat die koronavirussiekte landwyd uitgebreek het en die inperktyd begin het.
“En ons verstaan 100 persent,” sê Chris. Want die boere het nou al agt jaar inperktyd van ‘n ander soort. Agt jaar van swaarkry en aanhou en uithou. Van diere wat swaarkry en boereharte wat breek.
Die skielike gebrek aan ondersteuning is nie al wat swaar op die man met die welige baard en die groot hart vir ander se nood lê nie. Hy sien die groter prentjie. “Elke boer wat sy plaas los is minder kos vir almal.”
Jy hoor die planmaker praat. Sy permitte is in plek. Die trokke staan en wag. Die voer is gereed. Maar die brandstof kort.
Die werk gaan stilstaan en vir Chris is dit moeilik. ‘n Rukkie terug nog was daar ‘n vrag na Aberdeen waar daar areas is wat nog glad nie reën gehad het nie. Twee vragte voer is reeds weer afgelaai. Suiwer genade, maar veel langer gaan dit nie so kan aangaan nie.
“Die inperktyd het ook ‘n beperking op ons bankrekening gesit,” vertel hy. Dikwels moet hulle ook die mense-nood en nie net die nood om die diere te voer nie, aanspreek. Hy vertel van plase waar jy kom waar jy weet dit is al weke van pap eet sonder melk of suiker.
“Ek kan nie glo dat sommige boere wel nog boer nie,” sê Chris.
Na die regering se kant kan die droogtehulporganisasies nie vir hulp kyk nie. Daar is ‘n aankondiging vroeër vanjaar gemaak oor begrotings en hulp, maar niks het daarvan gekom nie. Besoeke is deur ministers en selfs die adjunk-staatspresident gemaak, maar hierdie praatjies vul geen gaatjies. Nou met Covid-19-boerehulp is die hulp vir kleinboere en boere op kleinhoewes, nie aan boere wat Suid-Afrika op groot skaal die voedselsekuriteit kan gee soos wat die land nodig het nie.
Daar is nie werklik iemand om hierdie tragedie binne ‘n ramptoestand om te draai nie. Net ‘n Hoër Hand kan ingryp erken hy ruiterlik. Maar Chris van Beljon en sy span sowel as ondersteuners gee nie op nie. Inperktyd of nie. Die wiele draai dalk gou weer al is dan halfpad op skuld.
Want as die organisasie enigsins kan, gaan hulle keer dat nog een boer van sy plaas moet wegstap. So Chris en sy span begin weer laai. En hy vra hulp waar hy kan. Hierdie man is nie te trots om te smeek nie. Soos hy en sy span sê: Dit is nie te sê as jy vasgekeer is in inperktyd dat jy nie kan help nie. Dit is juis tyd om uit te reik en vrag vir vrag, ‘n verskil te maak.
*As jy ‘n bydrae wil maak aan Boere Droogtehulp SA NPC:
Die rekening is Boere Droogtehulp SA NPC FNB Rekeningnommer: 62801333163. Tak kode: 250655 met die verywings droogtehulp.
Loer gerus wat Suid-Afrika se bekendste oud-nuusman, Riaan Cruywagen oor die organisasie, maar ook die droogte sê.
Nie almal kan ‘n bydrae maak nie, maar deel gerus hierdie om bewustheid te skep en indien jy enigsins kan help, organsiasies soos Boere Droogtehulp SA NPC het reeds gewys vrag vir vrag maak hulle ‘n verskil.
“Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie” (Spreuke 20:1)
Ons weet almal wat drankmisbruik aan mense doen. Mens raak verslaaf aan drank. So baie mense en selfs huisgesinne se lewens word verwoes deur te veel te drink.
Dit is so dat daar wingerdstokke en druiwe is om wyn van te kan maak. Selfs Jesus het ’n wonderwerk gedoen deur water in wyn te verander. Maar wyn of drank moet reg gebruik word. Daar is mense wat liewer glad niks alkohol moet drink nie. Dit is egter nie verkeerd om ’n bietjie wyn te drink nie, dit moet net nie misbruik word nie.
Te veel mense vergryp hulle aan drank as hulle probleme het. Nog nooit is iemand se probleme opgelos deur drank nie. Dit word net al hoe erger.
Ons teksvers sê: iemand wat te veel drink, is nie ’n verstandige mens nie. Kom ons help mense wat verslaaf is aan drank. Kom ons bid vir hulle.
Here Jesus, help my om ’n verstandige mens te wees, en dat ek my nie aan drank sal oorgee nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.
Lorrein Katzke is bekend vir haar resepte op Radio Tygerberg. Of jy nou ‘n bo-baas kok met ‘n spens propvol voorraad of ‘n mamma-op-‘n-begroting is, Maandae deel sy heerlike en eenvoudige resepte met jou.
As jy ‘n gunsteling het, deel dit gerus met haar en sy deel dit net dalk met almal!
Hier is Lorrein se gunsteling van die vorige weke:
As jy honger is, bly ‘n grondboontjiebotterbroodjie tops! Dis maklik, goedkoop, gesond en perfek vir oud en jonk en almal tussenin!
‘n Heerlike sjokoladekoek is sekerlik op ‘n hele paar mense se lysie van laaste hemelse disse al gewees! Hierdie ou staatmaker sal enige inperkingsverjaarsdag in ‘n feesmaal verander!
HEMELSE SJOKOLADEKOEK
Almal se groot gunsteling: ‘n pannekoek! Dis die swartbroek van kosmaak, mens kan dit met suiker en kaneel eet, piesang en karamel, selfs maalvleis en hoender is nie ongenooide gaste as vulsel in hierdie ronde staatmaker nie.