Dagstukkies met CLF 13 April 2020

Kos

“Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby”  (Spreuke 17:1)

 

Ons almal hou daarvan om lekker te eet. As ons lekker en genoeg kos in ons huise het, voel ons tevrede en gelukkig.

Nou is dit ook so dat daar baie huisgesinne is wat regtig amper niks kos het om te eet nie. So baie arm mense het net ’n stukkie brood om te eet. Dan is daar weer baie ryk mense wat meer as genoeg kos het om te eet. Baie mense eet ook heeltemal te veel.

Soms voel ons so afgeskeep as ons nie baie het nie, want ons dink dat geluk afhang van hoe baie en hoe lekker mens kan eet. Die Bybel stel ons gerus en sê dat ons geluk nie net afhang van hoe baie ons het om te eet nie. Daar is mense wat net ’n droë stukkie brood het om te eet, en tog is hulle ’n baie gelukkige gesin – dalk meer gelukkig as mense met baie kos. Ons hoef nie ryk te wees om tevrede mense te wees nie. As ons die Here in ons harte het, is ons ryk. Dan weet ons God sal ons alles gee wat ons nodig het.

 

Liefdevolle Vader, dankie dat ek elke dag iets het om te eet. Sorg asseblief ook vir die mense wat minder het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

104fm Paasgebede deur Elize Parker

Skep Nuwe

Die meisie by die deur

Jesus, laat my altyd soos die skugter meisie by die deur
van die hoofpriestershuis wees
wat skaam wou weet of Petrus u volgeling was.
Sou sy dalk meer van U wou weet om U te kon volg?
O, ek ken haar ondersoekende hart, Jesus!
Ek hunker self voortdurend om meer van U te weet.
Kan mens óóit genoeg van U weet?
Die nag was reeds amper verby,
U egter nog in die beskuldigdebank
toe Petrus sy kans verspeel en U verraai het.
Die meisie by die deur se onuitgesproke vraag
is ons almal se middernagkreet: Kén jy Jesus?
U weet dat ek U beter as myself wil leer ken
sodat ek met ’n stil vertroue oor U kan getuig.
Neem my, Heer, na waar u voete geloop het.
Sien my asseblief raak
asof ek ’n meisie by u hemeldeur is.
Ek bid u genade af vir almal
met ’n diep verlange om U te ken.

Amen.

Dagstukkies met CLF 12 April 2020

Ons lewenspad

“’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop” (Spreuke 16:9)

Dis goed en reg om ons lewenspad te beplan. Dis goed om te droom oor die toekoms. Jongmense moet ook besluit watter werk hulle graag sal wil doen. Daar is baie beroepe om uit te kies: onderwyser, verpleegster, dokter, prokureur, tegnikus, predikant, kunstenaar, of in die boerdery of sakewêreld. Ouer mense wat reeds werk, het ook allerlei ideale en drome oor die toekoms.

Dis goed om te beplan en te werk vir ons toekoms. Maar nou herinner Spreuke vir ons daaraan dat ons die Here moet vra wat sý plan vir ons toekoms is. Ons maak planne vir die toekoms, maar die Here bepaal hoe ons pad vorentoe sal wees.

As jy in jou lewe ’n groot besluit moet neem, vra die Here om jou te help om die regte keuse te maak. Hy sien ver vooruit, en sal jou op die regte pad lei.

 

Dankie, Here, dat U daar is om vir my raad te gee oor die toekoms. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

104fm Paasgebede deur Elize Parker

 

Kruisvergifnis

Jesus, U is bekend met my smekinge in die laatnag
wanneer ek hard uitroep vir krag.
Ek weet dat U my lief het
wanneer ek myself nie lief het nie.
Here, help my om u liefde te gebruik
om nie aan my pyn vas te hou nie
en vergifnis ’n leefwyse te maak.
Help my, Heer, om my kleinserigheid agter te laat.
Selfs toe U reeds aan die Kruis was, Heer,
het U ons geleer om mense vry te spreek.
U kruiswoorde wys ons moet die ander wang keer.
Tog, volle vergifnis is so moeilik.
Woede veroorsaak wrokke by my, Heer,
en lei tot diep wonde en rou hartseer.
Soms is ek so goed op pad om te vergewe,
maar dan voel ek weer ontnugter.
Help my, Heer, om nie ’n slagoffer van my emosies te wees nie.
Bevry my deur u eindelose liefde.

Amen.

Dagstukkies met CLF 11 April 2020

Geduld

“’n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.”

(Spreuke 14:29)

Geduld is een van die dinge wat baie van ons  kortkom. Ons kan nie wag nie. En dikwels raak ons dan ongeduldig, met onsself en met ander mense. Agterna is ons spyt daaroor en voel ons sleg omdat ons nie langer na iemand geluister het, of meer simpatie met so ’n persoon gehad het nie.

Die Bybel vertel nou vir ons dat ’n mens wat geduldig is, baie verstandig is. As ons dink hoe geduldig die Here met ons is, kan ons nie anders as om met ander mense ook geduldig te wees nie. Die Here het baie geduld met ons. Ons sondig baie, maar dan vergewe Hy ons elke keer. Vir jare is God geduldig met ons, Hy sal aanhou werk met ons, totdat ons ons harte vir die Here gee.

Wanneer jy weer ongeduldig is met iemand, of dalk met jouself, dink net weer aan die geduld wat God met
ons het.

 

Geduldige Here, vergewe my as ek ongeduldig met mense is. Help my om meer vir mense om te gee. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

104fm Paasgebede deur Elize Parker

 

Van ver kon U seker al u lieflingstad sien, Jesus,
sekerlik ’n onvergeetlike gesig vanaf die donkie-rug
terwyl U oor ’n brug en oor steil, klipperige paadjies
bergaf verby dorpies vol vyeboorde gery het.
Met u intog het sovele gekom om U te verwelkom.
’n Ere-laning van onderdane vir die Koning
met vlae wat swaai, tamboeryne wat opklink.
Met ’n oorvloed palmtakke is U oorwinnend toegewaai.
Met groen palmtakkies en klere is u pad feestelik toegegooi.
U kom toe die eer, U kom toe die lof.
Tog was daar dié wat U dalk nie herken het
as die waarmaker van Sagaria se profesie nie
en dalk het hulle weggedraai.
Skep in my vandag ’n gees van aanbidding
en herkenning dat my voete na u oorwinningspad draai.
Help my om U met my volle menswees lief te hê.
Ek prys U vir u barmhartigheid en almag.
Ek aanbid U vir u koestering en geborgenheid.
U is die Koning op wie ek wag.
U kruisliefde verander my elke dag.

Amen.

 

 

 

 

Dagstukkies met CLF 10 April 2020

Werk hard

“Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.” (Spreuke 13:4)

 

Om hard te werk is tog nie net sleg nie. Om jou brood met sweet te verdien, is eintlik ’n voorreg. Daar is baie mense wat dit geniet om te werk, vir wie werk sinvol is en betekenis aan hul lewe gee. Dis vir hulle lekker om op ’n eerlike manier vir hulle gesinne en ander mense te sorg.

Aan die ander kant is daar baie mense wat graag sou wou werk, maar hulle is liggaamlik ongeskik, of hulle kry nie werk nie. En dan is daar ook dié mense wat regtig niks hou van werk nie. Hulle is sommer net lui. Hulle soek heeltyd verskonings om nie te werk nie. Al kan hulle, hulle wil nie werk nie. Hulle dink ander mense moet maar vir hulle sorg. In plaas van self werk, bedel of steel hulle liewer. Sulke mense is nooit gelukkig nie. Hulle mis heeltemal God se bedoeling met hulle lewe. Hulle bly altyd honger; hulle lewe bly sonder doel.

Mense wat hard werk, sal altyd genoeg hê om van te lewe. Daarvoor sorg die Here. Sulke mense sal ook vir ander kan gee wat minder bevoorreg is, ook vir hulle wat graag wil werk maar nie kan nie.

 

Here, U wat altyd werk, dankie dat ek in staat is om te kan werk. Maak my ’n pligs­ge­troue werker. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

 

Lorrein deel resepte

 

Lorrein Katzke is bekend vir haar resepte op Radio Tygerberg. Of jy nou ‘n bo-baas kok met ‘n spens propvol voorraad of ‘n mamma-op-‘n-begroting is, Maandae deel sy heerlike en eenvoudige resepte met jou.

As jy ‘n gunsteling het, deel dit gerus met haar en sy deel dit net dalk met almal!

Maak seker jy is elke dag (maar veral Maandae) ingeskakel op #Kuiertyd van 12:00 tot 15:00 op Radio Tygerberg 104FM met Lorrein Katzke.

Stuur jou resep na rt104fm@gmail.com.

Hier is Lorrein se gunsteling van die vorige weke:

#HEERLIKE VLEISBROODJIE – DIS LIP-LEK-LEKKER

 

#DRIE-BESTANDDEEL-GRONDBOONTJIEBOTTER-KOEKIES-WAT-NIE-KAN-FLOP

#HOENDERSOP

 

#GROENTEMUFFINS

 

#HOENDERBORSFILETTE IN DIE PAN

 

 

 

 

104fm Paasgebede deur Elize Parker

 

Pilatus se hande

Vader, ek wonder vanaand hoe Pilatus se hande gelyk het,
sy sterke soldaathande wat hy so in onskuld gewas het.
Here, ek bid dat U my sal lei om goeie keuses te maak
en ag te slaan op waarskuwings.
Pilatus se vrou het ’n engeldroom oor Jesus gehad
en ’n boodskapper na haar man gestuur
om te pleit dat hy Hom vryspreek as ’n regverdige man.
Wat ’n verkeerde keuse het hy gemaak!
Kon sy maar dalk self met hom gepraat het …
Maar ek stel my sy tweestryd voor.
Hoe moeilik om goeie keuses sonder U te maak!
Hoe onmoontlik! Ek onthou, Heer, hoe U my vantevore
die insig gegee het om liewers my keuses aan U oor te laat
en geduldig te wag totdat U met my praat.
Here, herinner my daaraan as ek weer ’n keuse moet maak,
hoe U boodskappers na my gestuur het,
visioene en engeldrome, ’n Woord op U tyd.
Maak my bewus van goeie keuses reeds gemaak
en dat U elke lewenstree saam met my stap.

Amen.

Dagstukkies met CLF 9 April 2020

Jou lewe

“Die Here verafsku mense wat nie opreg is nie; Hy hou van mense wat onberispelik leef.”

(Spreuke 11:20)

 

Om onberispelik te lewe beteken om reg te doen. Dit beteken jy leef op so ’n manier dat ander niks sleg oor jou kan sê nie. Jy doen goeie dinge. Jy behoort aan die Here. Jy gehoorsaam Hom alleen. Elke dag moet ons vir die Here leef. As ons ons harte vir Hom gee, en ons glo dat Hy vir ons sondes gesterf het, sal Hy vir ons sorg.

God hou van mense wat opreg lewe. Dis nie aldag maklik om God se pad te loop nie. Daar is so baie versoekings wat oor ons weg kom. Solank ons aan die Here behoort, sal die duiwel altyd probeer om ons van Hom af weg te kry.

Lewe elke dag opreg. Die Here sien dit raak en sal jou beloon omdat jy aan Hom getrou is. Wat sal daardie beloning dan wees? Om te hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg”.

 

Here help my om elke dag onberispelik te lewe.  Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.