Dagstukkies met CLF 3 Mei 2020

Vrede by God

“Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here” (Jesaja 48:22)

 

Elke mens wil graag gelukkig en tevrede leef. Ons mag maar vir die goeie en mooi dinge in die lewe werk en bid. Dink net hoe lekker ons kon saamleef as almal die goeie en regte dinge gedoen het.

Nou is dit maar so dat die duiwel alles hier op aarde kom omkrap het. Hy sal sy bes doen om ons te verlei en weg van God af te kry. Want soms lyk dit ook vir ons of die sondaars ’n lekker lewe het. Hulle doen verkeerde dinge, maak soos hulle wil en steur hulle nie aan God se gebooie nie. En dit lyk asof dit goed gaan met hulle. Maar moenie dink hulle is gelukkige mense nie. Nee, hier diep in hulle harte is daar geen vrede nie.

Ons wat aan God behoort het gemoedsrus en vrede. Ons weet dat ons eendag vir ewig by God sal woon waar ons net vrede en vreugde sal ervaar.

 

Dierbare Here, dankie dat ek by U vrede kan vind. Help ook sondaars om vir U aan te neem. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 Mei 2020

Net God weet

“Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak, ek maak die waarsêers belaglik”

(Jesaja 44:25)

 

Vandag is daar baie mense wat sê dat hulle weet wat in die toekoms sal gebeur. Ons noem hulle waarsêers. In tydskrifte lees ons dat hulle mense se toekoms volgens hul geboortedatum voorspel. Dan is daar ook mense wat beweer dat hulle weet wanneer die aarde sal vergaan. Ongelukkig is daar baie mense wat glo dat hierdie waarsêers reg is. Mense raak bekommerd en doen dan snaakse dinge.

Gelukkig stel God ons gerus deur sy Woord. Net God alleen weet wat in die toekoms gaan gebeur. Vertrou en glo net dat God die beste weet. Hy sal vir sy kinders sorg, al gebeur wat ook al. Moenie bang raak wanneer jy van ontstellende voorspellings hoor nie. Weet net dat jou Vader in die hemel alles in sy hande vashou.

 

My Vader in die hemel, dankie dat U in beheer is van die grote heelal. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Mei 2020

Jou kinders

“Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope”

(Jesaja 44:4)

 

 

Ons het al almal gesien hoe mooi die veld lyk na die eerste reën. Die gras begin groei en die lande en heuwels het ’n vars, groen kleur. Oral langs waterstrome groei die plante welig. ’n Mens kry sommer nuwe lewe en voel gelukkig as die natuur so mooi is.

Hier in Jesaja sê die Here dat Hy die kinders van gelowiges sal seën. Hulle sal opgroei en soos die groen gras uitspruit, hulle sal gelukkig en tevrede wees.

Miskien het jy nog nie kinders nie, maar as God jou seën om kinders te hê, leer hulle van kleins af van Jesus. God sal vir hulle die beste gee en ook jou hart gelukkig maak. Dis altyd ’n vreugde vir ouers om te sien hul kinders is op die regte pad.

Vra elke dag vir die Here om jou te leer hoe om jou kinders vir Hom groot te maak.

 

Dankie Here, dat U my wil leer hoe om my kinders na U te lei. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.