Dagstukkies met CLF 13 Mei 2020

Die Here sien vooruit

“Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor”

 (Jesaja 65:24)

Voorgelees deur Elize Parker

Dis so lekker as iemand jou kom help met iets voordat jy nog gevra het. ’n Goeie vriend of familielid sien jy het hulp nodig, en dan gee hulle raad of help jou om die probleem op te los. As ons almal maar die nood van ander wil raaksien en help, sal daar baie meer vreugde op aarde wees.

Die Bybel leer ons dat God so ’n vriend is. Hy weet wat ons nodig het, en voordat ons nog vra, help Hy ons. Dikwels in ons lewens kom ons voor ’n krisis te staan dat ons nie weet wat om te doen nie. Soms vertrou ons te veel op mense en vergeet dat God ons altyd kan en sal help.

Wanneer jy weer ’n probleem het, glo en vertrou net dat die Here al lankal daar­van weet en dat Hy sal help. Hy belowe ons dit in die teks hierbo. God kom altyd sy beloftes na.

 

Here, troue Vriend, dankie dat U altyd van my probleme weet. Leer my om U meer te vertrou.

Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 Mei 2020

God het ons almal gemaak

“U is ons Vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die

werk van u hande”

 (Jesaja 64:8)

’n Pottebakker is iemand wat potte uit klei maak. In die Bybelse tyd was daar nie yster of plastiek waarvan potte of houers gemaak kon word nie. Daardie mense het ’n sekere soort grond geneem, dit met water gemeng, en so ’n pot van klei gemaak. Dan is die pot in vuur gebak en so het hulle ’n houer of pot gemaak om water of kos in te bêre.

Nou sê ons teksvers dat ons soos klei is in die Here se hande. Hyself maak ons soos Hy goed weet. Nie twee mense is dieselfde nie. Die Here gee vir elkeen sy eie persoonlikheid en karakter. Ons het ook nie almal dieselfde kleur nie.

Al wat ons moet onthou, is dat God alle mense respekteer en hulle behandel soos Hy dit wil hê. God het elke mens op aarde lief, dit maak nie saak wie dit is nie.

 

Here, dankie dat U ook vir my gemaak het. Help my om alle mense te respekteer. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 11 Mei 2020

Reg en verkeerd

“Ek is die Here, Ek het die reg lief, Ek haat roof en misdaad” (Jesaja 61:8)

Voorgelees deur Elize Parker

Ons lewe in ’n baie onveilige wêreld. Daar is oral onreg, roof en misdaad. Dit lyk of die hele wêreld in die mag van die Bose is.

Vanaf die Bybelse tye was daar al mense wat geroof en gesteel het. Daarom het God in sy Tien Gebooie beveel dat mense nie mag lieg of steel of moord pleeg nie. Baie mense steur hulle nie daaraan nie, omdat hulle nie aan God behoort nie, en nie na sy Woord luister nie.

Ons moet elke dag bid en vra vir geregtigheid en vrede. Vra die Heilige Gees om mense wat vasgevang is in die sonde, en wat misdaad pleeg, se harte te verander. Vra dat God hulle moet vergewe en weer nuwe mense maak.

Sê ook vir God dankie dat Hy ons sy Woord en Gees gegee het, om ons op die regte pad te lei.

 

Here Jesus, vergewe tog die mense wat so verkeerd doen. Laat U Heilige Gees hul harte verander. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 Mei 2020

Net God weet

“Ek het jou in my toorn gestraf, maar in my genade ontferm Ek My oor jou” (Jesaja 60:10)

 

Gedurende die Ou Testamentiese tyd het die Israeliete dikwels teen God gesondig. Hulle het afgodsbeelde gemaak en dit aanbid. Baie keer was hulle opstandig en het ver van die Here af geleef. Dan het God hulle gestraf deurdat heidense volke teen hulle oorlog gemaak het, en so is hulle vir jare deur ander volke regeer. Maar wanneer hulle hul sondes voor God bely en teruggedraai het na God toe, dan het God het hulle vergewe en hulle weer voorspoed laat beleef.

Vandag gaan dit met ons ook maar so. Ons doen die verkeerde dinge en stel God teleur. Hy straf ons dan, want deur die staf wil Hy ons laat terugdraai na Hom toe. En dan is God se genade vir ons so groot dat Hy ons weer gelukkig maak en vir ons sorg.

Wanneer God jou straf, weet net Hy doen dit omdat Hy jou liefhet en Hy jou weer wil terugkry as sy kind.

 

Genadige Heer, dankie dat U my elke keer weer terugbring na U toe. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 9 Mei 2020

Gaan na God

“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie” (Jesaja 59:1)

 

Ons laat so dikwels ons medemens en vriende in die steek. Ons sien nie elke dag ander se nood raak nie. Soms vra iemand vir ons om te help, maar dan is ons vol verskonings. Baie keer praat iemand met ons oor sy of haar probleme, en dan maak ons of ons nie hoor nie. Ons wil nie betrokke raak by ander se moeilikheid nie.

Jesaja sê dat die Here altyd sal help, en Hy hoor altyd wat ons vir Hom vra. Wat ’n wonderlike Here om te ken! Hoe meer ons ons Bybel lees, hoe beter leer ken ons God. Dan besef ons dat dit die moeite werd is om aan God te behoort.

Ons weet dat daar niemand is soos God nie, Hy sorg vir sy kinders en sal altyd daar wees.

 

Here, U wat omgee, baie dankie dat U hoor en vir my help as ek by U kom kla. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 8 Mei 2020

Sorg vir ander

“As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos helder middag” (Jesaja 58:10)

 

In hierdie wêreld van ons is daar baie behoeftige mense. Ons hoor van lande waar daar nie kos is om te eet nie, waar mense, veral klein kindertjies, sterf van die honger. Selfs hier in ons land is daar baie mense wat nie werk het nie en nie geld het vir kos en klere nie.

Ons moet onthou dat alles wat ons het eintlik van God kom. Om sy wil te doen, moet ons ook ander help wat in nood is. Al verdien ons nie baie geld nie, kan ons ’n ietsie afknyp en aan die behoeftiges gee.

Die Here sal jou raaksien as jy ander help. Dan belowe Hy hier in ons teksvers dat Hy jou sal seën en jou pad gelyk sal maak. Kyk maar net ’n bietjie rondom jou, en jy sal gou raaksien wie jy kan help.

 

Dierbare Here, baie dankie dat U so goed is vir my. Leer my om ander wat in nood is te help. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 Mei 2020

Nou is die beste tyd

“Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is” (Jesaja 55:6)

 

Elke mens het net ’n sekere tyd om te leef. Niemand weet hoe lank hy of sy sal lewe nie. Dis ook maar goed dat ons nie weet wanneer ons gaan sterf nie, want dan sal ons ons dood bekommer daaroor.

Omdat ons nie weet hoe lank ons sal lewe nie, moet ons so gou as moontlik ons saak met die Here regmaak. Ons moenie die kans wat God ons gee laat verbygaan nie. Dit sal dom wees om uit te stel, en te redenaar dat ek later my lewe vir God sal gee. Dit kan te laat wees, en dan mis jy die ewige lewe saam met God in die hemel.

Indien jy nog nie jou hart vir die Here gegee het nie, doen dit sommer nou. God sal jou met ope arms ontvang.

 

Here, ek gee my lewe sommer nou aan U oor. Ek wil nie uitstel nie. Dankie, Here. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 6 Mei 2020

Wonderlike Woorde

“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie” (Jesaja 54:10)

 

Hierdie woorde van ons teksvers is seker die mooiste woorde wat God nog vir sy kinders gesê het. Om te weet dat wat ook al gebeur, God bly vir ewig lief vir ons. So baie dinge gebeur met ons, baie kere stel ons God teleur, maar Hy bly getrou soos Hy belowe.

Hier op aarde gebeur baie tragiese dinge. Ons hoor van aardbewings, oorstro­mings, droogtes, orkane en nog baie ander natuurrampe waar duisende mense sterf. Dan is daar ook nog motorongelukke, vliegtuie wat val en bote wat sink, wat ook baie hartseer bring. Soms wonder ’n mens hoekom dit gebeur, en waar is God dan?

Gelukkig glo ons in ’n God wat van alles weet. Hy sorg vir elkeen en alles hier op aarde. Al is daar baie hartseer en verdriet, Hy sal ons as mense nooit vergeet nie, en sy liefde vir ons sal nooit verdwyn nie.

 

Dankie Here, dat U vandag vir my die versekering gee dat U liefde vir my nooit ophou nie. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 Mei 2020

Hoop vir sondaars

“Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom” (Jesaja 53:6)

Elke mens op aarde doen soms die verkeerde dinge, selfs die mees getroue Christen of predi­kant is vol sonde. Daar was net een mens op aarde wat nooit gesondig het nie, en dit was Jesus.

Alhoewel ons so vol sonde is, het God ons tog baie lief. Hy het sy seun Jesus aarde toe gestuur om vir ons sondes te kom sterf. Deurdat Jesus aan die kruis gesterf het, kan ons sondes vergewe word en kan ons die ewige lewe kry.

Ons sal miskien nog in die plek van ’n goeie vriend sterf, maar nooit vir ’n skelm nie. Dit het Jesus gedoen. Hy het vir sondaars soos ek en jy kom sterf.

Sê sommer nou vir Jesus dankie dat Hy al jou sondes op Hom geneem het.

 

Here Jesus, ek besef nie elke dag wat U vir my gedoen het nie. Help my om my lewe lank daarvoor dankbaar te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 4 Mei 2020

God sorg vir Suid-Afrika

“Die Here het vir sy volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was” (Jesaja 49:13)

In die tyd toe Jesaja geleef het, was daar ook baie misdaad, en volke het teen mekaar oorlog gemaak. Mense was bekommerd en het in vrees gelewe. Jesaja was ’n profeet, en God het hom opdrag gegee om aan sy mense te vertel dat God hulle sal help. God het gesien die Israeliete kry swaar, daarom wou Hy uitkoms gee. Maar dan moes God se kinders eers weer leer om gehoorsaam te lewe.

Vandag gaan dit ook in ons land so. Daar is baie misdaad, bedrog en mense word vermoor. As God dan die Israeliete van daardie tyd gehelp het, sal Hy vir ons in hierdie land ook help. God bly altyd dieselfde. As ons maar net na Hom toe terugkeer…

Elkeen in hierdie land wat God se kind is, moet bid dat die Heilige Gees mense se harte sal verander. As elkeen, ook die leiers van ons land, na God terugdraai, sal Hy ook vir ons vrede en voorspoed gee.

 

Here, sorg asseblief vir Suid-Afrika en help dat elke leier U wil sal doen. Amen.