Dagstukkies met CLF 11 Junie 2020

’n Nuwe begin

“Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”

(Matteus 1:21)

Die heel eerste boodskap van hierdie boekie gaan oor hoe God alles begin het. Ons is nou by die Nuwe Testament, met ’n nuwe begin. Met die geboorte van Jesus is dit moontlik dat elke mens ’n nuwe begin kan maak. Ons is almal vol sonde, maar nou kan ons deur Jesus, ons Verlosser, vergifnis kry en die ewige lewe ontvang.

Voordat Jesus gebore is, het ’n engel aan Josef, Maria se verloofde, verskyn. Hy het vir Josef gesê dat hy die seuntjie Jesus moet noem en dat daardie seuntjie die Verlosser van die wêreld is.

Hoe dankbaar kan ek en jy nie wees oor Jesus se geboorte nie? Dink net daaraan, as Jesus nie gebore was nie, was ons almal verlore mense.

 

Here Jesus, dankie dat U as mens gebore is – ook vir my. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 Junie 2020

Die groot verskil

“Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie”

(Maleagi 3:18)

Hierdie is die laaste boodskap van die Ou Testament. Ons het die afgelope 5 maande geleer en gesien hoe die Here vir mense deur die jare gesorg het. Hy het mense gebruik om ander te waarsku oor hul verkeerde optredes. Maar ons het ook gesien hoe God vergewe en dat sy genade baie groot is. Die belangrikste is dat Hy sy kinders liefhet.

Ons is sy kinders as ons op Hom vertrou, en uit dankbaarheid sy gebooie gehoorsaam en sy wil doen.

As ons gereeld ons Bybel lees kan ons ook die verskil tussen goed en kwaad leer onderskei. Soos ons teksvers sê, ons sal kan sien wie die Here dien en wie ver van Hom af leef. Dis nou my en jou plig om mense wat nog nie die Here dien nie, na Hom toe te lei. Vra net elke dag die Here se hulp.

 

Here, help my om ander mense van U te vertel. Dankie dat ek u kind kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Werkverskaffing – Dinsdag, 09 Junie 2020

W E R K V E R S K A F F I N G

D I N S D A G   0 9  J U N I E   2 0 2 0

Die Werkverskaffingsbulletin word elke Dinsdag om 10h40 uitgesaai op 104fm.

 

 

HONDE GROOMER DOGGY GROOMER
Vereistes: Honde Groomer met sober gewoontes, christelike waardes, ‘n passie vir honde, 2-5jr. onder vinding van honde grooming en eie vervoer, word benodig vir Passion4Paws, grooming salon in Klein Oostersee, Parow vanaf 1 Julie 2020.

Epos CV na info@passion4paws.co.za of kontak Veroeska by 071 867 4746

 

BEMARKER & MAATSKAPLIKE WERKER MARKETER & SOCIAL WORKER
Vereistes: MES benodig ‘n ½ dag Bemarker & Maatskaplike werker, vereistes op hul webtuiste. Suksesvolle Kandidaat moet passievol en geskik wees om ‘n verskil te maak in ‘n NGO.

Epos: CV na Anelle Erasmus by annelle@mes.org.za of besoek webtuiste by www.mes.org.za

 

STIKSTER MACHINIST
Vereistes: Versatile Machinist needed to start a.s.a.p.

Contact: Lorraine on 062 369 5544

 

KLEUTERSKOOL ONDERWYSERES EDUCARE TEACHER
Vereistes: Kleuterskool Onderwyseres benodig om 2 dogtertjies tuis te onderrig.

Whatsapp bes. na 072 857 6276

 

SWEISERS WELDERS
Requirements: 2 Welders needed with own machine.

Contact: Roberto Marcus on 084 823 5680

 Poste moet asseblief teen Maandae 11:00 gestuur word na reception@104fm.co.za.

 

Dagstukkies met CLF 9 Junie 2020

Een Here vir almal

“Julle sal dit met julle eie oë sien, en julle sal sê: ‘Die Here is groot, ook buite die grense van Israel’ ”

(Maleagi 1:5)

Ons is nou by die laaste boek van die Ou Testament. Daar is 39 boeke in die Ou Testament, en ons het nou aan almal geraak. As ons terugkyk, kan ’n mens miskien dink dat die Here net daar was vir die Israeliete. Nee, dis nie so nie, want die Here het te doen met alle mense, volke en tale. Dit sê ons teksvers vir ons baie duidelik. God is die hele wêreld se God. Dit maak nie saak watter kleur of nasie dit is nie, solank elkeen bely dat Jesus die Seun van God is.

Nou is dit my en jou taak om die boodskap van God aan alle mense te verkondig. Dis nie ’n maklike taak nie, maar saam met die Here kan ons die werk doen. Vra elke dag in jou gebed dat God jou die krag en wysheid sal gee om sy dissipel te wees. Doen elke dag jou klein deeltjie vir God , en Hy sal jou met die ewige lewe vergoed.

 

Grote Here, dankie dat U ook vir my gesterf het. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 8 Junie 2020

Jesus se koms

“Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ’n oorwinnaar. Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie”

(Sagaria 9:9)

Sagaria het ongeveer 500 jaar voor die geboorte van Jesus gelewe. God het met hom as profeet gepraat
deur gesigte wat hy gesien het. So het God dan vir hom gesê dat hulle moet jubel en juig, want daar sal ’n koning kom wat ’n oorwinnaar sal wees. Dit was van Jesus wat hier gepraat word.

Die profeet het gesê dat die koning op ’n donkie sal ry. Ons weet dat Jesus wel op ’n donkie Jerusalem binnegery het. Ons lees in ons teksvers dat dié Koning, Jesus, nederig en regverdig was. Wanneer ons later na Jesus se lewe op aarde gaan kyk, sal ons sien dat dit alles waar was wat voorspel is.

Dit is vir jou en my ’n bewys dat God se Woord, die Bybel, waar is.

 

Waarmaker van u beloftes, dankie dat ek die Bybel kan lees wat waar en eg is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 Junie 2020

Gee vir God iets terug

“Toe het die Woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?” (Haggai 1:3)

Die Israeliete het baie swaar gekry toe sterk volke teen hulle oorlog gemaak het. Uitein­delik is Jerusalem, en ook hul tempel waar hulle God aanbid het, afgebreek en verwoes, en die mense weggevoer. Toe die volk na Jerusalem teruggekom het, het hulle vir hulleself mooi huise gebou, maar vergeet om die tempel te herstel. Toe het God met die profeet Haggai gepraat en gesê dat die tempel weer reggemaak moet word. God wou weer hê dat hulle moet bymekaar kom om Hom te aanbid.

Ons kerkgeboue is nie tempels nie, maar God verwag tog dat ons hierdie geboue waar die volk van God bymekaarkom om te aanbid sal versorg en oppas. Om geboue te onderhou kos geld. Daardie geld kan maar net van God se kinders af kom. Dis my en jou plig om gereeld ons dankoffers te gee, sodat ons God kan loof en prys in ’n goed versorgde gebou. God gee vir ons so baie, en ons kan ook vir Hom op hierdie manier dankie sê.

 

Here, help my om gereeld my deel vir u kerk te gee. Dankie dat ek so baie van U ontvang. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 6 Junie 2020

Die Here het nederiges lief

“Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig is en vertrou op die Naam van die Here” (Sefanja 3:12)

Om nederig te wees beteken om nie te veel van jouself te dink nie, om ander mense eerste te stel en nie grootpraterig te wees nie. Wanneer mense van jou praat as ’n nederige mens, kan jy baie trots voel.

Toe Jesus op aarde was, het Hy vir ons die voorbeeld gestel hoe om nederig te wees. Hy het mense gedien, en nie verwag dat mense Hom moet bedien nie. Jesus het selfs sy dissipels se voete gewas.

Ook in die tyd van Sefanja het God gesê dat Hy net dié mense wat nederig is en God dien, sal laat oorbly op die oordeelsdag.

Probeer van vandag af om ’n nederige mens te wees. Moenie jou eie belange altyd eerste stel nie, maar help waar jy kan, praat mense moed in en vertrou op die Here. Dan sal God jou eendag beloon vir alles wat jy aan ander gedoen het.

 

My Vader in die hemel, maak my ’n nederige mens wat gewillig is om ander te dien. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 Junie 2020

Prys die Here

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder” (Habakuk 3:17-18)

Habakuk het die genade ontvang om op die Here te vertrou. Al gaan dit hoe sleg met die boerdery, sê hy, sal hy nog altyd die Here loof en prys. Baie van ons het met boerdery te doen, en ons weet dat as daar nie oeste is nie, is daar nie kos vir mens en dier nie. Ons sal mismoedig word en voel dat God ver van ons af is.

Hierdie groot les wat ons vandag moet leer, is om nooit moedeloos te word nie. Ons God sorg, en Hy is daar. Hy sal ons nooit verlaat of vergeet nie. Wanneer dit met jou baie sleg gaan, glo net die Here is altyd daar, Hy weet van jou, Hy is jou Redder.

 

Dankie Here, dat U ook my Redder is. Ek wil U vir altyd loof en prys. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 4 Junie 2020

Wie reg doen, sal lewe

“Dit is die boodskap: wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat Hy getrou bly” (Habakuk 2:4)

In die tyd van Habakuk die profeet het die wrede Galdeërs oor die Israeliete geheers. Hulle was vir almal ’n gevaar. Nou kla die profeet oor die onreg wat daar heers. Hy neem eintlik vir God kwalik omdat God nie iets daaraan doen nie. Hy vra vir God hoe lank hy nog moet roep voordat God sal hoor.

Vandag is daar ook baie onreg in die wêreld. ’n Mens wonder ook soms hoekom God dit toelaat? Ons sien mense wat nie vir God omgee nie, en tog gaan dit skynbaar goed met hulle.

As ons egter verder in hierdie boek lees, kan ons sien hoe God daardie goddelose mense gestraf het. Lees weer ons teksvers, en jy sal weet dat dit God is wat oordeel, en elkeen sal sy verdiende loon kry – doen jy net die regte ding, en bly aan God getrou.

 

Regverdige Here, dankie dat U alles raaksien, en almal regverdig oordeel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 3 Junie 2020

God se oordeel

“Selfs dáár sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei, jou vernietig asof jy ’n sprinkaan is”

(Nahum 3:13)

Ons weet dat God goed en regverdig is. Hy vergewe en vergeet van ons sondes as ons berou het. Hy help ons om die regte pad te loop. Maar die anderkant is ook waar. As mense doelbewus sondig en nie jammer is daaroor nie, straf God hulle. Dan sal die hel se vuur hul vernietig, soos ons teksvers sê.

Nahum, die profeet, het namens God opgetree om die mense van daardie tyd te waarsku oor hul sondes. Hy vertel wat met hulle sal gebeur as hulle volhard in hul sondes. As jy teen God draai, is die verdoemenis jou voorland.

Omdat jy hierdie dagstukkie gelees of daarna geluister het,  weet ek dat jy God nie verwerp nie. Glo net dat Jesus jou Verlosser is, dat Hy jou sondes sal vergewe en jy vir ewig by Hom sal gaan woon.

 

Dankie Here Jesus, dat U aan die kruis klaar betaal het vir my sondes. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.