Dagstukkies met CLF 2 Junie 2020

Wees versigtig

“So sê die Here oor die profete wat my volk verlei, die profete wat van vrede praat solank hulle kos kry, en as iemand hulle nie bly instop nie, oorlog teen hom verklaar…”

(Miga 3:5)

In die tyd van Miga was daar baie profete wat hulle voorgedoen het as boodskap­pers van God, maar verkeerde dinge verkondig het. Dit is ook ’n manier hoe die duiwel werk om God se kinders weg van God af te kry.

In ons tyd gaan dit ook so. Daar is baie wat sê dat hulle God se Woord verkondig, maar dit is nie so nie. Om te weet of hulle regtig God se Woord verkondig, gaan na die Bybel en daar sal ons uitvind of hulle regtig opreg is. Baie doen dit net vir die geld en rykdom, soos in ons teksvers staan.

Wees altyd versigtig vir sulke mense. Bid en vra ook vir die Here om jou te wys of dit reg is. Die Heilige Gees sal jou lei. Onthou, die duiwel is jaloers op God se kinders, en sal altyd probeer om ons van God af weg te lei.

 

Here, leer my om te kan weet wie regtig u Naam verkondig. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Junie 2020

Wees bly

“Toe vra die Here vir hom: ‘Het jy rede om kwaad te word?’ ”

(Jona 4:4)

Nadat die vis vir Jona op die land uitgespoeg het, het die Here ’n tweede keer vir hom beveel om na Nineve toe te gaan. Hierdie keer was hy gehoorsaam en het die mense van Nineve gewaarsku dat God ’n ramp oor hulle sal bring. Toe die mense sy boodskap hoor, het hulle hul bekeer en weer God se wil gedoen.

Die Here het toe besluit om die stad te spaar sodat die mense nie deur die ramp getref is nie. Hieroor was Jona baie kwaad. Hy was eintlik jaloers dat God die mense genadig was.

Jona behoort dankbaar te gewees het omdat daar so baie mense was wat gered is vir God se koninkryk. Wanneer ons sien dat mense omdraai en na God toe teruggaan, moet ons bly en dankbaar wees.

Help en ondersteun jou vriende of familie wat terugdraai na God toe. Wees altyd bly oor God se
groot genade.

 

Genadige Here, dankie dat U genade ook vir my, as sondaar, so groot is. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.