Dagstukkies met CLF 7 Julie 2020

Jesus roep sondaars

“Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars” (Matteus 9:13)

Op ’n dag het Jesus by ’n tolhuis verbygegaan en ’n man met die naam Matteus daar sien sit. Jesus sê toe vir hom om Hom te volg. Hy het toe dadelik vir Jesus gevolg. In daardie dae was die meeste mense wat by die tolhuise gewerk het beskou as oneerlik. Hulle het te veel belasting gevra en dan daarvan vir hulleself gevat. Hulle was dus sondaars.

Van die mense was ontsteld omdat Jesus ook saam met Matteus by sy huis gaan eet het. Hulle kon nie verstaan waarom Jesus saam met ’n sondaar eet nie. Jesus het hulle hoor praat en gesê dat gesonde mense nie ’n dokter nodig het nie. Wat Jesus bedoel het, is dat sondaars vir Jesus nodig het. Dit is tog die rede dat Jesus gesterf het – vir sondaars.

Ons moenie sommer dink dat mense verlore is nie. God se genade is groot, en ons moet ons deel doen dat sondaars tot bekering sal kom.

 

Dankie Here Jesus, dat U gekom het om vir sondaars te sterf – ook vir my. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 6 Julie 2020

Wees gelowig

“Hy sê vir hulle: ‘Waarom is julle bang, kleingelowiges?’ ”

(Matteus 8:26)

Op ’n dag was Jesus saam met sy dissipels in ’n skuit op die see. Terwyl Jesus geslaap het, het daar ’n groot storm losgebars. Die golwe het oor die skuit geslaan en die dissipels was bang dat hulle sou verdrink. Hulle maak toe vir Jesus wakker en vra Hom om hulle te red. Jesus antwoord en sê dat hulle bang is omdat hulle geloof so klein is. Toe het Jesus die storm laat bedaar.

Elkeen van ons is ook soms bang. Ons weet Jesus is altyd by ons, tog is ons geloof so klein. Ek en jy moet altyd weet dat Jesus by ons is en dat Hy ons sal beskerm. As ons sy kinders is, moet ons net op Hom vertrou. So baie plekke in die Bybel lees ons dat die Here belowe om ons altyd by te staan. Onthou, die Here kom altyd sy beloftes na!

 

Liefdevolle Here, dankie dat U altyd u beloftes nakom. Vergewe my die tye wanneer ek so kleingelowig is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 4 Julie 2020

Goeie en slegte vrugte

“Elke goeie boom dra tog goeie vrugte,

maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Matteus 7:17)

Ons ken almal vrugtebome. Baie van ons werk op plase en ken verskillende soorte vrug­te­bome. Wanneer ons ’n vrugteboom goed versorg, dra daardie boom goeie en lekker vrugte.

Jesus gebruik die voorbeeld van vrugtebome om ons te waarsku teen mense wat voorgee dat hulle kinders van God is, maar dit nie regtig is nie. Jou optrede en hoe jy leef, is soos vrugte wat jy dra. Party mense sê dat hulle Christene is, maar hulle lewe wys dit nie. Hulle dra slegte vrugte.

Ek en jy moet soos goeie vrugtebome wees. Mense moet kan sien dat ons kind­ers van die Here is. As ons goeie vrugte dra, getuig ons vir God en daardeur kan ons mense vir God se koninkryk wen.

Lees gereeld jou Bybel, gaan kerk toe, bid en hou gereeld godsdiens, dan sal die Here jou help om goeie vrugte te dra.

 

Here, help my om goeie vrugte te dra, sodat ek ’n voorbeeld vir ander kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 3 Julie 2020

Ander se foute

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel
word nie” (Matteus 7:1)

Ons as mense sien so graag ander se foute raak. Wanneer iemand oortree of die verkeerde dinge doen, wys ons hulle gou-gou op hul foute. Maar geen mens is sonder foute nie, ons sondig elke dag.

Hoe kan ons ander oordeel as ons self verkeerde dinge doen? Jesus sê dat ons eers ons eie lewe moet regkry, voordat ons ander op hul foute kan wys.

Al is ons vol sonde, kan ek en jy nog steeds ander probeer reghelp. Dit is nie oordeel nie. Ons moet die Here vra hoe om dit te doen, en dan op ’n mooi manier ander reghelp. Selfs predikante sondig, maar elke Sondag leer hulle vir ons in die kerk hoe om kinders van God te wees.

Ons moet net nie ander oordeel of verwyt nie, maar hulle reghelp soos die Here dit van ons verwag.

 

Here Jesus, ek is jammer dat ek so baie mense veroordeel. Vergewe my asseblief en maak my ’n beter mens. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 Julie 2020

Moenie kommer nie

“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al  hierdie dinge gee” (Matteus 6:33)

Ons is tog so bekommerd oor vandag en môre. In hierdie teks te sê Jesus dat ons nie bekommerd moet wees oor kos of klere nie. Die Here sorg vir alles en almal. Hy sê ons moet kyk na die voëls en wilde diere in die veld. Hulle saai en oes nie, tog sorg die Here vir hulle. Ook die veldlelies swoeg nie en maak nie klere nie, tog sê Jesus dat hulle mooier is as selfs Salomo met al sy prag en rykdom.

Jesus sê dat ek en jy meer werd is as die gras en diere van die veld. Daarom sal Hy soveel te meer vir ons sorg.

Al wat ek en jy moet doen om sonder bekommernisse te wees, is om eers vir God te soek en sy wil te doen. Wanneer ons God se kinders is, sal ons vrede hê, want God weet tog wat ons nodig het. Hy sal ook sorg dat ons elke dag kos en klere het.

 

Vergewe my Here, wanneer ek onnodig bekommerd is. Nou glo ek dat U elke dag vir my sal sorg. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Julie 2020

Skatte in die hemel

“Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie”

(Matteus 6:20)

Elke mens wil graag besittings hê. Ons werk hard om mooi klere, ’n lekker huis, goeie meubels en ook ’n spoggerige motor te kan besit. Die groot gevaar is dat ons so baie wil besit dat ons vergeet van die Here. Sommige mense dink met hul geld kan hulle alles regkry en dat hulle God nie nodig het nie. Wat hulle vergeet, is dat alles van God af kom.

Die Bybel leer nou vir ons dat ons skatte in die hemel moet bymekaar maak. Hier op aarde gaan alles tot niet, en ons kan dit ook nie eendag, as ons doodgaan, saamneem nie.

As ons vir Jesus aangeneem het, Hom dien en gehoorsaam, het ons reeds ’n skat in die hemel wat nooit sal vergaan nie.

 

Dierbare Here, help my om hard te werk om vir my skatte in die hemel bymekaar te maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.