Dagstukkies met CLF 7 Augustus 2020

Bly by Jesus

“Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop”

(Matteus 26:56)

Jesus se vyande wou Hom gevange neem om Hom dood te maak. Hulle het nie geglo dat Hy die Seun van God is nie. Volgens hulle het Jesus teen God gelaster en die doodstraf verdien.

Judas, een van Jesus se dissipels, is omgekoop om Jesus te verraai. Toe Jesus deur die soldate gevang is, was die dissipels so bang dat hulle almal weggehardloop het.

Ons hardloop ook partykeer weg van Jesus. Wanneer iemand verkeerde dinge doen of sê, dan is ons te bang om hulle reg te help. Of as ons in die nood is en hulp nodig het, dan vergeet ons dat die Here daar is om te help.

Moenie weghardloop van Jesus af nie. Stap elke dag saam met Hom. Vertel vir ander mense hoe goed Hy vir jou sorg, sodat hulle ook vir Jesus kan leer ken.

 

Dankie Here Jesus, dat u altyd by my is. Help my om nooit van U af weg te hardloop nie. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 6 Augustus 2020

Waardeer mekaar

“Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie”

(Matteus 26:11)

Op ’n dag was Jesus saam met sy dissipels in die huis van Simon. Daar kom toe ’n vrou wat ’n baie kosbare reukolie op Jesus se kop uitgegooi het. Die dissipels was ontsteld, en sê dat die reukolie verkoop kon word en die geld aan die armes gegee kon word. Hulle het gedink dis geldmors, maar Jesus antwoord en sê dat die vrou ’n goeie daad aan Hom gedoen het. Ook sê Jesus dat hulle altyd die armes by hulle sal hê, maar dat Hy nie altyd by hulle sou wees nie. Jesus sou kort daarna sterf en opvaar na die hemel.

So moet ons ook aan ons familie of vriende goed doen solank ons nog bymekaar is. Enige dag kan ons hulle aan die dood afstaan. Dan is ’n mens spyt dat jy nie genoeg vir daardie persoon omgegee het nie.

Maar ons moet ook ons beste vir die Here gee en doen, omdat Hy ons Here is.

 

Here Jesus, help my om soos hierdie vrou te wees, wat vir U vereer het. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 Augustus 2020

Sorg vir ander

“En die Koning sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matteus 25:40)

Wanneer die oordeelsdag aanbreek, sal Jesus die mense in twee groepe verdeel. Die Bybel sê Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. Sommige sal Hy aanneem, en die ander van hom wegstuur.

Jesus sê in ons teksvers dat as ons goed was vir arm en eenvoudige mense, is dit so goed asof ons vir Hom goed was. Op daardie oordeelsdag sal God weet wie opregte liefde gehad het. Dit is die mense wat God in die hemel wil hê.

Probeer om elke dag vir mense rondom jou iets goeds te doen. Dan doen jy God se wil.

 

My Vader in die hemel, help my om elke dag iets goeds vir my naaste te doen. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Werkverskaffing – 04 Augustus 2020

W E R K V E R S K A F F I N G

D I N S D A G   0 4  A U G U S T U S  2 0 2 0

Die Werkverskaffingsbulletin word elke Dinsdag om 10h40 uitgesaai op 104fm.

 

 

OPVOEDER TEACHER
Vereistes: Opvoeder vir 3-5jaar klas asook Senior Pos in Durbanville/Pinehurst omgewing benodig, met ECD Kwalifikasies, ondervinding, Admin en eie vervoer noodsaaklik. Ure (07h00-17h30).

Stuur CV na helga.botes@gmail.com (Aansoeke sluit 10 Augustus 2020)

 

P.A./HUISHOUDING P.A./HOUSEHOLD
Vereistes: Jong damespersoon benodig om besturende Direkteur by te staan op plaas in Wes Kaap. Inwoningspos. 3-Maande vaste termyn ooreenkoms.

Rig aansoek en verkorte CV aan smartstones@worldonline.co.za

 

DIESEL WERKTUIGKUNDIGE DIESEL MECHANIC
Requirements: Crookes Brothers SA needs a Mechanic for Farm Workshop with excellent mechanical exp. 5yrs working experience as a artisan, exp. in hydraulic and pneumatics, qualified Diesel Mechanic, in depth knowledge of maintenance and repairing of all types of tractors, valid Code 10 drivers license.

Email CV to Regional HR Manager, Mandla Shangase at mshangase.@cbl.co.za

 

STIKSTER MACHINIST
Vereistes: All-rounder Machinist met ondervinding word benodig in Durbanville area.

Kontak: Yolandi by 082 733 5447

Poste moet asseblief teen Maandae 11:00 gestuur word na reception@104fm.co.za.

 

Dagstukkies met CLF 3 Augustus 2020

Bly getrou

“Maar wie tot die einde volhard, sal gered word” (Matteus 24:13)

Die dissipels het na Jesus toe gegaan en vir Hom gevra wanneer die einde van die wêreld sal wees. Hulle wou ook weet watter teken daar sal wees wanneer Jesus weer kom. Ons weet almal dat Jesus weer eendag sal terugkom aarde toe om sy kinders te kom haal.

Jesus waarsku hulle toe dat daar baie mense sal wees wat voorspellings oor die wederkoms sal maak. Maar niemand kan weet wanneer daardie dag sal wees nie, net God alleen weet dit.

Al wat ons moet doen, is om getrou aan God te bly. Vir ons as sy kinders is dit nie belangrik wanneer dit gaan gebeur nie. Al wat ons moet doen is om elke dag gereed te wees, en moet sorg dat ons saak met God reg is. Dan kan Jesus maar enige tyd kom om vir ons na die hemel toe te neem.

 

Help my om getrou te bly, Here. Gee dat ek elke dag gereed sal wees. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 Augustus 2020

Geloof

“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die
gebed vra” (Matteus 21:22)

Op ’n dag was Jesus honger. Hy en sy dissipels sien ’n vyeboom langs die pad, en Jesus gaan kyk of daar vye is om te eet. Al wat aan die boom was, was net blare en geen vye nie. Jesus sê toe dat die boom nooit weer sal vrugte dra nie. Dadelik het die boom verdroog. Die dissipels was baie verbaas, en vra hoekom die boom so skielik verdroog het. Jesus se antwoord was dat as hulle geloof het soos syne, sal hulle dit ook kan doen.

Wat is geloof nou eintlik? Baie mense sukkel daarmee. Wanneer ons graag iets wil hê, of regtig wil hê iets goeds moet gebeur, en ons dan volkome op God staatmaak daarvoor, dan is dit geloof. Ons moet weet dat God alles kan doen. Daarom kan ons altyd vir God vra om ons te help. Ons kan altyd met Hom in gebed praat. Gee jou hele lewe aan God, en so sal jou geloof versterk word.

 

Wonderlike Here, laat u Heilige Gees in my werk sodat ek meer op U kan vertrou. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Augustus 2020

Die Here het jou nodig

“En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur” (Matteus 21:3)

Jesus en sy dissipels was op pad na Jerusalem. Hy stuur toe twee dissipels vooruit en sê dat hulle ’n donkie daar sal kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Hulle moes die donkie losmaak en na Jesus bring. Ook moes hulle vir die mense wat hulle daaroor uitvra sê dat die Here die donkies nodig het. Jesus het op die donkie geklim en so Jerusalem binnegery. Al die mense het Jesus geloof en geprys toe Hy Jerusalem ingaan.

Soos Jesus daardie donkie nodig gehad het, so het die Here ook vir jou en my nodig vir sy werk. Die Here roep ons om vir Hom te werk, dit maak nie saak hoe klein die werk is nie. Ons moet ook so nederig soos Jesus wees om selfs die kleinste taak vir sy koninkryk te doen.

 

Dankie Here dat U ook vir my wil gebruik. Help my om gewillig te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.