Dagstukkies met CLF 3 Julie 2020

Ander se foute

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel
word nie” (Matteus 7:1)

Ons as mense sien so graag ander se foute raak. Wanneer iemand oortree of die verkeerde dinge doen, wys ons hulle gou-gou op hul foute. Maar geen mens is sonder foute nie, ons sondig elke dag.

Hoe kan ons ander oordeel as ons self verkeerde dinge doen? Jesus sê dat ons eers ons eie lewe moet regkry, voordat ons ander op hul foute kan wys.

Al is ons vol sonde, kan ek en jy nog steeds ander probeer reghelp. Dit is nie oordeel nie. Ons moet die Here vra hoe om dit te doen, en dan op ’n mooi manier ander reghelp. Selfs predikante sondig, maar elke Sondag leer hulle vir ons in die kerk hoe om kinders van God te wees.

Ons moet net nie ander oordeel of verwyt nie, maar hulle reghelp soos die Here dit van ons verwag.

 

Here Jesus, ek is jammer dat ek so baie mense veroordeel. Vergewe my asseblief en maak my ’n beter mens. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 Julie 2020

Moenie kommer nie

“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al  hierdie dinge gee” (Matteus 6:33)

Ons is tog so bekommerd oor vandag en môre. In hierdie teks te sê Jesus dat ons nie bekommerd moet wees oor kos of klere nie. Die Here sorg vir alles en almal. Hy sê ons moet kyk na die voëls en wilde diere in die veld. Hulle saai en oes nie, tog sorg die Here vir hulle. Ook die veldlelies swoeg nie en maak nie klere nie, tog sê Jesus dat hulle mooier is as selfs Salomo met al sy prag en rykdom.

Jesus sê dat ek en jy meer werd is as die gras en diere van die veld. Daarom sal Hy soveel te meer vir ons sorg.

Al wat ek en jy moet doen om sonder bekommernisse te wees, is om eers vir God te soek en sy wil te doen. Wanneer ons God se kinders is, sal ons vrede hê, want God weet tog wat ons nodig het. Hy sal ook sorg dat ons elke dag kos en klere het.

 

Vergewe my Here, wanneer ek onnodig bekommerd is. Nou glo ek dat U elke dag vir my sal sorg. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Julie 2020

Skatte in die hemel

“Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie”

(Matteus 6:20)

Elke mens wil graag besittings hê. Ons werk hard om mooi klere, ’n lekker huis, goeie meubels en ook ’n spoggerige motor te kan besit. Die groot gevaar is dat ons so baie wil besit dat ons vergeet van die Here. Sommige mense dink met hul geld kan hulle alles regkry en dat hulle God nie nodig het nie. Wat hulle vergeet, is dat alles van God af kom.

Die Bybel leer nou vir ons dat ons skatte in die hemel moet bymekaar maak. Hier op aarde gaan alles tot niet, en ons kan dit ook nie eendag, as ons doodgaan, saamneem nie.

As ons vir Jesus aangeneem het, Hom dien en gehoorsaam, het ons reeds ’n skat in die hemel wat nooit sal vergaan nie.

 

Dierbare Here, help my om hard te werk om vir my skatte in die hemel bymekaar te maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.