Dagstukkies met CLF 14 Julie 2020

Vind rus by Jesus

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28)

In die tye waarin ons leef is alles so gejaag en deurmekaar. Elke mens moet hard werk om genoeg geld bymekaar te maak sodat daar kos en klere vir sy gesin kan wees. Vandag moet vroue ook werk, anders is daar nie genoeg om van te lewe nie. Ook die kinders word van kleins af in kleuterskole gesit. Ouers het vandag amper nie tyd om rustig saam met hul kinders te wees nie. Ons hardloop van die oggend tot die aand rond om by alles uit te kom.

Soms voel ons dat daar nooit rus en vrede sal wees nie. Nou nooi Jesus ons om by Hom te kom rus vind. As ons elke dag ’n tydjie vir die Here afstaan, sal ons rus en nuwe krag kry vir die volgende dag. Vertel vir God hoe besig en moeg jy is. Hy sal jou weer nuwe moed en krag gee.

 

Here Jesus, baie dankie dat ek by U rus kan vind. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 Julie 2020

Moenie twyfel nie

“En gelukkig is elkeen wat nie aan

My begin twyfel nie” (Matteus 11:6)

Johannes die Doper is deur God gestuur om aan mense te vertel dat Jesus op pad is om vergiffenis van hulle sondes te kom bewerk. Johannes is egter deur Herodus gevang en in die tronk gegooi, omdat hy God se Woord verkondig het. Terwyl hy in die tronk was, het hy gehoor wat Jesus alles doen. Hy stuur toe boodskappers na Jesus om te vra of Jesus regtig die een is wat gestuur is om die wêreld te kom verlos. Jesus se antwoord was dat hulle aan Johannes moet gaan vertel wat hulle alles by Jesus gehoor en gesien het.

Soms twyfel ons ook oor wie Jesus regtig is. Dan kan ons maar net in die Bybel gaan lees hoe groot en wonderlik Jesus is. Hy doen vandag nog wondere, Hy versorg ons. Hy het aan die kruis vir al ons sondes gesterf. Nou hoef ons nooit meer te twyfel aan God se liefde vir ons nie. Glo net dat Jesus my en jou Verlosser is.

 

Dankie Jesus, dat ek nooit weer hoef te twyfel aan u liefde vir my nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 Julie 2020

God sal beloon

“Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle” (Matteus 10:42)

Jesus se opdrag aan sy dissipels was dat hulle aan die geringste en eenvoudige mense goed moet doen. Die dissipels moes omsien na elkeen wat behoeftig of in nood is. God sal hulle beloon selfs as hulle vir iemand net ’n beker koue water gee.

Dit geld sekerlik vir ons ook. Dit geld ook as God se wil vir ons. Die Here sien wanneer ons iets vir ander doen. Selfs al is dit iets kleins wat ons vir iemand doen, God sal ons beloon.

Probeer van vandag af om elke dag vir iemand iets goeds te doen, soos om ’n ou mens oor die straat te help, of om ’n klein kindjie te troos wat huil, of om vir ’n arm mens iets te gee. Dit sal God se hart baie bly maak. God sal jou daarvoor beloon.

 

Here Jesus, help my om ander se nood raak te sien.

Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 11 Julie 2020

Jy is kosbaar vir God

“Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies”

(Matteus 10:31)

In die vorige paar dagstukkies het ons van Jesus geleer dat hulle wat God se Woord verkondig dit nie maklik sal hê nie. Nou vertel Jesus aan sy dissipels dat God selfs vir mossies sorg, al is hulle nie veel werd nie. As God dan vir die mossies sorg, soveel te meer sal Hy ook vir sy dissipels sorg. Hulle hoef dus nie bang te wees om die Woord van God aan ander te gaan verkondig nie.

Vandag wil Jesus ook vir my en jou moed gee om sy werk te doen. Omdat jy kosbaar is vir God, sal Hy jou bewaar en krag gee om sy Naam op aarde groot te maak. Ons besef nie elke dag hoe lief God vir ons is nie. Wanneer ons bereid is om sy werk te doen, hoef ons nooit bang te wees nie. Hy beskerm ons, en sy Heilige Gees sal in ons harte wees, om ons te vertel hoe ons moet optree.

 

Dankie Here dat ek, al is ek ’n sondaar, vir U kosbaar is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 Julie 2020

Swaarkry lê voor

“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe” (Matteus 10:16)

Nadat Jesus aan sy dissipels die opdrag gegee het om sy Woord te gaan verkondig, het Hy hulle ook gewaarsku. Jesus sê dat dit nie ’n maklike taak gaan wees nie. Soos ons teksvers sê, sal hulle soos skape wees tussen wolwe. Ons weet dat wolwe skape sal verskeur en doodmaak.

Wanneer ons getuig van Jesus, en ander mense vertel om sy wil te doen, sal ons ook probleme kry. Mense sal met ons spot en probeer om ons kwaad aan te doen. Sommige mense is al in die tronk gegooi omdat hulle God se Woord verkondig.

Gelukkig gee Jesus ook goeie raad vir sy dissipels. Net soos die dissipels moet ons ook versigtig wees wat ons sê en doen. Ook moet ons opreg soos duiwe wees, sodat mense met respek na ons sal luister. Vra net elke dag dat die Here jou sal lei en die regte woorde in jou mond sal lê.

 

Here, U wat ons stuur, help my om opreg te wees as ek u werk doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 9 Julie 2020

Jesus stuur ook vir jou

“Gaan liewer na die verlore skape van

die volk Israel toe” (Matteus 10:6)

Jesus het besluit om sy twaalf dissipels uit te stuur om God se boodskap te gaan verkondig. Die dissipels was al lank saam met Jesus gewees, sodat hulle nou op hul eie die Woord kon gaan verkondig. Jesus het hulle mooi geleer, en hulle het verstaan waaroor alles gaan. Die opdrag wat Jesus gegee het, was dat hulle die Woord aan die verlore skape moes gaan bring. Dit beteken dat hulle mense wat nog nie vir Jesus aange­neem het nie, na Jesus toe moes lei.

Hierdie opdrag gee Jesus vandag ook vir jou en my. Ons het nou al baie van die Bybel en van die Here geleer, en nou is dit ons beurt om vir Jesus te gaan werk. Ons hoef nie na ver plekke of ander lande toe te gaan nie. As ons rondom ons kyk, sal ons baie verlore skape sien wat ons kan help. Wees net elke dag gewillig om vir God te werk.

 

Here Jesus, stuur ook vandag vir my om vir U te werk.
 Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 8 Julie 2020

Die groot oes

“Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die

arbeiders min” (Matteus 9:37)

 

Almal van ons wat al op ’n plaas gewerk het, weet dat baie mense nodig is om ’n oes in te samel. Elke boer wil graag soveel as moontlik van sy oes bymekaar maak. Dan is daar geld om die werksmense te betaal sodat hulle weer kos en klere kan koop.

Jesus gebruik hierdie voorbeeld om te sê dat daar nog baie mense is wat God se Woord moet hoor. Dit is die oes wat ingesamel moet word vir God se koninkryk. Die probleem is dat daar so min mense is wat bereid is om God se Woord aan ander te bring. Dit is die arbeiders waarvan Jesus praat.

Omdat daar so min mense is wat God se Woord verkondig, verwag die Here dat ek en jy ook ons deel moet doen. Kom ons begin sommer vandag al om die oes vir God in te samel.

 

Here, gee tog dat u Heilige Gees mense sal roep om u groot oes in te samel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 Julie 2020

Jesus roep sondaars

“Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars” (Matteus 9:13)

Op ’n dag het Jesus by ’n tolhuis verbygegaan en ’n man met die naam Matteus daar sien sit. Jesus sê toe vir hom om Hom te volg. Hy het toe dadelik vir Jesus gevolg. In daardie dae was die meeste mense wat by die tolhuise gewerk het beskou as oneerlik. Hulle het te veel belasting gevra en dan daarvan vir hulleself gevat. Hulle was dus sondaars.

Van die mense was ontsteld omdat Jesus ook saam met Matteus by sy huis gaan eet het. Hulle kon nie verstaan waarom Jesus saam met ’n sondaar eet nie. Jesus het hulle hoor praat en gesê dat gesonde mense nie ’n dokter nodig het nie. Wat Jesus bedoel het, is dat sondaars vir Jesus nodig het. Dit is tog die rede dat Jesus gesterf het – vir sondaars.

Ons moenie sommer dink dat mense verlore is nie. God se genade is groot, en ons moet ons deel doen dat sondaars tot bekering sal kom.

 

Dankie Here Jesus, dat U gekom het om vir sondaars te sterf – ook vir my. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 6 Julie 2020

Wees gelowig

“Hy sê vir hulle: ‘Waarom is julle bang, kleingelowiges?’ ”

(Matteus 8:26)

Op ’n dag was Jesus saam met sy dissipels in ’n skuit op die see. Terwyl Jesus geslaap het, het daar ’n groot storm losgebars. Die golwe het oor die skuit geslaan en die dissipels was bang dat hulle sou verdrink. Hulle maak toe vir Jesus wakker en vra Hom om hulle te red. Jesus antwoord en sê dat hulle bang is omdat hulle geloof so klein is. Toe het Jesus die storm laat bedaar.

Elkeen van ons is ook soms bang. Ons weet Jesus is altyd by ons, tog is ons geloof so klein. Ek en jy moet altyd weet dat Jesus by ons is en dat Hy ons sal beskerm. As ons sy kinders is, moet ons net op Hom vertrou. So baie plekke in die Bybel lees ons dat die Here belowe om ons altyd by te staan. Onthou, die Here kom altyd sy beloftes na!

 

Liefdevolle Here, dankie dat U altyd u beloftes nakom. Vergewe my die tye wanneer ek so kleingelowig is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 4 Julie 2020

Goeie en slegte vrugte

“Elke goeie boom dra tog goeie vrugte,

maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Matteus 7:17)

Ons ken almal vrugtebome. Baie van ons werk op plase en ken verskillende soorte vrug­te­bome. Wanneer ons ’n vrugteboom goed versorg, dra daardie boom goeie en lekker vrugte.

Jesus gebruik die voorbeeld van vrugtebome om ons te waarsku teen mense wat voorgee dat hulle kinders van God is, maar dit nie regtig is nie. Jou optrede en hoe jy leef, is soos vrugte wat jy dra. Party mense sê dat hulle Christene is, maar hulle lewe wys dit nie. Hulle dra slegte vrugte.

Ek en jy moet soos goeie vrugtebome wees. Mense moet kan sien dat ons kind­ers van die Here is. As ons goeie vrugte dra, getuig ons vir God en daardeur kan ons mense vir God se koninkryk wen.

Lees gereeld jou Bybel, gaan kerk toe, bid en hou gereeld godsdiens, dan sal die Here jou help om goeie vrugte te dra.

 

Here, help my om goeie vrugte te dra, sodat ek ’n voorbeeld vir ander kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.