Dagstukkies met CLF 25 Julie 2020

Soos kindertjies

“En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang,

ontvang My.” (Matteus 18:5)

Die dissipels het op ’n keer vir Jesus gevra wie die belangrikste in die koninkryk van God is. Jesus het ’n kindjie tussen hulle laat staan, en gesê dat elkeen wat homself so gering ag soos ’n kindjie is belangrik in die koninkryk van die hemel. Jesus het daarmee bedoel dat ons nie moet dink dat ons belangrik is nie. Ons weet dat ’n klein kindjie maar net ontvang, en eenvoudig glo wat aan hom vertel word.

So moet ek en jy ook wees. Nederig en klein voor God. Ons moet soos ’n kindjie aanvaar wat ons lees in die Bybel. Ons hoef nie baie vrae te vra oor hoe en waarom God dinge in die wêreld laat gebeur nie. Glo net soos ’n kind, en God sal vir ons eendag in die hemel alles verduidelik.

 

Here, help my om elke dag op U te vertrou soos ’n kindjie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 Julie 2020

Here, red my

“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: ‘Here, red my!’ ” (Matteus 14:30)

Op ’n dag was die dissipels in ’n skuit op die see. Jesus was nie by hulle nie, want Hy het agtergebly om te bid. Daar was ’n sterk wind en groot golwe op die see. Jesus het toe later op die see na hulle toe geloop. Toe hulle sien dat iemand op die water loop, het hulle gedink dat dit ’n spook was en het baie bang geword. Jesus het hulle toe gerus­gestel en gesê dat dit Hy was en dat hulle nie hoef bang te wees nie. Petrus het toe vir Jesus gevra of hy maar na Hom toe kon loop, en toe Jesus sê dat hy maar kan kom, het hy begin loop op die water. Maar toe Petrus die groot golwe sien, het hy bang geword, en toe begin sink hy in die water in. Dis toe dat hy om hulp geroep het.

Gelukkig was Jesus naby. Hy het sy hand gevat en hom in die skuit gehelp. Soms word ons ook bang as die gevaar groot is. Dan moet ons net onthou dat die Here naby ons is om ons hand te vat. Al is jy soms in groot gevaar, vertrou op die Here – Hy sal jou red.

 

Dankie Here dat ek op U kan staatmaak as ek in gevaar is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 22 Julie 2020

Gee dit vir Jesus

“Bring dit vir my hier, sê Hy” (Matteus 14:18)

Ons almal weet seker van die keer toe Jesus duisende mense kos gegee het met net vyf brode en twee vissies. Al daardie mense het na Hom kom luister. Toe dit aand word, wou Jesus se dissipels die mense wegstuur om vir hulle kos te koop. Jesus het egter vir sy dissipels gesê dat húlle vir die mense kos moes gee om te eet. Maar al wat hulle in die hande kon kry was die vyf brode en twee visse. Dit was vir die dissipels ’n groot probleem, want hoe kan jy vir soveel mense daarmee kos gee? Dit was ’n onmoontlike taak.

Gelukkig was Jesus daar om te help. Nadat Jesus opgekyk het na die hemel en die seën gevra het, het die dissipels die vis en brood aan die mense uitgedeel. Almal het genoeg geëet, en daar het nog baie oorgebly.

Soms het ons ook ’n groot probleem. Moenie van Jesus vergeet nie. Gee dit vir Hom, en Hy sal dit vir jou oplos. Glo en vertrou net, die Here kan alles doen.

 

Here Jesus, dankie dat U vandag vir my geleer het om my probleme vir U te gee. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 Julie 2020

Die goeie saad

“Jesus antwoord: ‘Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens’ ” (Matteus 13:37)

In Matteus 13:24-30 vertel Jesus die gelykenis van
onkruid wat tussen die koring gegroei het. Die boer se werkers het aan hom gaan vertel van die onkruid tussen die koring, en Hom gevra waar dit vandaan kom. Die boer antwoord dat dit die vyand se werk is. Die werkers wou toe die onkruid tussen die koring gaan uittrek, maar die boer keer hulle en sê dat wanneer hulle die dag gaan oes kan die koring en die onkruid van mekaar geskei word. Die onkruid kan verbrand word en die koring kan in die skuur gestoor word.

Die dissipels vra toe vir Jesus om die gelykenis aan hulle te verduidelik. Jesus sê toe dat dit God is wat die goeie saad saai. Die onkruid is van die duiwel. Wanneer Jesus weer kom, sal Hy sy kinders bymekaarmaak en die duiwel en sy kinders sal vernietig word.

In hierdie ou wêreld van ons is daar goeie en slegte mense. Almal leef saam, maar op die oordeelsdag sal net God se kinders in die hemel kom.

 

Saai ook die goeie saad in my, o Heer. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 Julie 2020

Die goeie grond

“Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan” (Matteus 13:23)

Ons het gesien wat van die saad geword het wat op die verskillende soorte grond geval het. Maar daar is ook dié wat op die goeie grond geval het. Gelukkig het hierdie saad goeie vrug en ’n groot oes ingebring.

Wanneer God se Woord aan iemand verkondig word en so ’n persoon hoor en verstaan dit, is dit soos die saad wat op goeie vrugbare grond geval het. So moet ek en jy ook wees. Ons moet die Woord van God hoor en verstaan. Dan kan ons weer vir ander vertel en so groei die boodskap van verlossing deur die hele wêreld.

Doen moeite om God se Woord te kan verstaan. Vra die Here om jou te help daarmee. Saai elke dag ’n saadjie in iemand se hart, God self sal dit laat groei.

 

Dankie Here dat U vir my die verstand gegee het om u Woord te kan verstaan. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 Julie 2020

Oppas vir die onkruid

“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug” (Matteus 13:22)

Die derde deel van hierdie gelykenis gaan oor die saad wat tussen die onkruid geval het. Die saad het wel opgekom, maar die onkruid het dit doodgegroei.

Jesus verduidelik dit só aan sy dissipels. Baie mense hoor die Woord van God, maar omdat hulle soveel bekommernisse het, vergeet hulle van die Here. Vir sommige is hulle rykdom byvoorbeeld vir hulle so belangrik dat hulle dink dat hulle God nie nodig het nie.

Ons weet dat ons al ons bekommernisse vir die Here kan gee, Hy sal dit vir ons oplos. Ons hoef ook nie rykdom na te jaag nie. God weet wat ons nodig het en sal vir ons sorg. Al wat ek en jy moet doen is om te glo dat Jesus ons Verlosser is, dan kan die saad wat in harte gesaai is goeie vrugte dra.

 

Help my, Here, om ook die saad in ander se lewens te saai. Ek weet U sal self die saad laat groei. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 18 Julie 2020

Vasbyt

“Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie” (Matteus 13:21)

In hierdie teks verduidelik Jesus vir ons dat dit by party mense is soos die saad wat op klipbanke geval het. Saad wat op klipbanke val, ontkiem gou, maar dit groei nie baie lank nie omdat die grond vlak is en die wortels nie goed kan ontwikkel nie. As die son dan warm skyn, verdroog die plante gou en gaan dood.

Dit is soos mense wat God se Woord hoor, en dit aanneem, maar gou weer vergeet as dinge bietjie moeilik begin gaan. Hulle gee gou moed op en vertrou nie op God nie. Ons het al voorheen geleer dat God getrou is, en dat Hy altyd vir ons sal help en moed gee.

Onthou maar net elke dag, ook as dit moeilik gaan, dat God naby is. Hou vas aan die Woord. Ons moet aanhou en vasbyt, want eendag sal ons die oorwinning behaal.

 

Here, U wat met ons praat,  dankie dat ek al u Woord kon hoor. Help my om aan te hou tot die end toe ter wille van U. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 17 Julie 2020

Kry kennis

“Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is” (Matteus 13:19)

Die Woord van God is die saad. Mense wat die Woord verkondig, is die saaiers. Nou sê hierdie vers vir ons dat die duiwel by elke mens kom wat God se Woord hoor. Die duiwel sal alles probeer om mense van die Here af weg te lei. Party mense het nog nie mooi gehoor nie, en dan vat die duiwel dit uit hul hart weg. Dit is by sulke mense asof die saad op die pad gesaai is en die voëls dit opgepik het.

Die les wat ons hieruit moet leer, is om goed te luister na God se Woord sodat ons dit kan verstaan. Lees jou Bybel, gaan gereeld kerk toe, en bid dat die Heilige Gees jou moet leer verstaan. Dan sal jy kan veg teen die satan wanneer hy jou wil verlei.

 

Liefdevolle Here, leer my elke dag om u Woord te verstaan sodat ek weerstand kan bied teen die sonde. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 16 Julie 2020

God se Woord

“’n Saaier het eendag gaan saai” (Matteus 13:3)

Eendag was daar baie mense om na Jesus te luister. Hy het in ’n skuit geklim terwyl die mense op die strand gestaan het. Jesus het die mense geleer deur gelykenisse aan hulle te vertel. Die gelykenisse is stories wat Jesus gebruik het om vir die mense groot dinge oor die koninkryk van God te leer.

Toe vertel Jesus hulle van ’n man wat eendag saad gaan saai het. Kom ons sê dit was koringsaad, want ons almal ken tog koring. Terwyl die man saai, het ’n deel van die saad op die pad geval. Die voëls het gekom in dit opgepik. ’n Ander deel van die saad het op die klipbanke geval. Dit het opgekom, maar omdat die grond nie baie diep was nie, het die son dit verskroei. Nog ’n deel het tussen die onkruid geval, en dit het ook opge­kom, maar is deur die onkruid verstik. Die ander saad het in vrugbare grond geval, en dit het ’n groot oes opgelewer.

Oor die volgende dae gaan ons kyk wat Jesus daarmee bedoel het.

 

Here Jesus gee my asseblief die kennis om u Woord te verstaan. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 15 Julie 2020

God se familie

“Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder” (Matteus 12:50)

Op ’n dag was Jesus besig om met mense te praat. Sy ma en broers het ook daar aangekom en wou met Hom praat. Jesus was so besig dat Hy hulle nie raakgesien het nie. Iemand het toe vir Jesus gesê dat sy familie met Hom wil praat. Jesus doen toe ’n baie vreemde ding. Hy wys toe na sy dissipels en sê dat hulle sy ma en broers is.

Wat wou Jesus hierdeur vir ons leer? Ons kry die antwoord in ons teksvers. Ons wat die wil van God doen, óns is sy familie. Almal wat hul harte vir Jesus gee, is soos een groot gesin in die koninkryk van God.

Elke dag as jy iemand ontmoet wat ’n kind van die Here is, moet jy weet dat julle saam aan God se groot familie behoort.

 

Dankie, my Heer, dat ek ook deel is van u familie. Help my om ook te werk om u familie meer te maak. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.