Dagstukkies met CLF 6 Augustus 2020

Waardeer mekaar

“Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie”

(Matteus 26:11)

Op ’n dag was Jesus saam met sy dissipels in die huis van Simon. Daar kom toe ’n vrou wat ’n baie kosbare reukolie op Jesus se kop uitgegooi het. Die dissipels was ontsteld, en sê dat die reukolie verkoop kon word en die geld aan die armes gegee kon word. Hulle het gedink dis geldmors, maar Jesus antwoord en sê dat die vrou ’n goeie daad aan Hom gedoen het. Ook sê Jesus dat hulle altyd die armes by hulle sal hê, maar dat Hy nie altyd by hulle sou wees nie. Jesus sou kort daarna sterf en opvaar na die hemel.

So moet ons ook aan ons familie of vriende goed doen solank ons nog bymekaar is. Enige dag kan ons hulle aan die dood afstaan. Dan is ’n mens spyt dat jy nie genoeg vir daardie persoon omgegee het nie.

Maar ons moet ook ons beste vir die Here gee en doen, omdat Hy ons Here is.

 

Here Jesus, help my om soos hierdie vrou te wees, wat vir U vereer het. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 Augustus 2020

Sorg vir ander

“En die Koning sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matteus 25:40)

Wanneer die oordeelsdag aanbreek, sal Jesus die mense in twee groepe verdeel. Die Bybel sê Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. Sommige sal Hy aanneem, en die ander van hom wegstuur.

Jesus sê in ons teksvers dat as ons goed was vir arm en eenvoudige mense, is dit so goed asof ons vir Hom goed was. Op daardie oordeelsdag sal God weet wie opregte liefde gehad het. Dit is die mense wat God in die hemel wil hê.

Probeer om elke dag vir mense rondom jou iets goeds te doen. Dan doen jy God se wil.

 

My Vader in die hemel, help my om elke dag iets goeds vir my naaste te doen. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 3 Augustus 2020

Bly getrou

“Maar wie tot die einde volhard, sal gered word” (Matteus 24:13)

Die dissipels het na Jesus toe gegaan en vir Hom gevra wanneer die einde van die wêreld sal wees. Hulle wou ook weet watter teken daar sal wees wanneer Jesus weer kom. Ons weet almal dat Jesus weer eendag sal terugkom aarde toe om sy kinders te kom haal.

Jesus waarsku hulle toe dat daar baie mense sal wees wat voorspellings oor die wederkoms sal maak. Maar niemand kan weet wanneer daardie dag sal wees nie, net God alleen weet dit.

Al wat ons moet doen, is om getrou aan God te bly. Vir ons as sy kinders is dit nie belangrik wanneer dit gaan gebeur nie. Al wat ons moet doen is om elke dag gereed te wees, en moet sorg dat ons saak met God reg is. Dan kan Jesus maar enige tyd kom om vir ons na die hemel toe te neem.

 

Help my om getrou te bly, Here. Gee dat ek elke dag gereed sal wees. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 Augustus 2020

Geloof

“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die
gebed vra” (Matteus 21:22)

Op ’n dag was Jesus honger. Hy en sy dissipels sien ’n vyeboom langs die pad, en Jesus gaan kyk of daar vye is om te eet. Al wat aan die boom was, was net blare en geen vye nie. Jesus sê toe dat die boom nooit weer sal vrugte dra nie. Dadelik het die boom verdroog. Die dissipels was baie verbaas, en vra hoekom die boom so skielik verdroog het. Jesus se antwoord was dat as hulle geloof het soos syne, sal hulle dit ook kan doen.

Wat is geloof nou eintlik? Baie mense sukkel daarmee. Wanneer ons graag iets wil hê, of regtig wil hê iets goeds moet gebeur, en ons dan volkome op God staatmaak daarvoor, dan is dit geloof. Ons moet weet dat God alles kan doen. Daarom kan ons altyd vir God vra om ons te help. Ons kan altyd met Hom in gebed praat. Gee jou hele lewe aan God, en so sal jou geloof versterk word.

 

Wonderlike Here, laat u Heilige Gees in my werk sodat ek meer op U kan vertrou. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Augustus 2020

Die Here het jou nodig

“En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur” (Matteus 21:3)

Jesus en sy dissipels was op pad na Jerusalem. Hy stuur toe twee dissipels vooruit en sê dat hulle ’n donkie daar sal kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Hulle moes die donkie losmaak en na Jesus bring. Ook moes hulle vir die mense wat hulle daaroor uitvra sê dat die Here die donkies nodig het. Jesus het op die donkie geklim en so Jerusalem binnegery. Al die mense het Jesus geloof en geprys toe Hy Jerusalem ingaan.

Soos Jesus daardie donkie nodig gehad het, so het die Here ook vir jou en my nodig vir sy werk. Die Here roep ons om vir Hom te werk, dit maak nie saak hoe klein die werk is nie. Ons moet ook so nederig soos Jesus wees om selfs die kleinste taak vir sy koninkryk te doen.

 

Dankie Here dat U ook vir my wil gebruik. Help my om gewillig te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 30 Julie 2020

Alles kom van God

“Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan,

want hy het baie besittings gehad” (Matteus 19:22)

Eendag het daar ’n jongman na Jesus toe gekom en gevra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry. Jesus het hom liefgekry, en hom geantwoord dat hy God se gebooie moet gehoorsaam. Op sy beurt antwoord die man dat hy dit alles nakom. Jesus het geweet dat hy baie ryk was, en sê toe vir hom dat Hy al sy besittings moet gaan verkoop en dit vir die armes gee. Hierdie ryk jongman was te lief vir sy besittings, daarom was hy nie bereid om dit weg te gee nie.

Ons moet onthou dat alles wat ons het van God af kom. Ons mag nie so lief vir ons besittings wees dat ons van God vergeet nie. Jesus sê ons skatte moet in die hemel wees. Gee altyd iets vir die armes, dan sal jou skat in die hemel wees. Onthou ook dat die Here die belangrikste in jou lewe moet wees.

 

Here, help my dat aardse dinge nooit vir my belangriker as U sal wees nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 29 Julie 2020

Die huwelik

“Hulle is dus nie meer twee nie, maar een.

Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie”
(Matteus 19:6)

Byna alle mense wil graag eendag trou. Die Here het ’n man en vrou so gemaak om saam te wees. Jesus sê dat die huwelik is asof twee mense een gemaak is, en wat God saamgevoeg het, mag niemand skei nie.

Wanneer ’n mens jonk is en begin dink aan trou, moet ons vir God vra om vir ons die regte lewensmaat te gee. Dis ’n belangrike besluit wat ons moet neem. As ons ’n Christen lewensmaat kies en vir die Here vra om saam te stap, sal geen probleem op die pad te groot wees nie.

Trou oor die regte redes, bid daaroor en die Here sal julle seën. Vandag skei mense so maklik, maar dis nie God se wil nie. Elke huwelik het sy probleme, maar saam met die Here kan dit opgelos word.

 

Troue Here, gee tog oplossings vir die huwelike wat probleme het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 28 Julie 2020

Vergewe

“Jesus antwoord hom: ‘Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer’ ”

(Matteus 18:22)

Petrus het op ’n dag vir Jesus gevra hoeveel keer ’n mens iemand moet vergewe wat iets verkeerd teen jou gedoen het. Sou sewe keer genoeg wees? Jesus antwoord hom en sê: nie net sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer. As ons ’n som maak is dit vier honderd en negentig.

Maar eintlik is dit soos die kinders sê: oneindig! Wat Jesus bedoel is dat ons moet vergewe sonder om te tel. As ’n mens kon tel hoeveel keer die Here ons vergewe, sal dit baie meer wees as vier honderd en negentig. Elke dag sondig ons, en elke keer vergewe die Here ons.

God verwag van ons om mekaar ook so te vergewe soos Hy ons vergewe. As ek en jy nie mekaar kan vergewe nie, hoe kan ons dan verwag dat God ons moet vergewe?

 

Vergewe my Here dat ek ander nie vergewe nie. Help my om soos U te kan vergewe. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 27 Julie 2020

Julle is nie alleen nie

“Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matteus 18:20)

Ons as mense wil so graag in beheer van ons lewe wees. Ons wil ons eie sake doen en self ons probleme oplos. Baie keer is ons te trots om ander mense te vra om te help. Ook vergeet ons dat ons ’n Here het wat ons so graag wil help.

In hierdie teks sê Jesus vir ons om in sy Naam dinge saam te doen, want dan is God by ons om te help. Ons moenie bang wees om vir ander mense te vra om saam te bid vir een of ander probleem nie.

As jy voel iets moet gedoen word aan ’n probleem, vra jou Christen vriende om saam oor die saak te bid. Of dit nou die land se probleme is, of in jou gemeente, of wat ook al, bid saam en God self sal daar wees om ’n oplossing te gee.

 

Here, dankie vir die versekering dat U daar sal wees as ek en my vriende of familie saam bid. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 26 Julie 2020

Die verlore skaap

“So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie” (Matteus 18:14)

Jesus is baie lief vir kindertjies. Daarom het Hy die gelykenis van die verlore skaap aan sy dissipels vertel. Daar was ’n man wat honderd skape gehad het. Op ’n dag het een van hulle weggeraak. Hy het die nege en negentig net so in die kraal gelos en die verlore skaap gaan soek. Toe hy hom kry, was hy so bly asof daardie een vir hom belangriker was as die res van die trop.

Die Here wil nie hê dat een kind verlore moet gaan nie. Dit is ons plig om vir kinders van kleins af van die Here te leer. Wanneer ouers hul kinders laat doop, belowe hulle aan God om hulle vir Hom groot te maak.

Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, probeer altyd om vir kindertjies van Jesus te vertel. En wees goed vir kinders. Dit sal God se hart baie bly maak.

 

Gee vir my die wysheid, Here, om vir klein kindertjies van U te vertel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.