Dagstukkies met CLF 16 Augustus 2020

Waar kom kwaad vandaan?

“Maar”, het Hy verder gesê: ‘wat van binne af uit ’n mens kom,

dit maak ’n mens onrein’ ” (Markus 7:20)

Ons lees op baie plekke in die Bybel, veral in die Ou Testament, van die woord onrein. Daar word geskryf van onrein diere, onrein kos en ook onrein mense. Onrein beteken alles wat verkeerd is, soos slegte gedagtes, slegte woorde, en slegte dade soos diefstal, moord, bedrog, afguns, kwaad­pratery en sulke dinge.

Op ’n dag toe Jesus met sy dissipels alleen was, het hulle Hom uitgevra oor die begrip onrein. Jesus verduidelik toe aan hulle dat nie die dinge wat ’n mens eet of drink die mens onrein maak nie, maar wel die gedagtes en woorde wat uit die mens kom.

Verkeerde dinge kom uit ons harte. Daarom moet ons vir Jesus in ons harte toelaat, want dan is daar nie plek vir al die verkeerde en lelike goed nie. As jou hart skoon en rein is, sal jou lewe ook mooi en goed wees.

 

Heilige Here, dankie dat U in my hart woon. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 15 Augustus 2020

Praat oor Jesus

“En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele

omgewing oor Hom gepraat” (Markus 1:28)

Nadat Jesus begin het om die mense te leer en om siekes gesond te maak, het die mense begin om van Hom te praat. Omdat Jesus sulke wonderlike dinge gesê en gedoen het, het Hy gou bekend geraak. Mense het vir mekaar vertel wat Jesus alles gedoen het. Dan het hulle in groot groepe na Jesus gegaan om na Hom te luister.

Ons praat ook maklik oor mense wat bekend en beroemd is. Maar snaaks genoeg sukkel ons om elke dag met ons vriende of bure oor Jesus te praat. Dit moet egter nie so wees nie. Ons wat God se kinders is, moenie skaam wees om oor Hom te praat nie. God wil hê dat ons van Hom moet praat, en so sy Naam groot maak.

Probeer om elke dag met iemand oor Jesus te praat, en so sal dit vir jou al mak­lik­er word om vir God te getuig.

 

Here Jesus, gee vir my die moed om vandag vir iemand van U te vertel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 14 Augustus 2020

Glo God se Woord

“Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie’ ” (Markus 1:15)

Die eerste vier boeke van die Nuwe Testament word die evangelies genoem. In hierdie boeke word vir ons vertel van Jesus se geboorte, wat Hy alles op aarde gedoen het, en hoe Hy gekruisig is en weer opgestaan het. Elke evangelie is deur ’n ander skrywer geskryf.

Vandag begin ons om Markus se evangelie te lees waar hy van die begin van Jesus se werk geskryf het. Soos ons teksvers sê, het Jesus almal opgeroep om te verander, om om te draai. Vandag beteken dit dat ons vir Jesus as Verlosser moet aanneem, en glo wat die Bybel vir ons sê.

Ek en jy moet elke dag getrou ons Bybel lees en glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het, dan is ons kinders van God se koninkryk.

 

Dankie vir u Woord, Here. Help my om te glo. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 Augustus 2020

Jesus se opdrag

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Matteus 28:19)

Nadat Jesus opgestaan het, het Hy sy dissipels by die berg naby Galilea ontmoet. Toe hulle Jesus sien, het hulle Hom aanbid. Sommige van hulle het nog getwyfel of dit werklik Jesus was wat uit die dood opgestaan het.

Jesus gee toe vir hulle ’n opdrag wat nie net vir sy dissipels van daardie tyd bedoel was nie, maar vir elkeen van ons wat sy kinders is. Hulle moes na alle mense en nasies toe gaan en sy Woord gaan verkondig. Jesus wil hê dat ek en jy sy getuies moet wees, en aan mense van Jesus vertel.

Omdat ons vir Jesus leer ken het, kan ons nou sy boodskap aan ander vertel. Dink net hoeveel vrede en vreugde hier op aarde sal wees as almal aan Jesus behoort.

Probeer om solank jy op aarde is, elke dag so te lewe dat ander mense kan sien dat jy ’n kind van die Here is.

 

Here, gee my die wysheid om u boodskap aan ander oor te dra. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 Augustus 2020

Jesus het opgestaan

“Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het” (Matteus 28:6)

Op die derde dag nadat Jesus gesterf het, het Maria Magdalena en die ander Maria na Jesus se graf toe gegaan om Hom verder te versorg. Intussen was daar egter iets soos ’n groot aardbewing. ’n Engel van die Here het die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit. Die engel sê toe vir die vroue dat Jesus opgestaan het, en dat hulle dit vir die dissipels moes gaan vertel.

Hulle was bang, maar baie bly, en het gehardloop om dit vir die dissipels te gaan vertel. Skielik het Jesus voor hulle gestaan en hulle gegroet. Die vroue was baie verbaas en het vir Jesus aanbid. Toe sê Jesus vir hulle dat hulle nie bang moes wees nie.

Soos Jesus daardie vroue gerus gestel het, net so hoef ons ook nooit bang te wees nie. Jesus het opgestaan sodat ons nooit sal sterf nie, maar vir ewig by Hom kan woon.

 

Dankie Jesus dat U die dood oorwin het. Nou kan ek ook vir ewig by U gaan woon. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 11 Augustus 2020

Jesus word begrawe

“Laat die middag het daar ’n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook ’n volgeling van Jesus was” (Matteus 27:57)

’n Mens sou dink dat Jesus se dissipels self vir Jesus sou begrawe, maar ons lees dat daar gelukkig ’n ryk man met die naam van Josef gekom het om Hom te begrawe. Hy het Jesus se liggaam geneem en in skoon linne toegedraai. Toe het hy vir Jesus in ’n nuwe graf, wat uit rots gekap is, neergelê. Ook het hy ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol. In daardie dae is dit hoe mense begrawe is.

Ons lees dat daardie Josef ’n volgeling van Jesus was, hoewel hy nie een van Jesus se binnekring-dissipels was nie. Dit sê vir ons dat hy ’n kind van die Here was. Hy was nie skaam om dit bekend te laat word nie. Soos daardie Josef ’n goeie daad vir Jesus gedoen het, moet ons ook sorg vir almal wat oor ons pad kom.

 

Here, maak my gewillig om ook my deel vir ander te doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 Augustus 2020

Jesus sterf

“Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas” (Matteus 27:50)

Hulle het Jesus na ’n plek geneem met die naam Golgota. Daar het hulle Hom aan ’n houtkruis vasgespyker en die soldate het by Hom waggehou. Baie mense wat daar verbygeloop het, het met Hom gespot en gesê dat Hy ander mense kon red, maar homself kon Hy nie red nie.

Teen twaalfuur het daar groot donkerte oor die land gekom. Die aarde het geskud en die rotse het uitmekaar gebars. Toe die soldate al hierdie dinge sien gebeur, was hulle baie bang en het hulle gesê dat Jesus werklik die Seun van God is.

So het Jesus vir ons almal gesterf. Gelukkig het Hy die dood oorwin en na drie dae weer opgestaan. Nou kan alle mense wat glo, eendag vir ewig by God in die hemel woon. Jesus is nou by sy Vader waar Hy vir ons as sy kinders plek maak om vir altyd daar te woon.

 

Here, help my om so in U te glo dat ek ook eendag in die hemel saam met U kan woon. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 9 Augustus 2020

Jesus word gekruisig

“Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: ‘Dit is Jesus, die koning van die Jode’” (Matteus 27:37)

Jesus is toe na die goewerneur Pilatus gebring. Hy was die regter wat moes besluit of Jesus skuldig is of nie. Pilatus het geen skuld in Jesus gekry nie, en Hom probeer los kry. Toe hy vir die mense vra wat hy met Jesus moes doen, het hulle al harder geskree dat Jesus gekruisig moes word. Toe Pilatus sien dat hy die mense nie kan beheer nie, het hy Jesus oorgelewer om gekruisig te word.

Hoewel Jesus onskuldig was, was dit sy Vader in die hemel se wil dat Hy moes sterf. Jesus het baie swaar gekry, tog was Hy gewillig om vir ons sondes te sterf. Jesus het nie gesterf vir goeie mense nie, maar vir sondaars soos ek en jy. Kom ons loof en prys Hom vir alles wat Hy vir ons deurgemaak het.

 

Here Jesus, soos U vir my vergewe het, help my om ook ander te kan vergewe. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 8 Augustus 2020

Vir my en jou

“Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan”

(Matteus 26:67)

Nadat hulle Jesus gevange geneem het, is Hy weggelei na die hoëpriester waar die skrifgeleerdes en familiehoofde bymekaar gekom het. Hulle het hard probeer om Jesus skuldig te kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Toe het hulle besluit dat Jesus so skuldig is dat Hy doodgemaak moet word. Hulle het in sy gesig gespoeg en Hom geslaan soos ons in die teksvers lees.

Jesus het al daardie pyn en vernedering verduur vir almal wat in Hom glo, ook vir jou en my. Jesus moes dit alles deurgaan, en uiteindelik sterf, om vir ons sondes te betaal.

Soms kry ons ook baie swaar hier op aarde, maar as ons dink aan wat Jesus deurgemaak het, kan ons nie kla nie. Elke dag moet ons vir die Here dankie sê dat Hy al daardie lyding vir ons deurgemaak het. As Jesus nie aan die kruis gesterf het nie, was ek en jy verlore mense.

 

Jesus, dankie dat U vir my al daardie pyn verduur het.  Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 Augustus 2020

Bly by Jesus

“Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop”

(Matteus 26:56)

Jesus se vyande wou Hom gevange neem om Hom dood te maak. Hulle het nie geglo dat Hy die Seun van God is nie. Volgens hulle het Jesus teen God gelaster en die doodstraf verdien.

Judas, een van Jesus se dissipels, is omgekoop om Jesus te verraai. Toe Jesus deur die soldate gevang is, was die dissipels so bang dat hulle almal weggehardloop het.

Ons hardloop ook partykeer weg van Jesus. Wanneer iemand verkeerde dinge doen of sê, dan is ons te bang om hulle reg te help. Of as ons in die nood is en hulp nodig het, dan vergeet ons dat die Here daar is om te help.

Moenie weghardloop van Jesus af nie. Stap elke dag saam met Hom. Vertel vir ander mense hoe goed Hy vir jou sorg, sodat hulle ook vir Jesus kan leer ken.

 

Dankie Here Jesus, dat u altyd by my is. Help my om nooit van U af weg te hardloop nie. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.