Dagstukkies met CLF 26 Augustus 2020

Die Here vertroos

“Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: ‘Moenie huil nie!’ ”(Lukas 7:13)

Jesus en sy dissipels was op pad na ’n dorp met die naam Nain. Toe hulle by die dorp kom, sien hulle mense wat ’n dooie dra om begrawe te word. Dit was die enigste seun van sy ma, wat ’n weduwee was. Toe Jesus die ma sien, wat seker baie hartseer was, het Hy haar getroos en gesê dat sy nie moet huil nie. Jesus het toe net daar vir die jong man gesê om op te staan, en dadelik het hy regop gesit en begin praat.

Elkeen van ons het al iemand aan die dood afgestaan. Dan is ons baie hartseer en voel verlore. Gelukkig is die Here daar om ons te vertroos. Jesus kry ons jammer as ons hartseer en ongelukkig is. Daarom moet ons net op Hom vertrou in sulke omstan­dighede. Die Here ken ons harte, en sal ons bystaan in tye van seer.

 

Dierbare Here, dankie dat U my sal vertroos as ek hartseer is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 25 Augustus 2020

Gee

“Gee, en vir julle sal gegee word…” (Lukas 6:38)

Die Bybel is vol van mooi gedagtes en waarhede. Veral Jesus se woorde en leringe oor die lewe is besonders. Ons teksvers vir vandag is seker een van die mooistes in die hele Bybel.

Die woord gee is so ’n klein woordjie, maar dit beteken baie. Sommige mense hou daarvan om vir ander iets te gee. Ander mense wil nie gee nie, hulle wil alles vir hulleself hou. Jesus sê in ons teksvers dat ons moet leer om te gee, en dan sal weer vir ons gegee word. As jy baie liefde aan ander gee, sal mense ook vir jou lief wees. As jy ’n vrugteboom in jou tuin het, en jy gee vir jou bure of armes daarvan, sal God ook vir jou sorg vir alles wat jy nodig het.

Jesus gee vir ons so baie, ons moet ook probeer om ander mense gelukkig te maak. Dit is eintlik lekkerder om te gee as om te ontvang.

 

Dankie Here, dat ek vandag geleer het om te gee. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 24 Augustus 2020

Nooit te jonk

“Maar Hy antwoord hulle: ‘Waarom het U na my gesoek? Het U nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?’ ” (Lukas 2:49)

Die skrywer van die volgende evangelie, Lukas, skryf vir ons ook oor die lewe van Jesus op aarde. Dit is baie dieselfde as Matteus en Markus, maar Lukas skryf nog verhale by wat nie in die ander evangelies opgeteken is nie. Ons gaan nou ’n bietjie leer van daar­die geskiedenis.

Jesus se ouers het elke jaar met Paasfees na Jerusalem toe gegaan. Op pad het hulle vir Jesus gesoek, want Hy was nie daar nie. Hulle het omgedraai en na drie dae kry hulle Hom in die tempel waar Hy na die geleerdes luister en vir hulle vrae vra.

Soos Jesus van jongs af met God se dinge besig was, so moet ons ook van kleins af saam met God loop. Niemand is ooit te jonk om van God te leer en met sy Woord besig te wees nie.

 

Here, leer my van jongs af om U te dien. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 Augustus 2020

Moenie skaam wees vir Jesus nie

“Toe begin hy vloek, en hy sweer: ‘Daardie man van
wie julle praat, ken ek nie’ ” (Markus 14:71)

Petrus was een van Jesus se geliefde dissipels. Op ’n keer het Jesus vir Petrus gewaarsku dat hy wat Petrus is hom nog vir Jesus sou skaam. Petrus het dit ontken en gesê hy sal dit nooit doen nie. Jesus sê toe vir hom dat hy drie keer sou sê dat hy Jesus nie ken nie, nog voordat die haan twee keer sou kraai.

Dit het toe ook so gebeur. Nadat Jesus gevange geneem is, het Petrus gaan kyk wat van Jesus word. Drie keer het mense hom herken en gesê dat hy saam met Jesus was. Hy het dit elke keer ontken, en toe het daar ’n haan vir die tweede keer gekraai. Toe onthou Petrus wat Jesus gesê het, en hy het bitterlik begin huil van teleurstelling.

Ek en jy moenie skaam wees om vir mense te sê dat ons aan Jesus behoort nie. Ons moet getuig en aan mense vertel dat ons God se kinders is. So kan ander mense ook sien hoe groot en wonderlik die Here is.

 

Vergewe my, Here, vir die kere wat ek skaam was om vir U te getuig. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 22 Augustus 2020

Vra God se wil

“Hy het gesê: ‘Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van my af weg. Moet nogtans nie doen wat ek wil nie,

maar wat U wil’ ” (Markus 14:36)

Jesus en sy dissipels het na ’n tuin met die naam Getsemane gegaan. Dit was die nag dat Jesus gevange geneem sou word. Jesus het geweet dat die tyd naby is, en Hy wou alleen met sy Vader in die hemel praat. Hy het tot God gebid omdat Hy benoud en bang was. Onthou, Jesus was op aarde ook maar net ’n mens soos ons.

Hy het vir God gevra om die swaar wat voorlê van Hom af weg te neem. Hoe­wel Jesus dit gevra het, het Hy nogtans ook gevra dat God se wil moet geskied.

Ons vra ook baie vir God om vir ons iets te doen of te gee. Dan moet ons ook soos Jesus vra dat God se wil sal geskied. As ons God toelaat om vir ons te besluit, sal dit met ons goed gaan, want God weet wat die beste is.

 

Hemelse Vader, laat u wil ook in my lewe geskied. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 Augustus 2020

Jesus waarsku

“Jesus sê toe vir hulle: ‘Pas op dat niemand

julle mislei nie’ ” (Markus 13:5)

Die dissipels en Jesus het alleen op die Olyfberg gaan sit en gesels. Hulle vra toe vir Jesus wanneer die einde van die aarde sal wees, en wat die teken sal wees wanneer dit sal gebeur. Jesus waarsku hulle toe teen die misleiding van mense wat sê dat hulle ’n bood­skap van Jesus gekry het, maar wat valse gerugte sal versprei.

Vandag is daar nogal mense wat voorspel wanneer die aarde sal vergaan. Daar is ook mense wat voorgee dat hulle die Christus is. Dit is waarom die Here vir ons gewaarsku het teen sulke mense.

Vir God se kinders sal dit wel moeilik wees in die tyd wanneer die einde nader kom. Ons moet net tot die einde toe aanhou in ons geloof. Wanneer daardie dag aanbreek sal die Here self vir ons sorg en vir ons kom haal.

 

Here, help my om nie deur valse mense mislei te word nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 Augustus 2020

Die arm weduwee

“Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe “(Markus 12:44)

Jesus het op ’n dag sit en kyk hoe die mense hulle geld in die offergawekis in die tempel gooi. Die ryk mense het baie geld ingegooi. Daar kom toe ’n arm weduwee wat net twee muntstukke ingooi. Dit was baie min werd, maar dit was al wat sy gehad het. Jesus roep toe sy dissipels nader en sê dat daardie arm weduwee meer ingegooi het as al die ander mense. Die ryk mense het net ’n klein bietjie van hulle geld ingegooi, maar daardie vrou het alles wat sy gehad het vir die Here gegee.

Daardie vrou het volkome op God vertrou. Sy het geweet God sal vir haar sorg, al het sy niks meer geld oor nie. Sy wou net alles vir die Here gee sodat Sy werk kon voort­gaan. Gee jy ook jou alles vir die Here?

 

Liefdevolle Vader, dankie dat ek weet U sorg ook  vir die armes. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 Augustus 2020

Betaal jou deel

“Jesus sê toe vir hulle: ‘Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort’” (Markus 12:17)

Elke mens van elke land moet belasting betaal. Die land moet geld hê om paaie, hospi­tale, skole en nog baie ander dinge te bou, en om alles goed te laat verloop. In Jesus se tyd was die keiser die hoof van die land en mense moes aan hom belasting betaal.

Op ’n dag het die Fariseërs vir Jesus probeer vastrek, en gevra of dit reg is om belasting aan die keiser te betaal. Jesus het geweet dat dit ’n strikvraag was, en het gesê dat hulle wel belasting moet betaal, maar dat hulle ook aan God moet gee wat God toekom.

Ongelukkig ontduik baie mense in ons tyd die betaal van belasting en dienste. Dit is oneer­lik en God sien dit raak. Betaal aan die regering wat hulle toekom, maar moet nooit vergeet om jou deel aan God te gee nie. Daar is ook geld nodig sodat God se werk op aarde gedoen kan word.

 

Dankie Here dat U my gewillig maak om my deel aan U te gee. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 18 Augustus 2020

Wees soos sout

“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe” (Markus 9:50)

Ons almal weet wat sout is. Ons gooi dit oor ons kos sodat dit lekkerder kan smaak. Kos sonder sout smaak laf en is nie lekker nie. Ook gebruik ons sout om kos vir ’n tyd te bewaar. Voordat daar elektrisiteit of vrieskaste was, het die mense vleis of vis in sout gesit en dan kon dit weke lank goed bly.

In die Bybel se tyd is sout baie gebruik en was baie kosbaar. Jesus sê vir sy dissipels dat hulle soos sout moet wees. As ons dink aan die goeie eienskappe van sout, is dit duidelik dat dit ’n sterk oproep tot ons is. Ons sal so vir die wêreld moet wys dat ons kinders van God is.

Kom ek en jy probeer ook om vir die mense te wys dat ons soos sout is wat waardevol vir die hele mensdom is.

 

Here, help my om soos sout te wees en om vir ander mense die lewe beter te maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 17 Augustus 2020

Alles wat Hy doen is goed

“Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat” (Markus 7:37)

Jesus was op ’n dag weer besig om te preek en die mense te leer. Hulle bring toe ’n man na Jesus wat doof was en ook nie kon praat nie. Die mense wou hê dat Jesus hom gesond moes maak. Jesus het hom eenkant toe geneem, sy vingers in sy ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Dadelik kon hy hoor en het reg gepraat. Almal was baie verbaas en het gesê dat alles wat Jesus doen goed is.

Ons kan vandag nog dieselfde van die Here sê. Kyk so bietjie rondom jou en jy sal al die goeie dinge sien wat God doen. In die natuur en in ons eie lewe sien ons dat alles wat God doen baie goed is.

Die Here weet wat goed is vir ons. Hy sorg vir die hele wêreld. Glo dat alles wat met jou gebeur die beste is wat God vir jou wil hê.

 

Dankie Here dat ek kan weet dat alles wat U vir my doen, die beste is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.