Dagstukkies met CLF 6 September 2020

Vertel vir ander

“Die man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jesus is

wat hom gesond gemaak het” (Johannes 5:15)

In Jerusalem was daar ’n bad met die naam Betesda. Baie blindes en kreupeles het daar gelê en wag om in die water te gaan. Hulle het geglo dat as hulle in die water ingaan terwyl die water beweeg sal hulle gesond word.

Op ’n dag was Jesus daar en het hy ’n man gesien wat al dertig jaar lank siek was. Jesus vra hom toe of hy gesond wil word, waarop hy antwoord dat niemand hom help om in die water te kom nie. Jesus sê toe vir hom om sy goed op te tel en te loop. Onmid­dellik het die man gesond geword en hy kon loop. Hy was so bly dat hy oral gaan vertel het dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.

Jesus doen vandag nog baie vir ons, en dan moet ons ook vir ander gaan vertel. Op hierdie manier help ons om vir ander te leer hoe goed die Here is.

Vergewe my, Here, omdat ek so min vir ander mense van U vertel. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 September 2020

Kinders van God

“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Johannes 1:12)

Toe Jesus op aarde was, was daar nie baie mense wat in Hom geglo het nie. Jesus het gekom om die wêreld van sonde te verlos, maar min mense het Hom aangeneem as hul Verlosser. Nou skryf Johannes in ons teksvers dat elkeen wat in Jesus glo, die reg het om kinders van God te wees.

Wat ’n voorreg wat ek en jy het om ’n kind van God te wees! So baie mense hoor van Jesus, maar hulle wil Hom nie aanneem as hul verlosser nie.

Elke dag moet ons die Here dank dat Hy soveel genade vir ons gee. Ons sondig elke dag en dan vergewe Hy ons as ons om vergifnis vra. Daarvoor moet ons ons lewe aan Hom gee, en bid dat alle mense ook sy kinders sal word.

 

Dankie Here, dat ek u kind is. Help my om ook ander na U toe te lei. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 3 September 2020

Jesus gaan hemel toe

“Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en

is Hy in die hemel opgeneem” (Lukas 24:51)

Nadat Jesus sy werk hier op aarde voltooi het, het Hy opgevaar na die hemel. Hy het vir die laaste keer met sy dissipels gepraat en hulle geseën. Wat beteken dit as die Here iemand seën?

Dit beteken dat die Here net die beste vir so iemand wil gee. Ons lees dat die dissipels teruggegaan het na Jerusalem waar hulle by die tempel vir God geprys het.

Nou kan ons vra hoekom Jesus dan opgevaar het na die hemel? Hy kon mos maar hier op aarde gebly het om mense te leer hoe om kinders van God te word. Maar in die Bybel lees ons dat Jesus in die hemel moes gaan woon om daar vir sy kinders plek te maak. As ons as sy kinders eendag sterf, sal Jesus self vir ons kom haal. Ons kan verse­ker weet dat daar in die hemel vir ons plek sal wees.

 

Dankie Jesus dat U ook vir my plek in die hemel voorberei. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 September 2020

Jesus soek ook vir jou

“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Lukas 19:10)

Jesus was in die stad Jerigo. Daar was ’n tollenaar met die naam Saggeus. Hy was ’n ryk man. Toe Jesus verbyloop, het hy in ’n boom geklim om Jesus te sien, want hy was ’n klein mannetjie. Jesus kyk toe op en sê vir Saggeus dat Hy by hom wil tuis gaan vir die dag. Die mense was ontevrede omdat Jesus by ’n sondige man wou gaan bly.

Saggeus het daardie dag besluit om die Here te dien. Hy het belowe dat hy al die geld wat hy oneerlik van die mense gevat het sal teruggee. Ook het hy besluit om die helfte van sy goed vir die armes te gee.

Jesus het aarde toe gekom om verlore mense soos Saggeus te soek. So soek Jesus ook vir my en jou. Die Here het elke mens op aarde lief, en wil nie een laat verlore gaan nie. Die Here wil en sal jou ook raaksien”. Die Here het Saggeus raakgesien voor Saggeus nog God se wil kon doen.

Liefdevolle Here, dankie dat U ook na my gesoek het. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 September 2020

Erken jou sonde

“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig’ ” (Lukas 18:13)

Die Fariseërs van daardie tyd het gedink hulle is beter as ander mense. Op ’n dag het ’n Fariseër na die tempel gegaan om te bid. Hy het God gedank dat hy nie soos diewe, bedrieërs, egbrekers en … daardie tollenaar is nie. Alhoewel hy gedink het dat hy sonder sonde was, was hy ook maar vol sonde.

’n Tollenaar het ook na die tempel gegaan. Tollenaars was in daardie tyd as skelms gereken. Hierdie tollenaar het besef dat hy vol sonde is, en het God gevra om hom genadig te wees. Hy het nie gedink hy is beter as ander nie. Jesus het gesê dat hý deur God gehoor is, en nie die Fariseër nie.

So moet ek en jy nie dink dat ons beter Christene is as ander nie. Almal van ons sondig. Wees maar net nederig en bely jou sonde voor God. Hy ken ons harte en sal ons weer nuwe mense maak.

 

Help my Here, om nie ander te veroordeel nie, want ek is ook ’n sondaar. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 31 Augustus 2020

Wees dankbaar

“Een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is,

omgedraai en God hardop geprys”(Lukas 17:15)

Terwyl Jesus op pad was na Jerusalem het daar tien melaatse mans na Hom geroep en gevra dat Hy hulle gesond moes maak. Melaatsheid was in daardie dae ’n ernstige siekte wat nie maklik gesond gemaak kon word nie. Jesus sê toe vir hulle dat hulle na die priesters moes gaan om te wys dat hulle gesond is. Op pad daarheen het hulle werklik almal gesond geword!

Net een het omgedraai na Jesus toe om dankie te sê. Jesus was verbaas en het gevra waar die ander nege dan was. Hoekom kom hulle nie om dankie te sê nie?

Die Here gee vir ons elke dag so baie, en dan vergeet ons om dankie te sê. Ons ontvang gesondheid, kos en klere, ’n werk, ’n blyplek, ons kan sien, hoor en praat, en dan dink ons dit kom sommer so vanself. Nee, dit kom alles van God af omdat hy vir ons lief is.

 

Here, vergewe my, omdat ek nie dankbaar genoeg is vir dit wat U vir my gee nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 30 Augustus 2020

Die verlore seun

“Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen God en teen pa gesondig!’ ”(Lukas 15:18)

Die gelykenis van die verlore seun is seker een van die bekendstes wat Jesus vertel het. ’n Man het twee seuns gehad. Die jongste het eendag vir sy pa gevra om die deel wat hy sal erf sommer nou vir hom te gee. Nadat sy pa die besittings tussen die twee seuns verdeel het, het die jongste syne verkoop en na ’n ver land weggeloop. Daar het hy sy geld uitgemors en baie sondig gelewe. Toe sy geld op was, en sy vriende hom vergeet het, het hy terug verlang na sy ouerhuis. Net daar besluit hy om terug te gaan en vir sy pa sê dat hy jammer is. Sy pa was so lief vir hom dat hy hom met ope arms terug verwelkom het.

Ons dwaal ook soms weg van die Here af. Dan moet ons net teruggaan na God toe en sê dat ons jammer is. Die Here sal vergewe, want Hy is baie lief vir ons. Moenie bang wees om na God toe terug te gaan nie.

 

Here, vergewe my sondes. Neem my asseblief weer terug as u kind. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 29 Augustus 2020

Dit is nie maklik nie

“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie” (Lukas 14:33)

Op baie plekke lees ons in die Bybel dat dit nie maklik is om ’n volgeling van Jesus te wees nie. God se kinders word baie gespot en verneder omdat hulle aan God behoort. Baie mense wat ryk is en baie besittings het, vind dit moeilik om God te dien, want hulle maak staat op hul rykdom.

Jesus sê in die teksvers dat om sy dissipel te wees, moet jy nie op aardse goed vertrou nie. Jesus bedoel nie regtig dat jy al jou besittings moet weggee nie, maar wel dat jy vir God meer lief moet wees as vir jou besittings. As dit met ons baie goed gaan, as ons gesond is, of as ons genoeg geld het, dan vergeet ons maklik van die Here.

Om ’n kind van God te wees kos baie opoffering. Maar as ons getrou aan die Here bly, en bereid is om op te offer, sal God ons beloon.

 

Liewe Heer, maak my gewillig om U eerste te stel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 28 Augustus 2020

Wees die minste

“Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word”(Lukas 14:11)

Jesus het die volgende gelykenis vertel. Wanneer iemand jou uitnooi na ’n troue, moet jy nie in die voorste plek gaan sit nie. Miskien het die gasheer iemand genooi wat belangriker as jy is. Dan sal jy gevra word om die op agterste plek te gaan sit. Dit sal dan vir jou ’n verleentheid wees. Jesus sê dat jy liewer van die begin af agterlangs moet gaan sit. As die gasheer jou dan vra om voor te kom sit, sal jy goed voel.

Jesus het dit vertel om ons te leer om altyd die minste te wees. Die Here sien raak as ons nederig is, en onsself nie belangriker as ander mense ag nie. Al het jy miskien eendag ’n belangrike werk, wees goed vir hulle wat vir jou werk. Soos Jesus gesê het, elkeen wat nederig is, sal verhoog word.

 

Vergewe my, Here, dat ek soms te veel van myself dink. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 27 Augustus 2020

Ons is bevoorreg

“Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en
sê vir hulle: ‘Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat
julle sien’ ” (Lukas 10:23)

Terwyl hulle so saam was, het Jesus vir sy dissipels gesê hoe gelukkig hulle is met alles wat hulle van Hom hoor. Dieselfde geld vir alles wat hulle Hom sien doen. Dit was ’n groot voorreg.

Omdat jy nou na hierdie stukkie leesstof luister, beteken dit dat jy vir Jesus ken. Ons wat van God en sy koninkryk weet, besef nie altyd hoe goed die Here vir ons is nie. Daar is duisende mense op aarde wat nog nooit van God gehoor het nie. Hulle bly in lande waar God se boodskap nog nie gebring is nie. Die arme mense wat nog nie van God se liefde gehoor het nie, is verlore.

Onthou om elke dag vir God dankie te sê dat jy die kans gekry het, om sy bood­skap te hoor.

 

Liefdevolle Vader, gee tog dat alle mense op aarde U boodskap mag hoor. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.