Dagstukkies met CLF 17 September 2020

Ons Here Jesus

“Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink
ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die
boeke hê nie” (Johannes 21:25)

Ons het nou aan die einde van die evangelie van Johannes gekom. Johannes was die dissipel vir wie Jesus baie lief was. Hy sluit sy boek af met ons teksvers wat sê dat daar nog baie ander dinge is wat Jesus gedoen en gesê het wat ons nie van weet nie.

Gelukkig is daar in die Bybel genoeg geskryf van Jesus dat ons met sekerheid kan weet dat Hy vir ons sondes kom sterf het.

Al weet ons nie nou alles nie, sal ons eendag in die hemel weet. Ons moet net glo dat Jesus ons Verlosser is. Elke dag moet ons saam met Hom stap en Hom gehoor­saam. Ons hoef nie bekommerd te wees oor dit wat ons nie verstaan nie, ons moet net luister na dit wat ons wel verstaan. Eendag sal ons al die antwoorde kry.

 

Here Jesus, dankie dat ek genoeg weet oor hoe om u kind te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 16 September 2020

Die Here sorg

“Hy sê toe vir hulle: ‘Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit,

dan sal julle iets kry’ (Johannes 21:6)

Jesus se dissipels was vissers. Hulle het ’n lewe gemaak deur vis te vang. Op ’n dag het hulle weer gaan visvang, maar het niks gekry nie. Jesus het op die strand gestaan en vir hulle gevra of hulle iets gevang het. Hulle antwoord toe dat hulle niks gevang het nie. Jesus sê toe vir hulle dat hulle die net aan die regterkant van die skuit moes uitgooi. Toe vang hulle ’n groot klomp visse.

Omdat die dissipels gehoorsaam was, het die Here gesorg dat hulle ’n groot vangs kon kry. Ek en jy moet ook altyd gehoorsaam wees en glo dat die Here sal sorg. Soms is ons bekommerd oor waar ons kos en geld sal kry. As ons net ons werk goed doen, en op God vertrou, sal Hy vir ons alles gee wat ons nodig het.

Here Jesus, baie dankie dat U so goed vir my sorg. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 15 September 2020

Glo sonder om te sien

“Toe sê Jesus vir hom: ‘Glo jy nou omdat jy My sien?

Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo’ ” (Johannes 20:29)

Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy aan sy dissipels verskyn. Tomas, wat een van die dissipels was, was nie toe by hulle nie. Later het hulle aan Tomas vertel dat hulle Jesus gesien het. Tomas wou dit nie glo nie. Eers as hy die merke van die spykers in Jesus se hande sien, het hy gesê, sou hy glo.

Agt dae later was Jesus weer by die dissipels, en toe was Tomas ook daar. Jesus het geweet dat Tomas nie wou glo nie, en het hom die spykermerke gewys sodat hy kon glo dat Jesus opgestaan het.

Ek en jy was nie daar toe Jesus gekruisig is nie, en ook nie by sy opstanding nie. Gelukkig kan ons dit glo sonder dat ons dit gesien het. God self gee vir ons die geloof.

 

Here, dankie dat u Heilige Gees binne in my vir my die versekering gee dat alles in die Bybel waar is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 September 2020

Die Heilige Gees

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle

in die hele waarheid lei” (Johannes 16:13)

Ons lees die Bybel, maar daar is baie dinge wat ons nog nie verstaan nie. Daar is God wat die Vader is, Jesus wat sy Seun is en wat aarde toe gekom het. Dan is daar ook nog die Heilige Gees. Tog is hierdie drie Persone één God – Die Bybel praat van die Drie-enige God. Ons met ons menslike verstand kan dit amper nie verstaan nie.

Vir my is dit die maklikste om te verstaan as ek daaraan dink dat dit een God is met drie verskillende werke. God is die Vader wat alles geskep het en wat oor alles beheer het. God is ook Jesus, die Een wat vir ons sondes gesterf het. Nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het God as die Heilige Gees gekom wat in ons harte woon. As ons God se kinders is, woon die Heilige Gees in ons en leer ons om op God te vertrou.

Die Bybel sê dat jy nie nou alles sal verstaan nie. Glo net in God die Vader, Jesus en die Heilige Gees. Eendag in die hemel sal jy alles verstaan.

 

Here, dankie dat die Heilige Gees ook in my woon. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 September 2020

Die wingerdstok

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5)

Hierdie keer het Jesus die wingerdstok as voorbeeld gebruik. Jesus is die wingerdstok en sy Vader die boer. Ons teksvers sê dat ons die lote is. Soos ons weet, snoei mens die wingerd sodat daar ’n beter oes kan wees. Lote wat nie vrugte dra nie, word afgesnoei en weggegooi.

Elke dag moet ons goeie vrugte dra, met ander woorde, ons moet goeie dade doen en vir ander wys dat ons kinders van God is. As ons nie daardie goeie vrugte dra nie, word ons afgesny en is ons nie meer kinders van die Here nie.

Ons moet elke dag vasgegroei aan Jesus bly soos die lote aan die wingerdstok vas is. Dan kan ons vir die wêreld wys hoe om goeie vrugte te dra en so God se Naam hier op aarde groot maak.

 

Here, snoei my reg sodat ek meer vrugte kan dra. Amen

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 11 September 2020

Plek in die hemel

“En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3)

Die dissipels kon nie eintlik verstaan dat Jesus moes weggaan nie. Hulle het nie geweet dat Hy hemel toe gaan nie. Hulle kon ook nie verstaan wat Hy daar gaan maak nie.

Jesus het hulle gerus gestel en gesê dat Hy gaan plek maak vir almal wat in Hom glo. Hulle moes nie bang wees nie, want Hy kom terug en Hy sal self sy kinders na Hom toe neem.

Elkeen van ons is mos maar bang om dood te gaan. Nou weet ons dat Jesus vir ons plek in die hemel maak, en dat Hy ons self eendag sal kom haal. As ek en jy vir Jesus volg en sy wil doen, hoef ons nie bang te wees vir die dood nie. Wat ’n voorreg om iemand soos Jesus te ken!

Dierbare Here, dankie dat U self vir my na die hemel sal neem. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 September 2020

God se mense

“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle

dissipels van My is” (Johannes 13:35)

Judas was een van Jesus se dissipels. Hy was altyd saam met die ander elf dissipels by Jesus. Hy het ook van Jesus geleer en het gesien hoe Jesus mense liefgehad het. Maar in sy hart was daar nie opregte liefde nie. Ons lees hoe hy Jesus verraai het sodat die soldate vir Jesus gevange kon neem.

Ons moenie soos Judas wees nie. As ons mekaar liefhet, sal mense sien dat ons God se kinders is. Dink net hoe ’n beter plek die wêreld sou wees as ons mekaar sou liefhê soos Jesus vir ons liefhet. Daar sou nie geweld en misdaad wees nie. Ook sal lande nie teen mekaar oorlog maak nie. Maar dis die duiwel wat liefde uit mense se harte wegneem. So word alles wat mooi kon wees lelik.

Leef elke dag saam met Jesus, wees lief vir ander mense, en jy sal die wêreld ’n beter plek maak.

 

Dankie, Here, dat ek u dissipel kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 9 September 2020

Jesus se voorbeeld

“Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het,

moet julle ook doen” (Johannes 13:15)

Jesus en sy dissipels was op ’n dag aan tafel om te eet. Jesus het toe ’n handdoek en skottel water geneem en sy dissipels se voete begin was.

Jesus wou hierdeur wys dat, al is Hy Here en God, Hy die voorbeeld stel sodat sy dissipels ook nederig moet wees. Petrus het eers beswaar gemaak, maar toe Jesus verdui­delik het, het hy vir Jesus gevra dat Hy nie net sy voete nie, maar ook sy hande en gesig moet was.

Geeneen van ons moet ons so belangrik hou dat ons nie vir ’n ander iets nederig kan doen nie. Jesus was die belangrikste mens wat ooit op aarde was, maar Hy het vir ons geleer om nederig te wees. Volg net altyd Jesus se voorbeeld, en ander mense sal sien hoe ’n kind van God lewe.

 

Here, help my om ’n voorbeeld vir ander mense te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 8 September 2020

God se skape

“My skape luister na my stem; Ek ken hulle,
en hulle volg My” (Johannes 10:27)

Wanneer Jesus met die mense gepraat het, het hy baie gebruik gemaak van gelykenisse en voorbeelde. In hierdie hoofstuk gebruik Jesus die voorbeeld van skape. Jesus sê dat Hy die herder is en ons is sy skape. In daardie tyd was daar nie kampe waarin die skape gewei het nie. Iemand moes die skape dag en nag oppas.

Elke dag pas Jesus sy kinders op. As ons aan Hom behoort, luister ons na Hom en doen ons sy wil. Soos die teksvers sê: Jesus ken sy kinders en wil net die beste vir ons hê.

Ek en jy is baie gelukkig om so ’n Herder soos Jesus te hê. As Hy ons oppas, hoef ons nooit bang te wees nie. Volg elke dag vir Jesus, en sê vir Hom dankie dat Hy so mooi na jou kyk.

 

Liewe Jesus, dankie dat ek so ’n goeie herder soos U kan hê. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 September 2020

Moenie oordeel nie

“Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here”, sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Johannes 8:10-11)

Jesus het een oggend vroeg na die tempel gegaan waar Hy die mense geleer het. Die skrifgeleerdes en Fariseërs bring toe ’n vrou daar aan wat ontrou aan haar man was. Hulle vra toe vir Jesus wat hulle met haar moes doen. Volgens die Ou Testament se wette is sulke vroue met klippe doodgegooi.

Toe antwoord Jesus hulle en sê dat die een van hulle wat sonder sonde is die eerste klip moet gooi. Almal het toe begin wegloop, totdat net Jesus en die vrou oorgebly het. Nie een van daardie mense was sonder sonde nie, daarom kon hulle haar nie met klippe doodgooi nie.

Ons oordeel so graag ander mense wat verkeerd doen, maar ons almal is vol sonde. Bid eerder vir mense wat op die verkeerde pad is, sodat hulle ook gered kan word.

 

Here Jesus, help my om nie ander mense te oordeel nie. Vergewe ook hulle sondes. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.