Dagstukkies met CLF 28 September 2020

Die Here bevry

“Hy het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk gelei het” (Handelinge 12:17)

Gister het ons gelees hoe Petrus ook in die tronk gegooi is. Hy is met kettings geboei, en voor die deur was wagte wat die tronk bewaak het. Terwyl hy geslaap het, het daar ’n engel van die Here aan Petrus verskyn. Die engel het hom wakker gemaak en gesê dat hy saam met hom moes kom. Die deure het vanself oopgegaan en die wagte het dit nie eers agtergekom nie. Toe hulle buite was, het die engel hom verlaat, en Petrus het na die huis gegaan waar die ander gelowiges besig was om vir hom te bid.

Die Here kan enigiets doen. Ons lees dit op baie plekke in die Bybel. Vandag nog verlos die Here ons van die sonde. Baie keer word ons vasgevang deur die verkeerde dinge. Vra net die Here om te help, en Hy sal jou bevry. God kan dit doen, en jy sal vir seker ’n vry mens wees.

 

Soos U vir Petrus bevry het, Here, verlos ook vir my van die sonde. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 27 September 2020

Bid vir mekaar

“So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid”

(Handelinge 12:5)

In die tyd toe Herodes koning was, het hy van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. Hy het vir Jakobus, wat die Here gedien het, laat doodmaak. Verder het Herodes ook vir Petrus laat vang en in die tronk gesit. Dit het hy gedoen omdat die mense wat in die Here glo,
’n ander Koning aanbid het as vir hom. Herodes kon nie verdra dat God as die enigste en ware Koning aanbid
is nie.

Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeentelede aanmekaar vir hom gebid. Die Here het geweet dat Petrus onregverdig en ter wille van Hom in die tronk gegooi is, en het hom daarom gehelp. Ons moet ook vir mekaar bid wanneer iemand in die nood is. God sien en weet van alles, en Hy sal die gebede van sy kinders verhoor. Ons het ’n regverdige God wat baie lief vir ons is.

 

Here, ek bid vir hulle wat onregverdig en terwille van U ly. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 25 September 2020

Jesus is die Here van almal

“Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: ‘Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie’ ” (Handelinge 10:34)

Petrus het na baie dorpe gegaan om die Woord van God
te verkondig. In daardie tyd het die mense gedink dat Jesus net vir die Jode gekom het, en dat net Jode in die hemel sal kom.

God het egter vir Petrus laat verstaan dat Jesus vir alle mense op aarde gesterf het. Daarom het Petrus en al die apostels rondgegaan om God se boodskap aan alle mense te verkondig.

So moet ons ook vandag die goeie nuus van God se verlossing aan almal bring. Dit maak nie saak of iemand blank of nie-blank, Griek of Italianer, ryk of arm is nie, voor God is almal gelyk. Elke mens wat Jesus aanneem as sy Verlosser is ’n kind van God. Elkeen wat glo in God en op Hom vertrou, sal die ewige lewe hê.

Dankie Here dat U ook vir my as nietige mens aangeneem het as u kind. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 24 September 2020

God roep

“Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê:

“Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Handelinge 9:4)

Saulus was ook een van die mense wat die volgelinge van Jesus vervolg het. Hy was juis op pad na Damaskus om ook daar Christene gevange te neem. Terwyl hy op pad was, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom geskyn. Dit was God wat met hom gepraat het. Toe Saulus van die grond af opstaan, was hy blind. Hy is toe Damaskus toe, waar ’n man met die naam Ananias met hom gepraat het. Toe kon hy weer sien. Saulus is toe met die Heilige Gees vervul, en het begin om te verkondig dat Jesus die Seun van God is. So het Saulus tot bekering gekom. (Later het hy bekend gestaan as Paulus.)

Die Here het vir Saulus, wat sy vyand was, geroep om sy werk te doen. So roep die Here ook vandag nog mense soos ek en jy om sy werk te doen. God vergewe en gebruik ook sondaars in sy werk.

Dankie Here dat U ook vir my geroep het om u werk te doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 September 2020

Lees jou Bybel

“Verstaan u wat u lees?” Die Etiopiër antwoord:
“Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” (Handelinge 8:31)

Filippus was een van die sewe diakens wat gekies is om te help met die Here se werk. Eendag het ’n engel van die Here vir hom gesê om op ’n sekere pad te gaan loop. Daar sien hy ’n man uit Afrika wat op ’n wa ry, en hy hoor hom uit die boek Jesaja lees. Filip­pus vra hom toe of hy verstaan wat hy lees, waarop hy antwoord dat hy nie verstaan nie, want daar is niemand wat dit aan hom verduidelik nie.

Toe verduidelik Filippus dit aan hom en vertel hom ook van Jesus. Later het hulle by water gekom, en hierdie man het vir Filippus gevra om hom te doop, want hy het geglo. So het hy tot bekering gekom en die Here gedien.

So baie mense verstaan nie wat in die Bybel staan nie. Elkeen van ons kan ons kennis van die Bybel gebruik om ander na Jesus te lei. Lees gereeld jou Bybel, sodat jy ook God se diaken kan wees.

 

Here, gee my die wysheid om die Bybel beter te leer ken. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 22 September 2020

God sorg vir sy kerk

“Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges

in Jerusalem het geweldig toegeneem” (Handelinge 6:7)

In die tyd ná Jesus se opstanding het die apostels baie teenkanting gekry. Dit was nie altyd maklik om God se Woord te verkondig nie. Ons het in die vorige stukkies gelees hoe hulle in die tronk gestop is en dat hulle verbied is om in die Naam van Jesus mense te leer. Later het hulle ook sewe diakens gekies om met die werk te help sodat die Woord aan nog meer mense gebring kan word.

Vandag kry mense ook baie teëstand wanneer hulle vir die Here werk. Dit is omdat die duiwel altyd sal probeer om God se werk in die wiele te ry. Gelukkig weet ons dat God groter en sterker as die duiwel is, en God sal nooit toelaat dat sy kerk vernietig word nie. Ek en jy moet net elkeen ons deel vir die Here doen, dan sal God self sorg dat sy kerk op aarde groei.

 

Dankie Here dat U self in beheer van u kerk hier op aarde

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 September 2020

Krag van die Heilige Gees

“Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig” (Handelinge 4:31)

Toe Petrus en Johannes uit die tronk losgelaat is, het
hulle na die ander gelowiges toe gegaan. Hulle vertel toe wat die priesterhoofde gesê het, dat hulle niks in Jesus se Naam mag verkondig nie. Almal het toe saam gebid, en vir God gevra om hulle te help om voort te gaan met hulle getuienis. Ons lees dan verder dat hulle almal met die Heilige Gees vervul is. So het hulle krag gekry om God se woord te verkondig.

Ons besef nie altyd wat die Heilige Gees kan doen nie. Kinders van die Here weet dat die Heilige Gees binne in hulle harte woon, en so vir hulle help om die regte dinge te doen. Vra net elke dag dat die Heilige Gees binne in jou ook vir jou sal leer om God se Woord aan ander oor te dra.

Heilige Gees van God, maak my ook gewillig om vir U te werk. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 September 2020

Praat oor Jesus

“Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat

oor wat ons gesien en gehoor het nie”  (Handelinge 4:20)

Een middag was Petrus en Johannes op pad na die tempel toe om te bid. Daar kry hulle toe ’n verlamde man wat geld bedel. Petrus het aan hom gesê dat hy nie geld vir hom het nie, maar wat hy hom kan gee, is dat hy in die Naam van Jesus moet opstaan en loop. Onmiddellik het die man opgestaan en hy kon loop.

Die priesters was ontevrede omdat hulle dit in die Naam van Jesus gedoen het, en het vir Petrus en Johannes in die tronk gegooi. Die volgende môre is die twee verhoor. Die Joodse Raad het hulle verbied om mense iets te leer van Jesus. Dit is toe dat hulle – soos die teksvers sê  –  verduidelik dat dit vir hulle onmoontlik is om nie van Jesus te praat nie.

Wat mense ook al sê van Jesus, en God, en sy Koninkryk, ons moet getuig oor dit wat ons glo. Dit is ons plig om elke dag oor Jesus te praat sodat God se kerk op aarde kan groei.

 

Leer my, Here, om nie bang te wees om van U te getuig nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 September 2020

Die eerste gemeente

“Al die gelowiges was eensgesind

en het alles met mekaar gedeel” (Handelinge 2:44)

Die apostels was met die Heilige Gees vervul, en hulle het begin om die Woord van God aan baie mense te bring. Omdat hulle met groot oortuiging van Christus getuig het, het die mense baie respek vir hulle gehad en baie het tot bekering gekom.

Al die gelowiges het goed saamgewerk, en ons lees dat hulle selfs hul grond en besittings verkoop het en die geld aan die behoeftiges uitgedeel het. Hulle het ook elke dag bymekaar gekom en God geloof en geprys. Daarom het die Here elke dag mense wat gered is, by hulle gevoeg, en so het die eerste gemeente ontstaan.

Vandag kan ons ook daaruit leer. Soos hulle mekaar gehelp het, so moet ons ook vir mense vertel van die Here. Ek en jy moet ook altyd iets gee aan hulle wat behoeftig is. Dan sal God se koninkryk hier op aarde groei en sal daar vrede wees.

 

Genadige Here, help dat alle mense sal saamwerk om u Naam groot te maak. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 18 September 2020

Vir jou kinders ook

“Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep” (Handelinge 2:39)

Ons begin nou by die boek Handelinge. Dit vertel vir
ons wat gebeur het nadat Jesus opgevaar het na die hemel. Die dissipels, wat ook apostels genoem is, moes nou die werk van Jesus voortsit. Judas, wat Jesus verraai het, was nie meer by hulle nie en Mattias is as die twaalfde
apostel gekies.

Petrus het die leiding geneem en die mense op Pinksterdag toegespreek. Hy het gesê dat die mense hulle moes bekeer sodat hulle die ewige lewe kan kry.

Wat ’n vreugde om te weet dat God aan almal wat Hom dien, ja, ook hulle kinders, na Hom toe roep. Die Here het alle mense lief en wil nie dat een verlore gaan nie.

Here, laat my vandag ook hoor hoe U my roep sodat ek u kind kan wees. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.