Dagstukkies met CLF 16 November 2020

Aan God die eer

“Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie” (Efesiërs 2:9)

Wanneer iemand hier op aarde hard gewerk het en groot hoogtes bereik het, kan so iemand baie trots wees. Nog te meer, as iemand in al sy optrede eerlik en opreg was, en afhanklik van die Here geleef het, dan was so iemand se lewe die moeite werd.

Nou skryf Paulus dat niemand op homself trots kan wees nie. Niemand verdien enigiets nie, alles kom van God. Dit is Hy wat vir ons die verstand, gesondheid en die talente gee sodat ons kan presteer. Niemand sal iets kan bereik nie, as dit nie vir die genade van God was nie.

So kan ons ook nie trots wees op ons Christenskap nie. As dit nie was dat God ons uitverkies en gered het nie, was ons verlore mense. Al wat ons kan doen, is om elke dag vir die Here dankie te sê. Om ons dankbaarheid aan God te bewys, moet ek en jy Hom gehoorsaam wees en sy wil doen.

 

Here, ek is ’n swak mens en kan nooit vir U genoeg dankie sê vir alles wat U vir my doen nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 15 November 2020

Ou mense

“Van hier af skryf ek eiehandig aan julle.

Kyk net die groot letters!” (Galasiërs 6:11)

Ons weet almal hoe gaan ’n mens se liggaam agteruit soos wat jy ouer word. Ou mense is baie swakker as jongmense. Baie keer verswak ons oë al op ’n vroeë ouderdom. Dan moet ’n mens ’n bril kry, want om klein letters te lees word al hoe moeiliker.

Waarom sou Paulus in ons teksvers sê dat hy skryf met groot letters? En dat hy in sy eie handskrif skryf? Party sê dat Paulus nie goed kon sien nie, en dat iemand anders daarom namens hom die skryfwerk gedoen het. Ek dink die doel daarmee is dat almal, ook die ou mense, sy boodskap moet kan lees en verstaan. Paulus se groot doel in die lewe was om God se Woord te verkondig. Dit was vir hom so belangrik dat hy selfs daaraan gedink het om dit ook vir die ouer mense leesbaar te maak.

Hoeveel doen ek en jy vir ou mense? Probeer om altyd vir ou mense goed te wees. Onthou, jy raak ook eendag oud, en dan sal jy dit self waardeer as jongmense vir jou omgee.

 

Liewe Here, help my om meer te doen vir mense wat oud is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 14 November 2020

Gee om vir mekaar

“Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus”  (Galasiërs 6:2)

Die lewe vandag is so gejaagd. Ons het amper nie tyd om al ons eie dinge te doen nie. Baie keer sien ons nie eers ons vriende of familie se nood raak nie. Tog herinner Paulus ons daaraan dat ons mekaar se laste moet help dra. Die wet van God verwag ook van ons om ons naaste lief te hê soos onsself.

Jesus is vir ons die voorbeeld van hoe om vir mekaar om te gee. Dink net ’n bietjie na oor hoe Jesus mense gesond gemaak het, hoe Hy mense moed ingepraat het en so baie wat Hy na God toe gelei het.

Vandag doen die Here nog steeds baie vir jou en my. Kom ons volg Jesus se voorbeeld en help ander mense om gelukkig te wees. Troos mense wat hartseer is, praat hulle wat moedeloos is moed in en gee die honger mense iets om te eet.

 

Vergewe my, Here, dat ek so min vir my naaste omgee. Leer my om soos U te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 November 2020

Jou erfporsie

“Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak” (Galasiërs 4:7)

Jare gelede was daar slawe. Mense het slawe gekoop as hulle eiendom. Sulke slawe was nie toegelaat om weg te gaan om vir iemand anders te gaan werk nie. Nou sê Paulus in ons teksvers dat iemand wat die Here aanneem verlos word van die slawerny van die sonde. Ek en jy is nie meer ’n slaaf van die sonde nie. God het ons vrygemaak en ons aangeneem as sy kinders.

Kinders erf mos hul ouers se besittings of geld wanneer dié te sterwe kom. Omdat ons ook nou kinders van God is, erf ons God se rykdom, naamlik die ewige lewe saam met God in die hemel. Hierdie is sekerlik die grootste erfporsie wat iemand kan ontvang. Ons moet elke dag so lewe dat ons sal uitsien na die groot geskenk wat vir ons in die hemel wag.

 

My Here, baie dankie dat ek ook U erfgenaam kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 November 2020

Almal gelyk voor God

“Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één” (Galasiërs 3:28)

Ek wonder of jy al gehoor het dat mense vertel dat mense van spesifieke nasies of stam­me nie in die hemel sal kom nie? Hulle redenasie is dat daardie mense te veel verkeerde dinge doen en dat God hulle nooit sal aanvaar nie.

Dit is nie die waarheid nie! Hier lees ons vandag dat alle mense gelyk is voor God. Wanneer iemand vir Jesus as sy Verlosser aanneem en glo dat Jesus vir sy sondes gesterf het, het hy of sy die ewige lewe! Dit maak nie saak wat jou kleur of jou afkoms is nie, of jy ryk of arm is nie, of jy man of vrou is nie, as jy jou lewe vir die Here gee, is jy saam met alle gelowiges een in Christus Jesus.

Ek en jy moet elke dag bid vir mense wat nog die verkeerde begrip het van wie God se kinders mag wees.

 

Dankie, Here, dat U vir my aangeneem het en ek u kind kan wees net soos ek is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 11 November 2020

Moenie twyfel nie

“Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring”(Galasiërs 1:7)

Ook vandag hoor ons van mense wat die boodskap van God verdraai. Hulle beweer dat dit wat ek en jy in die Bybel lees nie waar is nie. Hulle bring mense op ’n dwaalspoor, en dan begin mense twyfel aan God se bestaan.

Hier in Galasiërs waarsku Paulus teen sulke mense. Ons moet op ons hoede wees en nie sommer enigiets aanvaar nie. Elkeen van ons wat die Here aangeneem het, weet dat die Bybel waar is, en dat daar net een God is. Hierdie mense wat God se woord in twyfel trek, word maar net deur die duiwel gebruik. Die duiwel sal altyd probeer om God se kinders op die verkeerde pad te bring.

Dink net ’n bietjie na oor al God se liefde vir jou, oor alles wat God in die wêreld doen, en jy sal nooit twyfel nie.

 

Liewe Vader, ek weet en ek glo dat U die enigste en ware God is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 November 2020

Goeie raad

“Verder broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!”  (2 Korintiërs 13:11)

Hier aan die einde van sy brief gee Paulus vir die gelowiges van Korinte nog goeie raad. Die eerste was om altyd bly te wees. Hoe kan ’n mens bly wees as jou omstandighede sleg is? Omdat God in ons harte is, kan ek en jy bly wees!

Ook moedig hy hulle aan om geestelik te bly groei. Dit geld ook vir ons. Ons moet tog nie soos babatjies in die geloof bly nie. Verder herinner hy hulle daaraan dat hulle bereid moet wees om reggehelp te word. Ek en jy moet dit ook aanvaar as ander ons op ons foute wys. En bo alles, sê Paulus, moet ons met mekaar oor die weg kom, en in vrede met mekaar saamleef.

Kom ek en jy aanvaar ook vandag die goeie raad van Paulus. Dan sal die God van liefde en vrede by ons wees.

 

Here, baie dankie vir al die goeie raad wat ek in die Bybel kry. Help my om dit ook uit te leef. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 9 November 2020

God se krag

“Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’ ”(2 Korintiërs 12:9)

Ons het al voorheen gelees dat Paulus baie probleme gehad het toe hy die Woord van die Here verkondig het. In 2 Korintiërs hoofstuk 11 en 12 lees ons weer hoe moeilik hy gehad het. Hy is lyfstraf toegedien, met klippe gegooi, en was dikwels in gevaar wanneer hy op reis was. Hy moes nagte sonder slaap bly, en was dikwels honger en dors. Ons lees ook dat hy ’n soort siekte gehad het wat hom baie gepla het. Daarom het hy die Here gevra om dit van hom af weg te neem.

God se antwoord aan hom lees ons in die teksvers: God se genade sal vir hom genoeg wees. Juis omdat Paulus swak was, sou hy God se krag sien.

Wanneer ons swaarkry en soms moedeloos word, kan ons maar net aan Paulus dink. God se genade en krag sal ons deur moeilike tye dra. Die Here sal altyd by sy kind­ers wees om te help.

 

Dankie, Here, dat ek op u krag kan reken. Laat my op U vertrou wanneer ek swak is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 8 November 2020

Wees ’n staatmaker

“Ek is baie bly dat ek in elke opsig op julle kan reken”

(2 Korintiërs 7:16)

Dit is altyd goed wanneer jy op iemand kan staatmaak. As jy vir iemand vra om vir jou iets te doen, en daardie persoon voer jou opdrag uit, maak dit jou baie gelukkig. Iemand op wie jy kan reken is ’n betroubare en verantwoordelike mens.

Paulus was baie bly toe hy gehoor het hoe die mense in Korinte ander bygestaan en gehelp het. Hy het geweet God woon in hul harte, en daarom sal hulle die regte dinge doen en getrou wees.

Ons moet ook so lewe dat ander mense op ons kan reken. Doen elke dag jou werk getrou, wees verantwoordelik en die Here sal jou vergoed. Lewe so dat die Here ook op jou kan staatmaak om sy Woord uit te dra. Vertel vir ander van Jesus, en wat Hy vir jou doen, en vertel ook dat ons altyd op God kan staatmaak om ons te help.

 

Dankie, Here, dat ek op U kan reken. Help my sodat ander mense ook op my kan staat­maak. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 November 2020

God se tyd

“Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het ek jou gehelp”. Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding”
(2 Korintiërs 6:2)

Ons weet almal dat tyd baie belangrik is. Daar is ’n sekere tyd wanneer ons soggens opstaan om betyds by die werk te kom. Kinders moet ook ’n sekere tyd by die skool wees. Die kerk begin ook Sondae op ’n bepaalde tyd.

God bepaal ook vir ons die regte tyd: nou is die tyd vir verlossing. Ook as ons bid en vir God iets vra, beantwoord Hy dit op die regte tyd. Soms wonder ons of God ons hoor as ons bid, want Hy antwoord ons dan nie dadelik nie. Moenie ophou om te bid en te glo nie, op God se tyd sal Hy antwoord.

Die Bybel leer ons dat God se tyd nie ons tyd is nie. Hy weet wanneer en wat ons nodig het. Hy weet wat die beste vir ons is, en Hy sal ons gebede altyd op die regte tyd verhoor.

 

Here Jesus, dankie dat U in beheer is van my lewe. Dankie dat U op die regte tyd vir my gee wat ek nodig het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.