Dagstukkies met CLF 6 November 2020

Nuwe mense

“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens.

Die oue is verby, die nuwe het gekom”(2 Korintiërs 5:17)

Elke mens wat gebore word, is vol sonde. Dit is in ons aard om ons eie pad te gaan. Die Bybel leer ons dat dit vanaf Adam se tyd so was. Wanneer ’n kind opgroei en groot word, kry hy of sy een of ander tyd met die Here te doen. Ouers vertel hulle van Jesus, of hulle leer by die skool of Sondagskool van die Here.

As mense in die Here Jesus glo en Hom aanneem as hul Verlosser, word hulle nuwe mense. Dit is asof hulle weer gebore word. Hulle is nou kinders van God. Hulle los die sonde en leef vir Christus.

Is jy al ’n kind van God? As jou antwoord ja is, is jy ’n nuwe mens. Ongelukkig kry nie alle mense op aarde die geleentheid om God se kinders te wees nie. Ander wil dit nie glo nie. Dit is net genade van die Here as ons deur Hom geroep word.

 

Dankie, Here, dat ek ’n nuwe mens kan wees. Dankie dat U ook vir my sondes gesterf het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 November 2020

Jou keuse

“Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Korintiërs 5:10)

Elke mens op aarde moet die een of ander tyd sterf. Niemand op aarde kan vir altyd leef nie. Vandag leer ons dat elke mens voor God se regterstoel sal staan om beoordeel te word oor hoe hy of sy op aarde geleef het. Dié wat volgens God se wil gelewe het, sal beloon word, maar dié wat God se verlossing geïgnoreer het, sal vir ewig sonder God wees.

Wat sal jy kies? Die goeie pad of die verkeerde een? Dis nie ’n moeilike keuse nie. Ons wil elkeen graag nadat ons gesterf het vir ewig in die hemel by God wees. Daar­om moet ek en jy elke dag so aan God vashou dat ons nie bang hoef te wees vir sy oordeel nie.

 

Dierbare Here, help my om elke dag U wil op aarde te doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds

Dagstukkies met CLF 4 November 2020

n Geskenk van God

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly”

(2 Korintiërs 4:17)

Om ’n mens te wees, is nie altyd maklik nie. Van geboorte af tot volwassenheid is daar maar altyd swaarkry en probleme. Daar is baie soorte siektes en ongelukke wat ’n mens tref. Ook wanneer ons groot is, moet ons hard werk om aan die lewe te bly. Dit is soms baie warm of baie koud, maar ons moet uithou om te kan oorleef.

Ons teksvers sê dat hierdie swaarkry nie vir altyd sal wees nie. As ons volgens God se wil lewe, sal ons eendag die heerlikheid in die hemel ontvang. Ons menslike verstand is te klein om te verstaan wat God in die hemel vir ons sal gee, maar ons kan weet dat die hemel vol vrede en vreugde sal wees. Dit sal ook vir ewig en vir altyd wees. Wat ’n wonderlike vooruitsig!

 

Wonderlike Here, help my om my oë te hou op die heerlikheid van die toekoms. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds

Dagstukkies met CLF 3 Desember 2020

Ware rykdom

“As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees” (1 Timoteus 6:8)

In hierdie wêreld van ons is daar baie ryk mense. Hulle kan koop net wat hulle wil hê, hulle kan vakansie gaan hou waar hulle wil, en kan die lewe geniet. Vir ons wat nie baie het nie, lyk dit so lekker.

In vandag se woord waarsku Paulus vir Timoteus (en vir ons) dat rykdom op aarde niks beteken nie. Die Bybel leer vir ons dat daar mense is wat geld najaag en dan van die geloof afdwaal. Sulke geldgierige mense maak op hul rykdom staat en dink hulle het God nie nodig nie. Met hul geld kan hulle alles regmaak.

Maar dit is nie waar nie. Sonder God in ons lewe is ons baie arm. Geld kan nie vir ons ’n plek in die hemel koop nie. Alles wat ons besit, kom van die Here af. Hy sorg dat sy kinders elke dag genoeg het.

Daarom moet ek en jy, al is ons nie ryk nie, tevrede wees met wat ons het. Ons rykdom is by God in die hemel.

 

Vergewe my, Here, as ek aardse rykdom begeer en vergeet hoe ryk ek is in U. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 3 November 2020

Oop deure

“Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak” (2 Korintiërs 2:12)

Ons weet almal dat ’n mens nie sommer by ’n toe deur kan ingaan nie. As die deur nog boonop gesluit is, is dit onmoontlik om in te gaan.

Paulus skryf dat toe hy in Troas gekom het om die evangelie te verkondig, die Here vir hom die deure wyd oopgemaak het. Dit beteken dat God hom gehelp het om die Woord te verkondig in nuwe gebiede. God het dit vir hom maklik gemaak. Hoekom het God dit dan vir hom maklik gemaak? Omdat God geweet het dat Paulus God se Woord aan ander wou bring.

Wanneer ons vandag ook vir God wil werk, en ons bedoelings is opreg, sal die Here ons ook help en ons pad gelyk maak. Die Here belowe in sy Woord dat Hy ons sal bystaan as ons bereid is om vir Hom te werk.

 

Dankie, Here, vir die baie deure wat U oopgemaak het in my lewe. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 1 November 2020

’n Helpende Hand

“In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig” (2 Korintiërs 1:4)

Vandag begin ons met die tweede brief wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het. Ons weet nou al dat die werk van Paulus nie maklik was nie. Daarom skryf hy dat die Here hom in elke moeilikheid gehelp het. So kon hy ook weer ander help wat probleme het.

Wanneer ons kinders van die Here is, weet ons dat Hy elke dag vir ons sorg. Daar­voor is ons dankbaar, en dan help ons ook graag ander mense wat probleme het. God gee vir jou en my die gawe om ander se nood te kan raaksien. Ons kan mense moed inpraat en vir hulle vertel hoe groot en goed God is. As ons vir hulle bid, sal God hoor, en self hul probleme oplos. Dit is die rede waarom
ek hierdie boekie skryf – omdat ek ander se nood raakgesien het.

 

Dankie dat U ook vir my gebruik, Here, om ander te kan help. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 31 Oktober 2020

Bly vol moed

“Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie” (1 Korintiërs 15:58)

Hier, in die laaste deel van die brief aan die Korintiërs, skryf Paulus aan die mense om hulle moed in te praat. Hy vra dat hulle sterk moet wees, by hulle beginsels moet bly en die werk van die Here met blydskap moet doen. Indien hulle dit kan regkry, was hulle harde werk nie verniet nie. God sien dit raak en sal hulle daarvoor seën.

Baie keer voel dit vir ons dat die werk wat ons vir God hier op aarde doen nie waardeer word nie. Ons stel die voorbeeld, en vertel vir ander van die Here, maar ons sien nie hoe God se koninkryk uitbrei nie.

Daaroor hoef ek en jy nie bekommerd te wees nie. Ons moet net aanhou werk, God self sal mense na Hom toe bring en sy koninkryk op aarde laat groei. Moet net nooit moed verloor nie, die Here sal help.

 

Vandag wil ek bid, Here, soos dit in die Onse Vader staan: Laat u koninkryk kom. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 30 Oktober 2020

Die waarskuwing

“Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande” (1 Korintiërs 15:34)

Gedurende ’n mens se lewe word ons baie keer gewaarsku oor dinge wat ons nie moet doen of probeer nie. Ouers waarsku hulle kinders oor die gevare van die lewe, soos: moenie in ’n dam ingaan as jy nie kan swem nie, oppas vir slegte maats, en bly weg van dwelms en drank. Ook as jy jou eerste motor kry, word jy gemaan om versigtig te bestuur.

Vandag lees ons ook hoe Paulus die Korintiërs
waarsku om op te hou met sonde doen. Hy sê ook dat mense wat God nie ken nie, verlore sal gaan. Ek en jy moet elke dag meer van God probeer leer, sodat ons kan weet wat sonde is. Dan sal ons weet hoe om te lewe soos God dit wil hê. Ook het ons dan die versekering dat ons die ewige lewe sal kry.

 

Dierbare Here, dankie dat U ook vir my waarsku. Help my om nie meer sonde te doen nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 29 Oktober 2020

Die belangrikste

“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het, en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte” (1 Korintiërs 15:3)

Wanneer ’n mens al die briewe wat Paulus geskryf het, lees en daaroor nadink, is dit meer as ’n mondvol. Dit lyk so moeilik en onmoontlik om alles te verstaan en te onthou. Om alles wat daar geskryf is regtig baas te raak, sal jare se Bybelstudie daaroor neem.

Gelukkig som Paulus dit vir ons mooi kort op in ons teksvers van vandag. As ek en jy glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het, het ons die belangrikste uit al Paulus se briewe gekry. Ons moet nie oorweldig raak deur al die baie waarhede nie. En dít is eintlik ook die boodskap wat ons deur die hele Bybel kry.

Ons is baie bevoorreg om te kan verstaan dat God ons so liefhet dat Hy sy Seun Jesus gestuur het om vir ons sondes te betaal.

 

Dankie, Here Jesus, dat ek die belangrikste van u boodskap verstaan. Dankie ook vir die mense wat die Bybel geskryf het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 28 Oktober 2020

Ons groei

“Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind”
(1 Korintiërs 13:11)

1 Korintiërs 13 is so vol mooi gedagtes, mens wil net aanhou om daaroor te skryf. In vandag se teks gebruik Paulus die beeld van die groei van ’n kind totdat hy ’n grootmens word. Soos ’n gesonde kindjie altyd groei, so moet ons ook groei in ons geestelike lewe. Toe ons klein was, het ons ouers vir ons uit die Kinderbybel stories gelees. Ons kon toe nog net daardie stories verstaan. Later, toe ons groter was, het ons ’n regte Bybel gekry om te lees. Wanneer ons Bybelstudie doen, en meer uit die Bybel leer, groei ons geestelik en verstaan ons God se boodskap al beter.

Doen moeite om al meer van God te leer. Daar is vandag baie leesstof te kry wat jou sal help. Daardeur kom ons ook agter hoe groot God se liefde vir ons is.

 

Dankie, Here, dat U my eerste liefgehad het. Help my om al nader na U toe te groei. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.