Dagstukkies met CLF 27 Oktober 2020

Hoe lyk jou liefde

“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie” (1 Korintiërs 13:4)

Soms as ons oor onsself dink, lyk dit of ons glad nie te slegte mense is nie. Maar wat sê ander mense van ons? Ander dink dalk nie so nie. Maar eintlik moet ons onsself meet aan die eise van die liefde soos ons teksvers dit beskryf. Eers dan kan ons tevrede wees.

Ons is sondige mense en daarom tree ons baie keer nie op soos liefdevolle Christene nie. Werkgewers is soms ongeduldig met hul werknemers as hulle nie gou en goed genoeg ’n taak voltooi nie. Ons is ook onvriendelik teenoor ander. Ons is ook baie keer afgunstig teenoor ’n vriend of maat wat beter presteer as onsself.

Kom ek en jy wys vir die mense rondom ons dat ons ware kinders van God is, en dat ons liefde kan gee soos ons hier in die Bybel lees.

 

Here, U is liefde. Leer my om ook soos U te kan liefhê.  Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 26 Oktober 2020

Wat is liefde?

“Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar het geen liefde nie, dan is ek niks” (1 Korintiërs 13:2)

In die wêreld word so baie van liefde gepraat, maar as ons liefde by mense begin soek, kry ons min daarvan. As ons in die koerante lees en televisie kyk na al die geweld en bedrog in die wêreld kom ons agter dat daar min liefde op aarde bestaan. Hier beskryf Paulus vir ons wat liefde regtig is. Ons kan baie goeie en slim mense wees, en ons kan selfs vir God werk, maar as ons nie liefde het nie, is ons niks.

Ons wat die Here ken, kan by Hom leer wat liefde is, en moet ons probeer om meer van daardie liefde aan ander te gee. Deur ons optrede sal ander mense sien wat liefde is. Hopelik sal hulle ons voorbeeld volg, sodat al meer mense sal besef dat hulle sonder liefde niks is nie. Lees gerus die hele hoofstuk 13 van 1 Korintiërs.

 

Here, help my om meer liefde aan ander te bewys. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 25 Oktober 2020

Alles tot eer van God

“Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen,

doen alles tot eer van God”(1 Korintiërs 10:31)

Jongmense en kinders vra baie vrae. Dit is ook reg so, want so leer hulle wat reg en verkeerd is.

Toe ek nog ’n kind was en Sondae Sondagskool te gegaan het, het ons ook baie vrae oor die Bybel en die Here gevra. Op ’n dag het een van my maats aan die onder­wy­seres gevra hoe weet ons as kinders wat reg of verkeerd is. Haar antwoord het vir my so baie beteken dat ek dit tot vandag toe onthou. Sy het gesê dat as ons die Here saam met ons kan neem as ons iets doen, is dit reg. Wanneer ons egter iets doen waar ons die Here nie by wil hê nie, is dit verkeerd.

Vir alles wat jy doen, vra jouself af of Jesus dit saam met jou kan doen. As jou antwoord ja is, dan doen jy dit tot eer van God. As jou antwoord nee is, los dan liewer die dinge waarmee jy besig is.

 

Dankie, Here, dat U altyd by my kan wees, wat ek ook al doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 24 November 2020

Die waarheid

“Ek beklemtoon dit sodat niemand julle met valse redenasies mislei nie” (Kolossense 2:4)

Die afgelope tyd was ons besig met briewe wat Paulus aan verskillende gemeentes geskryf het. Die groot probleem in al daardie gemeentes was dat daar mense was wat verkeerde dinge aan die mense verkondig het. Sulke mense word dwaalleraars genoem. Hulle het die mense deurmekaar gemaak sodat hulle later begin twyfel het oor wat om te glo.

Vandag is daar nog sulke dwaalleraars. Hulle kom met baie slim stories wat mense laat twyfel. Dit is maar net nog ’n manier hoe die duiwel werk om God se kinders weg van die Here af te kry.

Ek en jy moet altyd getrou aan God bly. Dit wat ons in die Bybel lees, is die waar­heid, en daar is niks anders wat ons na die Here toe lei nie. Jesus het self gesê dat ons Hom net moet glo – soos kindertjies.

 

Dankie, Here, dat U my geleer het dat u Woord, die Bybel, die waarheid is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 24 Oktober 2020

Kies jou vriende

“In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie”(1 Korintiërs 5:9)

Ons wil almal graag vriende hê. Dit is nie lekker om geen vriende te hê nie. Om eensaam te wees, is baie swaar. Maar elkeen van ons kan kies wie ons vriende sal wees. As ek sou kies, sal ek mense kies wat my sal ondersteun en sal help wanneer ek in die nood is.

Die Bybel leer ons vandag dat ons net goeie mense moet kies as ons vriende. Ons moet mense kies wat God se kinders is, en wat nie in onsedelikheid leef nie. Onsedelike mense is hulle wat geen respek vir die huwelik het nie, wat geldgierig is, afgodsdienaars, kwaadpraters, dronkaards en bedrieërs.

Daar is ’n spreekwoord wat sê dat jy aan jou vriende geken word. As jy met slegte vriende omgaan, sal mense dink jy is ook sleg. Onthou, kies jou vriende wat ook vir God gekies het.

 

Liewe Heer, gee my die wysheid om die regte vriende te kies. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 Oktober 2020

Jy is ’n bestuurder

“Van ’n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar

moet wees” (1 Korintiërs 4:2)

Dit is ’n goeie eienskap as mense van jou praat as ’n betroubare persoon. ’n Betroubare mens is iemand wat sy beloftes nakom en doen wat hy sê. ’n Bestuurder is iemand wat iemand anders se onderneming bestuur. Wanneer jy vir ’n werkgewer of bestuurder werk, wil jy ook graag hê dat daardie persoon betroubaar moet wees. Indien jy ook ’n betroubare mens is, sal julle goed saamwerk.

Paulus skryf dat ek en jy ook bestuurders is van God se koninkryk. Ons het al so baie van God geleer, ons ken vir Jesus en weet van sy verlossingswerk. Dit is asof die Here ons vertrou om sy werk op aarde te bestuur. Ons moet elke dag dink en planne maak om God se boodskap aan ander oor te dra. Daarom wil God hê dat ons betroubare bestuurders van sy werk moet wees. Mens moet kan sien dat dit wat ons van God vertel betroubaar is. Bewys ook aan jou vriende dat jy ’n betroubare werker vir God se Koninkryk is.

 

Here, help my om ’n betroubare werker vir U te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 Oktober 2020

Sê dankie

“God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here”

(1 Korintiërs 1:9)

Ons kom nou by die volgende brief in die Bybel, aan die Korintiërs. Paulus het self hierdie gemeente in Korinte begin, en van die briewe wat hy aan hulle geskryf het, is twee in die Bybel opgeneem.

Aan die begin van sy brief sê hy dankie aan God vir sy genade wat Hy aan mense bewys. Paulus sê ook dankie dat die Korintiërs God se boodskap aanvaar het en dat hulle tot die einde toe sal vas staan in hul geloof.

Hoeveel keer sê ek en jy vir God dankie vir wat Hy vir ander mense doen? Ons bid so baie net vir onsself, en ons vra so baie dat God vir ons moet seën en help. Dan vergeet ons soms om vir God ook dankie te sê vir sy seën aan ander. Ons behoort almal aan God, en God is goed vir al sy kinders, daarom moet ek en jy ook vir God dankie sê vir dit wat Hy vir ander doen.

 

Dankie, liewe Heer, dat U vir al u kinders op aarde sorg. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 Oktober 2020

Arm gemeentes

“Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar”(Romeine 15:25)

Almal van ons weet dat daar baie arm mense in die wêreld is. In baie lande is daar hongersnood, en daardie lande het nie geld om kos vir die mense te voorsien nie.

Hier in Romeine skryf Paulus van die mense in Jerusalem wat arm is. Hulle het swaar gekry onder droogtes, misoeste, en ander probleme. Die gemeentes waar dit beter gegaan het, het geld bymekaar gemaak, en vir Paulus gevra om dit na die gelowiges in Jerusalem te neem. Dit is deel van die kerk se werk.

Ons gee so maklik geld uit op onnodige dinge. Dit is ons plig om vir God se werk ook geld te gee. Ons ontvang so baie van die Here, en daarom moet ons uit dankbaar­heid ons deel doen dat ander ook kan lewe. Probeer om altyd iets af te knyp vir die saak van die Here.

 

Vader in die hemel, dankie dat U vir my sorg. Laat my ook vir u werk bydra. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 November 2020

Werk vir die Here

“Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie” (Efesiërs 6:7)

Dit is seker elke mens se droom om sy eie besigheid te hê. Elkeen wil graag sy eie besluite neem en maak soos hy goed dink. Ongelukkig kan ons nie almal eienaars van ’n besigheid wees nie. Daar moet werknemers of arbeiders wees wat die werk vir ander moet doen. Dit is geen skande om ’n arbeider te wees nie. Dit is eerbaar om te werk, solank jy getrou en verantwoordelik is.

In die Bybelse tyd was daar slawe wat die werk gedoen het. Hulle was nie vry mense nie, maar die werk wat hulle gedoen het, was ook maar soos dié van vandag se werkers.

Ons teksvers sê dat jy jou werk goed moet doen, asof jy dit vir die Here doen. Dit maak nie saak hoe onbelangrik jou werk lyk nie, doen dit asof jy vir die Here werk. Hy sien dit raak, en sal jou ’n gelukkige werker maak.

 

Here, dankie dat ek ’n werk het. Help my om vir U te werk, en nie om deur mense gesien te word nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 Oktober 2020

Wees trots

“In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig”

(Romeine 15:17)

Elke mens voel trots wanneer hy of sy iets moois of goeds gedoen het. As jy miskien op ’n plaas werk, en daar is ’n mooi oes op die lande, is jy saam met al die werkers en eienaar trots op julle harde werk.

’n Ma is altyd trots as sy haar kinders mooi versorg en hulle goed grootmaak. Indien jy nog op skool is, sal jy met die eindeksamen baie trots voel as jy goeie punte behaal het.

Paulus skryf dat hy ook baie trots was op die werk wat hy vir God kon doen. Al doen jy elke dag net ’n klein ietsie vir God se koninkryk, kan jy baie gelukkig en trots voel. God verwag nie dat ons almal predikante en sendelinge moet wees nie. Hy sien elke klein bietjie wat jy vir Hom op aarde doen raak, en is op jou trots. Ons almal wat vir God werk, kan opreg trots op jou wees, want ons werk vir die grootste Koning.

 

Here, ek is baie trots omdat ek vir U kan werk. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.