Dagstukkies met CLF 18 Oktober 2020

Aanvaar mekaar

“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God” (Romeine 15:7)

Nie twee mense op aarde is dieselfde nie. Almal verskil van mekaar. Elkeen lyk anders, doen dinge anders en dink ook anders. Die wêreld sou maar eentonig gewees het as ons almal dieselfde was.

God het elke mens gemaak, en Hy het ons verskillend gemaak met ’n goeie rede. Ons is verskillend sodat ons mekaar kan aanvul. Ons het mekaar nodig, en daarom moet ons mekaar aanvaar, soos dit in vandag se teksvers staan. Niemand is volmaak nie, daarom moet ons mekaar verdra met foute en al. Ons is geneig om sleg te praat van ander mense wat nie soos ons optree nie. Ja, ons veroordeel so maklik ander se doen en late.

Jesus is vir ons die voorbeeld. Hy aanvaar ons almal met al ons foute. Wanneer ons bely dat Hy die Christus is, en om vergifnis vra vir ons sondes, neem Hy ons onvoor­waardelik aan. Kom ek en jy aanvaar ander mense soos Jesus vir ons aanvaar.

 

Dierbare Here, leer my om alle mense te aanvaar soos U my aanvaar. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 17 Oktober 2020

Hoe lewe jy?

“Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee”

(Romeine 14:12)

Elke mens het die reg om te lewe soos hy of sy wil. Ons kan elkeen self besluit watter werk ons wil doen. Ons kan ook besluit waar ons wil woon en wat ons wil aantrek. Deur ons lewe is daar elke dag keuses wat ons moet maak.

Die grootste keuse of besluit wat ons moet maak is of ons die Here gaan dien of nie. Omdat ons nou al so baie van God geleer het, kan ons eintlik nie anders as om Hom te kies nie. God is so groot en doen so baie vir ons. Ons moet weet dat die lewe sonder Hom, om nie te praat van die ewigheid nie, hopeloos is.

In ons teksvers staan dat elke mens oor homself aan God moet rekenskap gee. As jy aan God behoort, hoef jy nie bang te wees om eendag voor Hom te staan nie. God ken jou en weet jy is sy kind. Hy sal jou innooi in sy koninkryk.

 

Help my, Here, om so te lewe dat ek nie hoef bang te wees om aan U rekenskap te gee nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 16 Oktober 2020

Wees lief vir almal

“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet”
(Romeine 13:10)

Paulus skryf hier aan die Romeine en sê dat as ons ons medemens liefhet, dan kom ons die hele wet van God na. In Eksodus 20 lees ons van God se wette wat Hy vir ons as mense voorgeskryf het. As ons God en mekaar liefhet, dan kom ons al daardie gebooie na. Dan sal ons nie ’n ander se goed steel nie, ons sal ook nie moord pleeg nie, ons sal nie egbreuk pleeg nie, en ook nie ’n ander se goed begeer nie.

Dink net hoe vreedsaam dit hier op aarde sal wees as almal mekaar sal liefhê. Dit is nie so maklik om vir alle mense lief te wees nie, maar dit is tog wat God van ons vra. Liefde is meer as om van iemand te hou. God het in Jesus vir ons gewys wat ware liefde is. Hier op aarde is dit maar moeilik, maar in die hemel sal daar net vrede en liefde wees. Die Here belowe ons dit, en Hy sal ons ook hiermee help.

 

Vergewe my, Here, as daar mense is vir wie ek nog nie opreg liefhet nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 15 Oktober 2020

Die regering

“Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God”  (Romeine 13:1)

Alle lande in die wêreld het ’n regering. Die mense wat in die land woon, kies die rege­ring wat die land se wette moet maak en sorg dat alles goed verloop. Sonder ’n regering en wette sal ’n land ondergaan en alles sal verkeerd loop.

Ons lees hier dat dit God is wat dit so reël dat daar gesag en regerings moet wees. Daarom moet ons ons land se wette gehoorsaam en saamwerk, sodat almal gelukkige mense kan wees. Ons moet ook ons belasting betaal, sodat die regering geld kan hê om die land te bestuur.

Baie mense wil nie die land se groot en klein wette gehoorsaam nie. Dan maak hulle dit vir ons almal moeilik, maar hulleself kry ook probleme en hulle word gestraf. Ons moet die wette gehoorsaam, maar ons moet ook bid vir die regering, want hulle doen ook nie altyd die regte dinge nie. As ons vir hulle bid, sal God die oplossing gee.

 

Here, gee wysheid aan ons regering, en help ons om elke dag vir hulle te bid. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 14 Oktober 2020

Wees opgewonde

“Moenie in jul toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here” (Romeine 12:11)

Nog een van Paulus se riglyne hoe om ’n goeie Christen te wees, kry ons in vandag se teksvers. Hy skryf dat ons nie moet verveeld raak met ons godsdiens nie. Ons moet altyd met groot opgewondenheid die Here dien. Elke dag moet ons daarna uitsien om met die Here te praat en om die Bybel te lees. Ons moet ook gereeld met ons vriende oor God se goedheid praat.

Wanneer ons as mense iets nuuts aanpak, is ons vuur en vlam met die nuwe uitdaging. Soms raak ons gou verveeld daarmee, en ons belangstelling neem af. Die Bybel waarsku ons dat ons nie lou Christene nie, maar vuurwarm vir God moet wees.

As jy ooit weer moeg of verveeld raak oor jou Christenskap, gaan op jou knieë, en vra die Heilige Gees om jou weer opnuut opgewonde te maak.

 

Heilige Gees van God, help my om met oorgawe vir U te leef. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 Oktober 2020

Hoe leef ’n Christen?

“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Wees goedgesind teenoor alle mense”

(Romeine 12:17)

Al is ons kinders van die Here, is daar so baie wat ons nog oor Christenskap wil weet. Een van die vrae is: hoe moet ek en jy leef om ware kinders van God te wees? In Romeine 12 vanaf vers 9 tot 21 gee Paulus vir ons die riglyne vir die Christelike lewe. Dit is so ’n mooi gedeelte dat jy dit gerus in jou Bybel kan onderstreep.

Een van die riglyne is om nie vir iemand kwaad te wees as jy kwaad aangedoen is nie. Dit is nie so maklik nie, maar die Here verwag dit van ons. Ons moet mekaar verge­we, en goed wees vir alle mense. Onthou net, die Here ken elkeen se hart en Hyself sal oordeel oor die mense wat jou kwaad aandoen.

As iemand jou weer beledig of kwaad aandoen, dink aan hierdie gedeelte in die Bybel, wees die minste, en die Here sal trots wees op ’n kind soos jy.

 

Help my, Here, om vir alle mense te wys dat ek aan U behoort. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 Oktober 2020

Altyd God se kind

“As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie” (Romeine 11:29)

Gister het ons gelees dat God ons uitverkies het om sy kinders te wees. Vandag kry ons die verdere versekering dat as ons eenmaal sy kind is, ons altyd sy kinders sal wees. Soms, wanneer ons sondig, is ons agterna bekommerd of God ons nog sal liefhê. Ja, God sal altyd vir ons lief wees. Hy weet dat ons net mense is met baie swakhede. Hy het ons mos self gemaak en ken ons hele wese.

Ons kan dit vergelyk met ’n pa wat ook kinders het. Kinders doen baie kwaad en is ook soms stout, maar hulle bly nog sy kinders. ’n Aardse pa leer sy kinders reg en gee hulle soms ’n pak slae, maar hy bly lief vir hulle.

Nou kan ons vir seker weet dat ons vir ewig sy kinders sal wees.

 

Here, ek wil so graag vir altyd u kind bly. Vergewe my as ek u teleurstel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 11 Oktober 2020

Jy is uitverkies

“Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is” (Romeine 11:5)

Ons lees op baie plekke in die Bybel dat God self sy  kinders kies. Hy is so liefdevol dat Hy mense aanneem om sy kinders te wees. Niemand kan uit sy eie krag ’n kind van God word nie. Al is jy die rykste of slimste of mooiste mens, sonder God se genade sal jy nooit sy kind kan word nie.

Dit is nie so maklik om die uitverkiesing te verstaan nie. Ons sal nooit verstaan hoe God dinge doen nie. Laat dit jou gerusstel: reeds omdat jy nou hierdie stukkie lees, kan jy weet dat God jou uitverkies het. Jy sal nie in die Here se Woord belangstel as Hy jou nie deur genade uitverkies het nie. Wees elke dag dankbaar en prys die Here omdat Hy jou as sy kind aangeneem het.

 

Grote Here, ek kan nie vir U genoeg dankie sê omdat U vir my as sondige mens aange­neem het nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 Oktober 2020

Wie word gered?

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Romeine 10:9)

Baie mense wil graag weet wat hulle moet doen om eendag in die hemel te kan kom. In die eerste plek moet ’n mens die behoefte hê na die ewige lewe. As jy wel daardie behoefte het, en jy soek na die antwoord, sal die Here jou help om sekerheid te kry. Wanneer ons antwoorde in die Bybel soek, is daar baie plekke waar ons dit sal kry. Vandag lees ons in ons teksvers ’n eenvoudige antwoord: bely en glo dat Jesus God en Koning is.

Jesus het gesterf aan die kruis sodat alle mense gered kan word. Elke mens moet egter een of ander tyd in sy lewe die geleentheid kry om op God se liefde te antwoord, en om sy of haar hart vir die Here te gee. Dit is die Heilige Gees wat in ons hart werk dat ons positief op sy liefde kan antwoord.

 

Dankie, Here, dat ek kan glo dat Jesus vir my sondes gesterf het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 9 Oktober 2020

Die Heilige Gees help

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Romeine 8:26)

Dit is nie vir alle mense ewe maklik om te bid nie. Sommige mense het die gawe gekry om maklik in die openbaar te bid. Vir ander mense is dit weer moeilik om voor ander mense of in ’n biduur te bid. Soms sukkel ek ook, want ek weet nie of ek my woorde reg kies as ek tot die Here bid nie.

Gelukkig gee Paulus vir ons uitkoms in dit wat hy in vandag se teksvers skryf. Die Heilige Gees wat in ons woon praat in ons plek met God as ons bid. Die Heilige Gees weet presies wat ons vir God wil sê, en dan doen Hy die praatwerk, en God verstaan. As jy weer sukkel om te bid, weet net dat die Heilige Gees jou sal help.

 

Dankie Here, dat die Heilige Gees my help as ek met U praat. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.