Dagstukkies Met CLF 17 Februarie 2020

Die Here help

“Hulp kom net van die Here af”

(Psalm 3:9)

Hierdie Psalm word ook ’n Psalm van Dawid genoem. Hy het van sy seun Absalom gevlug. Absalom wou in Dawid se plek koning word, en hy wou sy pa doodmaak. Dawid het geweet dat dit net God is wat hom kan help en beskerm. Hy sê in hierdie Psalm dat as hy na God roep, antwoord God hom. Ook as hy gaan lê, slaap hy goed, want die Here beskerm hom.

So baie keer in ons lewens voel ons bang en onveilig. Party mense voel selfs nie in hulle eie huise veilig nie. Rondom ons is daar so baie misdaad en geweld. Dit maak ons bang. Wanneer ons so benoud voel, kan ons maar net Dawid se voorbeeld volg. Roep na God om hulp; Hy sal ons help en veilig hou. God is getrou en sal sy kinders beskerm.

Here, dankie dat U my hoor as ek na U roep. Beskerm my asseblief as ek onveilig voel. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies Met CLF 16 Februarie 2020

Leiers van die wêreld

“Julle moet die Here met ontsag dien…”

(Psalm 2:11)

Hierdie Psalm herinner die konings daaraan dat hulle God met ontsag en respek moet dien. Elke mens wat oor ander aangestel is, en wat gesag moet handhaaf, is deur God self aangestel. As hulle dan regeer soos die Here dit wil hê, sal dit goed gaan met hulle volk. ’n Goeie koning is een wat gehoorsaam is aan die Here.

Ook in vandag se tye word leiers deur God aangestel. God verwag dat hulle aan Hom onderdanig moet wees, sodat dit met almal sal goed gaan.

Ons moet elke dag vir ons leiers bid, dat God vir hulle wysheid sal gee om te regeer. As die wêreld se leiers God se wil doen, sal daar vrede wees.

 

Hemelse Vader, gee aan elke leier in hierdie wêreld wysheid om U wil te doen. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies Met CLF 15 Februarie 2020

Regverdiges

“Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang”
(Psalm 1:6)

Ons begin nou met die Psalms. Dit is liedere wat oor ’n lang tydperk deur verskillende mense geskryf is. Dawid het ook baie van die Psalms geskryf.

In Psalm 1 word vir ons vertel van regverdige en goddelose mense. Regverdige mense is hulle wat op die Here vertrou, wat aan Hom gehoorsaam is. Goddelose mense glo nie in God nie. Hulle leef asof daar geen God is nie.

Die Here sorg vir die regverdiges. Daar word gesê dat die regverdige soos ’n boom is wat by waterstrome geplant is en vrugte dra. Daarteenoor word die goddelose mense vergelyk met die kaf wat in die wind rondgewaai word. Ons weet dat kaf nie veel werd is nie, en al klaar dood is.

Ons het nou ’n keuse om te maak: of ons kies om regverdig te lewe, en God laat ons vrugte dra, of ons kies om goddeloos te wees, en die doel van ons lewe te mis.

 

Dierbare Here, help my asseblief om die regte keuse te maak, sodat U my voorspoedig kan maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies Met CLF 14 Februarie 2020

God sorg vir Sy kinders

“Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste” 

(Job 42:12)

Job en sy drie vriende het in die tyd toe hy so swaar­gekry het, baie gepraat. Hulle het probeer  verduidelik hoekom Job so swaarkry. Dis oor sy sonde,  het hulle gesê. Hy verdien dit. God straf hom. Maar dit het Job nie aanvaar nie.

Partymaal verstaan ons nie hoekom dinge met ons gebeur nie. Ons verstaan nie hoekom God toelaat dat slegte dinge met ons gebeur nie. Dis nie altyd net oor God ons wil straf nie. Daarom was die raad van Job se vriende nie reg nie. Job was baie moede­loos oor die woorde van sy vriende en het gewens dat hy kon sterf.

Toe het die Here self met Job gepraat. Die Here het hom vertel dat Hy alles op aarde gemaak het, en dat daar niemand so almagtig is soos Hy nie. Job besef toe dat God tot alles in staat is, en dat niemand God kan teëgaan nie. Ons verstaan net nie altyd hoekom God dinge doen nie. Maar ons kan God vertrou. Deur dit alles het Job nie gesondig nie. God het hom gesond gemaak en die laaste deel van sy lewe het hy nog meer besittings gehad as voorheen. Soos Job aan God getrou gebly het, so sal God ook vir ons sorg, al gaan dit soms swaar met ons.

Vader in die Hemel, help my om altyd aan U getrou te bly. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies Met CLF 13 Februarie 2020

God se genade

“Dit is Hy wat wonde toedien, maar Hy verbind hulle weer” (Job 5:18)

Nadat Job deur al die rampe getref is, het drie van sy vriende daarvan gehoor en na hom toe gegaan. Hulle het hom op die ashoop gekry en het vir sewe dae net by hom gesit en niks gesê nie.

Toe sê een van sy vriende met die naam Elifas dat Job met God moet praat. God is groot en wonderlik en sal vir Job moed gee vir die lewe. Hy sê ook vir Job dat God die smart en seerkry gee, maar Hy maak weer gesond.

So baie keer in ons lewens het ons ook baie pyn en droefheid soos Job. Dan kan ons maar net ons seer na God toe neem, Hy sal sy kinders altyd help en beskerm. As ons swaarkry, sien God dit raak en sal ons help om weer met vreugde die lewe in te gaan.

 

Dankie Here, dat U my so baie liefhet. Dankie dat U my seer raaksien en my wonde verbind. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies Met CLF 12 Februarie 2020

Goeie en slegte dinge kom van God

“As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10)

Nadat Job alles verloor het, selfs ook sy kinders, het die duiwel weer na God gegaan. Hy sê toe vir God dat as Job se liggaam aangetas word, hy sal sondig en God vervloek. God het toe toegelaat dat die duiwel Job met pynlike swere tref. Hy mag net nie Job se lewe neem nie. Job het op ’n ashoop gaan sit en sy swere met ’n potskerf gekrap.

Toe sê Job se opstandige vrou dat hy God moet vervloek, al sou hy dan sterf. Job antwoord haar met die woorde van ons teksvers: ”As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Job het baie swaargekry, maar nogtans het hy nie teen die Here gesondig nie.

Baie kere laat God ook toe dat dit met ons sleg gaan. Daardeur wil God ons toets of ons regtig sy kinders is. Dan moet ons net glo dat God die beste vir ons wil hê en dat ons tevrede moet wees as ons swaarkry.

 

Dierbare Heer, dankie vir al die goeie dinge wat ek van U ontvang. Help my ook om met die slegte dinge tevrede te wees. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies Met CLF 11 Februarie 2020

Job

“Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie” (Job 1:22)

In die Ou Testament lees ons van ’n man met die naam Job. Hy het die Here gedien en van verkeerde dinge weggebly. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad, en was ’n baie ryk man. Op ’n dag het die duiwel vir God uitgedaag en gesê dat Job net so ’n goeie mens is omdat God hom seën. As Job al sy besittings verloor, sou hy nie meer vir God dien nie, het die duiwel gesê.

God gee toe vir die duiwel die mag oor al Job se besittings, maar het hom verbied om aan Job self te raak. Toe word al Job se besittings en diere gesteel en hy verloor alles. Ook al sy kinders sterf. Job het alles verloor. En tog het Job nie vir God daarvoor verwyt nie. Hy het bly glo dat God vir hom sal sorg.

Soms kry ons ook teëspoed in die lewe. Ons verstaan nie die teëspoed nie, maar ons kan bly glo dat God by ons is en in die toekoms vir ons sal sorg.

Here, as dit met my swaar gaan, help my om soos Job op U te vertrou en nie te sondig nie. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

NetWERK-lede kan kwalifiseer vir ‘n gratis buite-uitsending

Die stasie besoek tydens die #KleinSaterdag-uitreike ’n organisasie iewers in sy uitsaaigebied en saai dan regstreeks een van sy dagprogramme daarvandaan uit. Dit is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie (NGO) wat deel is van die 104fm NetWERK wat voordeel trek uit die buite-uitsending. Die radiostasie besoek die organisasie of een van hul begunstigdes en raak deel van die dag tot dag gebeure wat by die onderskeie NGO’s plaasvind. Sodoende ontvang die organisasie broodnodige blootstelling oor die radio sowel as op sosiale media.

Maak dus seker jy raak deel van ons NetWERK en staan die kans om vir ‘n #KleinSaterdag te kwalifiseer ter waarde van minstens R20 000.

Raak hier deel:

Van ons vorige #KleinSaterdae sluit in:

Werkskepping 11 Februarie 2020

WERKVERSKAFFING 11 FEBRUARIE 2020

W E R K V E R S K A F F I N G
D I N S D A G   1 1   F E B R U A R I E   2 0 2 0

Die Werkverskaffingsbulletin word elke Dinsdag om 10:40 uitgesaai op 104fm.

DEELTYDSE ADMIN POS PART-TIME ADMIN JOB
Vereistes: ‘n Vroulike student of jong vrou wat deeltyds kan werk vir ekstra inkomste vir 3 ure per dag. Werk behels sosiale media, e-posse stuur en beantwoord en basiese administrasie vir ‘n klein maatskappy in Gordonsbaai.  Eie vervoer ‘n vereiste en moet stiptelik en netjies wees.

Kontak Lucelle Burger: 061 632 8527

 

VERPLEEGSTER NURSE
Requirements: Arisen Women seeks to employ a Nursing Sister for Community Health Projects.  Proof of registration with Nursing Council, driver’s license and own transport is required.  Commencement date is Wednesday 1 April 2020.

Contact Patricia at: arisenwomen@telkomsa.net

 

TOESIGHOUDSTER SUPERVISOR
Vereistes: Skoonmaakdiens in Kuilsrivier benodig‘n Toesighoudster met eie vervoer en selfoon om so spoedig moontlik diens te aanvaar.  Vorige ondervinding sal as aanbeveling dien.  Salaris is R4500 per maand plus ekstra motor- en petroltoelaag.

Skakel 083 308 6657 om ‘n onderhoud te reël

 

STIKSTERS MACHINIST
Vereistes: Twee poste beskikbaar vir ervare stiksters.

Kontak Lorrein by 072 956 1628

 

SEKRETARESSE SECRETARY
Vereistes: Visagie Vos Prokureurs in Goodwood het ‘n vakature vir ‘n regssekretaresse in hul boedel departement.  Voorkeur sal gegee word aan kandidate met ondervinding in bestorwe boedels, kuratele boedels, testamente en trusts.

 Stuur aansoek na marinda@visagievos.co.za

 

ALGEMENE BESTUURDER GENERAL MANAGER
Requirements: 5 years hotel management experience and accounting up to trial balance.

Send CV to hotels@countrysa.co.za

 

Poste moet asseblief teen Maandae 11:00 gestuur word na reception@104fm.co.za.

 

 

Radio Tygerberg bied ’n gratis platform vir werkgewers om beskikbare poste te adverteer. Ons probeer so ver moontlik verseker dat die werksgeleenthede wat geadverteer word, betroubare inligting deurgee.

Neem kennis dat Radio Tygerberg nie verantwoordelikheid aanvaar vir enige skakeling, onderhandelings of enige ander legitieme sake tussen betrokke partye wat mag voortspruit op hierdie platform nie.

Dagstukkies Met CLF 10 Februarie 2020

Goeie dinge van God

“Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Hulle het hom gegroet en is terug huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het”

(1 Konings 8:66)

 

Nadat Salomo sy gebed tot God gerig het, het hy al die mense van Israel geseën. Hy het gevra dat almal God se gebooie moet gehoorsaam en volgens God se wil moet lewe. Hy het ook gesê dat al die volke van die wêreld dan sal weet dat daar net een God is.

Daarna het hulle vir veertien dae lank fees gevier. Salomo het ook baie offers vir die Here gebring. Ons lees in vers 62 dat hy twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend kleinvee as maaltydoffer vir die Here geoffer het.

Soos die Israeliete baie bly was oor die goeie dinge wat God gegee het, moet ons ook elke dag bly en gelukkig wees oor wat God vir ons gee. As ons stilsit en dink oor al die goeie dinge wat ons van God ontvang, kan ons nie anders as om God daarvoor te dank nie. Die beste manier om vir God dankie te sê, is om ons hele lewe vir God te gee en Hom elke dag te dien.

 

Here Jesus, baie dankie vir al die mooi en goeie dinge wat ek van U ontvang. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.